Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Liriese Bildungsroman vang troebel tydsgees vas

Fiksie

Halley se komeet

Hannes Barnard

WENKBROU, R320

Die Bildungsroman, of die ‘coming-of-age-story’, ingelyf deur Johann Wolfgang von Goethe, Wilhelm Meister’s Apprenticeship in 1795, is immergroen.

Grootword is nie vir sissies nie. Soos Virginia Woolf seg: “Growing up is losing some illusions, in order to acquire others.” Hierdie wisselwerking – tussen illusies wat verlore gaan, en nuwes wat geskep word – kenmerk ons lewens. “We have art in order not to die from the truth,” aldus Nietzsche.

Die kuns van lewe: om te oorleef. En ons oorleef ontluistering en ontnugtering, ironies genoeg, deur vas te klou aan Waarheid. ’n Fundamentele Westerse waarheid is dat pyn, trauma en verlies ons toegang gee tot groei, tot die betekenisvolle bestaan.

Die Bildungsroman is universeel, tydloos en klassiek in dat dit die onskuldige, onervare “ek”, die jeugdige protagonis, se ervaring situeer in ’n konteks wat gewoonlik ’n onuithoudbare opoffering van die individu verwag in ruil daarvoor om “gelukkig” te wees. Ignorance is bliss. Drink die Kool Aid.

Met verandering en groei die twee wagwoorde word die vormingsjare en geestelike opvoeding van die protagonis, gewoonlik manlik, weergegee. Laagtepunte verpletter, hoogtepunte laat die held sweef. Iewers lê die ontwakingsmoment opgesluit, dit wat alles, vir ewig en altyd, sal verander. Karakters word met ontroering vervul, ervaar verskeie tintelinge, word in vervoering gebring, knieë lam en harte wat klop in die keel. Die jin tot die jang is angs, onsekerheid, ambivalensie, vrees. Die held bevraagteken gesag soos sy eie denkwyses onder beleg kom.

Ongeag die reis van die held – en ons dink beslis hier aan Joseph Campbell se klassieke, Jungiaanse The Hero’s Journey – word die held weer geïntegreer in die samelewing. Ontnugter, ouer, wyser. Didaktiese spore moeilik misgekyk. Nes die held moet die leser ook lesse leer en illusies bevestig en instand hou.

Nes die held moet die leser ook lesse leer en illusies bevestig en instand hou.

Halley se komeet, Hannes Barnard se lieflike, liriese Bildungsroman, sy fiksiedebuut, moet gelees word met ’n oor fyn ingestel op die soepel, meesleurende mag van taal, en ’n oog attent op die vasvang van die troebel tydsgees. 1986. Petrus ‘Pete’ de Lange se gesin woon op Dannhauser, Noord-Natalse myndorpie waar Barnard self grootgeword het. Sestien, met hormone wat hoogverraad pleeg, rugbytalent wat die tonge laat klap, en ’n witwarm kys met Renate wat hom gas gee. Sestien is wanneer jy jou liggaam die minste kan vertrou, maar daar is ’n ander soort krisis wat Petrus in die gesig staar: die gewetenskrisis.

Een aand gaan draf hy in ’n streng verbode area, en red iemand uit die kloue van die walglike boosaard Rudie. Hy wat Rudie is, sal verwoesting saai in die lewe van die Hindi-winkeleienaar, Venny, en sy dogter, Sarita, terwyl ’n swart plaaswerker, Petrus, op die toneel verskyn. Wit Pete en swart Piet, en die Indiese Sarita, ontwikkel teen (hul eie) verwagtinge in ’n sonderlinge, helende, lewenskragtige vriendskap, met ’n tragiese uiteinde.

Pete se ouers is gematig, maar Venny is ’n radikale vryheidsvegter wat ’n daadwerklike verskil wil maak. Soos Reney Warrington se Smit Motors word ’n klein dorpie ’n soort mikrokosmos van argetipes en stereotipes wat laag vir laag afgeskilfer word.

Die steen des aanstoots – die hele argitektuur en stelsel van apartheid – word blootgelê as die rots wat daagliks by die berg opgestoot word.

Sondae word die belangrikste dag van die week vir jong Pete. Geen ongeluk, dan, dat Barnard besluit het op die naam van Petrus, van “Petros”, wat klip beteken nie. Waar die sosiaal-ondergeskikte Petrus ’n simboliese klip in die skoen of ’n rots in die pad van Pete kon wees, een moeilik weggerol, word hulle vriendskap oor die kleurgrens een van aanvaarding en vloeibaarheid. Twee rivierklippies wat mekaar glad skuur.

Die steen des aanstoots – die hele argitektuur en stelsel van apartheid – word blootgelê as die rots wat daagliks by die berg opgestoot word. Petrus is vernaam die eerste dissipel wat Jesus geroep het – só word kontak met die goeie Petrus die motoriese moment wat Pete uiteindelik toelaat om sy eie lewe in oënskou te neem.

Barnard sal wenkbroue laat lig met sekere raspejoratiewe, maar die skrywer lewer broodnodige herinneringe aan ’n tydsgreep waar ’n minderheidsregering inderdaad die land en sy mense gevange gehou het – ondanks al die tekens van voorspoed en vooruitgang. Wel dele wat haper: in teenstelling met Pete se stem het Venny s’n my nie heeltemal oortuig nie. Die swart Petrus is ook betreklik onder-ontwikkel.

Die romantiek van die komeet is, klippies ten spyt, ’n skitterende metafoor vir soeke na hoop en wonderwerke, te midde van illusies wat gestroop word. Halley se komeet sal ’n uitstekende voorgeskrewe boek vir hoërskoolleerlinge wees. Mag hierdie roman nie die enigste wees uit Barnard se pen nie.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.