Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Literatore se laaste sê sou P.G. nie geval nie

Dit is ironies dat die grootste gedeelte van dié huldigingsboek oor P.G. du Plessis, wat geen geheim gemaak het van sy renons in letterkundiges nie, deur literatore geskryf is, meen Francois Smith.

P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier – ’n huldiging, saamgestel deur Heilna du Plooy. Uitgewer: Litera Publikasies. Prys: R385.

Elke joernalis wat ooit met P.G. du Plessis te make gehad het, weet hy was die ideale onderhoudsmateriaal. Hy het geweet wat ’n onderhoudvoerder nodig gehad het en het gesorg dat jy dit kry. Heelwat daarvan was onpubliseerbaarhede wat nog lank die ronde sal doen onder diegene wat in sy sleurstroom agtergelaat is, maar dit wat wel gepubliseer kon word, was gevat, snaaks, grotesk, polemies . . . en hoewel nie almal sal saamstem nie, met net die regte dosis ironie sodat jy hom sy windmakerigheid onmiddellik vergewe het. Hy was erg brêggerig, dié P.G., maar op die mees sjarmante manier.

Die lekkerste deel van hierdie huldiging is dan ook die onderhoud wat Heilna du Plooy kort voor sy dood met hom gevoer het op sy plaas, Sèmoér. Die versoeking is groot om lang stukke daaruit aan te haal, want jy hóór hom daarin praat – soos wanneer Heilna hom vra om iets oor sy lewe te vertel en hy wegtrek met: “My herkoms is baie kosjer . . .” Later sê hy oor sy studentelewe: “Maar ek was vreeslik vryerig. Ek kon vroumense nie uitlos nie, hulle was vir my so mooi. Ek het ’n keer vir André Brink gesê ek en hy is so omdat ons so konserwatief grootgemaak is.”

...hy het nie ’n geheim gemaak van sy renons in letterkundiges en resensente nie.

Natuurlik is hy in hierdie onderhoud baie diepsinniger as wat hierdie aanhalings laat blyk, maar altyd vermaaklik, altyd toeganklik vir die gewone leser. Dit is nogal ’n draad deur hierdie bundel – eerder ’n rooie as ’n goue – hierdie spanning tussen diepgang en toeganklikheid. Populêre aanhang het hy genoeg gehad, maar hy het hom soms erg sorge gemaak oor wat hy ervaar het as ’n stief behandeling deur die literêre establishment. Het die feit dat hy ook ’n openbare figuur was, ’n rol gespeel? Saam met Jan Spies op die TV-program Spies en Plessie was hy meer vermaaklikheidster as intellektueel. Trouens, my herinnering daaraan was dat sy grootste bydrae was om te lag dat die trane loop.

Die akademikus Karen de Wet krap ook hieroor kop. In twee lang akademiese artikels probeer sy redes vind waarom Du Plessis se drama ’n Seder val in Waterkloof in 1975 die Staatsteater uit sy nate laat bars het, maar nie veel meer as ’n moedelose sug by literatore ontlok het nie. Ditto Vereeniging, Vereniging (in 1984 op die planke), en moenie eens praat van sy eerste Engelse roman, A Married Man’s Guide To Adultery (1998), nie.

Hiervan het P.G. nie gehou nie, en hy het nie ’n geheim gemaak van sy renons in letterkundiges en resensente nie. Dit is daarom ’n taamlike ironie dat die grootste gedeelte van hierdie bundel deur literatore geskryf is. En vir literatore geskryf, moet ’n mens dadelik bysê, want dit gaan in hierdie bundel erg akademikaans daaraan toe. Sou P.G. daarmee vrede gehad het? Ek twyfel.

Die uitsondering is ’n korrespondensie tussen P.G. en die letterkundige Elize Botha, wat geneem is uit laasgenoemde se versamelde korrespondensie Gespreksgenoot: ’n Brieweboek (2017). Dit is ’n egte intellektuele skermutseling waarin Botha haar stilisties as die geroemde skrywer se gelyke bewys. Werklik opwindend. Dit gaan hierin oor Du Plessis se kortkuns, wat van sy heel beste skryfkuns is. Ja, daar is daardie reus van ’n boek, Fees van die ongenooides (2011). En Siener in die suburbs (1971) sal altyd met ons wees. Daar is Koöperasiestories. Maar daardie kort stories van hom moet nie vlak gekyk word nie.

En daar is tog meer in hierdie bundel wat die gewone leser sal behaag. Hans du Plessis lewer ’n gevoelvolle, woordgevoelige huldeblyk as vriend, en hoewel Marida Swanepoel se adjektiewe (briljant, geniaal, geniaal!) selfs vir P.G. ongemaklik sou laat rondskuif, is haar artikel oor sy TV-werk ’n heel boeiende kykie agter die skerms.

Ten slotte is daar ’n uittreksel uit ’n onvoltooide manuskrip wat baie aan Fees herinner – dieselfde byna oordonderende verteller, weer die Anglo-Boereoorlog. Maar ongetwyfeld die sonderlinge skrywerstem van P.G. du Plessis.

  • Dr. Francois Smith doseer Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.