Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'Literêre pryse is vreemde goed' - wenner van Ingrid Jonker-debuutprys
Digter Pieter Odendaal
Pieter Odendaal, wenner van die Ingrid Jonker-debuutprys. Foto: Retha Ferguson

“Literêre pryse is vreemde goed, want hulle laat jou dink dat bundels resiesperde is waarop jy kan wed,” sê die digter Pieter Odendaal nadat hy die naweek as die wenner van die gesogte Ingrid Jonker-debuutprys aangewys is.

Hy het dit vir sy bundel asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg) gewen, en hy sal die prys op 14 September tydens die Tuin van Digters in Wellington ontvang.

asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal.

“Maar sommige bundels is oerangoetangs, ander is walvisse, ander nog cheetahs,” sê Odendaal.

“Om so te vergelyk is om afbreuk te doen aan die veelskimmigheid van die poësie. Tog is ek diep geëerd dat die beoordelaars gekies het om my spesifieke dier te versier.”

Die digters Corné Coetzee (Nou, hier) en Jolyn Phillips (Radbraak) was ook op die kortlys vir die prys waarvoor 17 debuutbundels voorgelê is.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel – die twee tale waarin Jonker geskryf het.

Die beoordelaars was die digters Zandra Bezuidenhout, Martjie Bosman en Ronelda Kamfer.

Die grootste verdienste van Odendaal se bundel is volgens een van die beoordelaars “die oorspronklike, verbeeldingryke en vernuftige wyse waarop hy die huidige Suid-Afrikaanse samelewing in ’n toestand van ‘op-weg-wees’ uitbeeld”.

Odendaal kan nie onthou wanneer hy die naam Ingrid Jonker die eerste keer gehoor het nie.

“Ek kan nie die spesifieke jaar onthou nie, maar ek moes nog op laerskool gewees het toe ek hoor van die digter wat in die see in geloop het. Sy bly ’n enigma wat afsluiting weier – vandaar die fassinasie met haar, vermoed ek.”

Jonker, wat drie digbundels gepubliseer het (waarvan een postuum verskyn het), het in 1965 in die see by Drieankerbaai ingeloop en verdrink. Dit was kort voor haar 32ste verjaardag.

Vorige wenners van die Ingrid Jonker-prys sluit in Lina Spies, Marlene van Niekerk en T.T. Cloete.

Odendaal se oom is die digter Bernard Odendaal. Hulle het egter nooit oor sy bundel gepraat nie.

“Maar my oom het ’n baie belangrike rol gespeel toe ek op skool was deur sy aansporing en fyn kommentaar. Hy het my oortuig dat dit tog die moeite werd is om die storie verder te vat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.