Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Loots se 2de roman snoer talle verhale saam

Nie almal se lewe of liefde is bestem vir ’n gelukkige einde nie. In die skrywer Debbie Loots se tweede roman, Die boek van gelukkige eindes, worstel verskeie karakters elk met óf hul intiemste verhoudings óf eksistensiële krisisse. Die verhaallyn waaier uit rondom ’n Kaapse sielkundige wat ook ’n probleem of drie het.

Die boek van gelukkige eindes
Debbie Loots Foto: Queillerie

Die eerste vonk van die boek was die Amerikaanse dirty realist-digter en -skrywer Raymond Carver (1938-1988) wie se bundel Short Cuts Loots getref het.

“Ek het groot bewondering vir Carver en was veral beïndruk met Short Cuts. Ek het ook Robert Altman se 1993-filmweergawe gesien wat nege van Carver se kortverhale en ’n gedig op ’n slim manier integreer. Ek wou lankal iets soortgelyks aanpak: ’n klompie mense se lewens wat op ’n manier oorvleuel of verstrengel raak. Ek het besluit om die storie te skryf toe ek hoor van die Groot Roman-wedstryd.”

Die prys – sy het die derde prys ontvang – het dit vir haar moontlik gemaak om die eerste weergawe van die manuskrip verder te verwerk.

Die roman ry verskeie lewensvraagstukke bloots sonder om doekies om te draai: seks, verneukery, groot lewenskrisisse, oudword, katelknape – soms vermeng met heerlike humor en lekker kinkels. Die boek verras die leser deurdat jy nooit mooi weet waarheen dit jou gaan neem nie.

Hoe het die karakters en die heerlike intrige vorm gekry en hoekom het sy op ’n sielkundige as hoofkarakter besluit? ’n Karakter wat hier aanstoot gee, maar tog ook met deernis bejeën kan word?

Die omslag van Debbie Loots se tweede roman, Die boek van gelukkige eindes.

“Daar is baie karakters in die boek en vir die storie om te werk en sin te maak was ’n sentrale karakter nodig om alles en almal bymekaar te hou. ’n Sielkundige is ideaal as so ’n sentrale karakter. Dit het my toegelaat om die karakters te ontwikkel en hul probleme te ontbloot. Watter beter plek om eerlik te wees as met jou sielkundige? Op plekke is die boek ’n bietjie soos ’n vlieg teen die sielkundige se muur.”

Stories oor die verhoudings tussen mense is juis die tipe stories wat Loots laat tick. Haar debuut, Split, oor ’n verbrokkelde gesin gedurende die apartheidsjare, is baie goed ontvang.

Sy stel belang in verhoudings tussen mense, tussen dieselfde en teenoorgestelde geslag en oor kleurgrense heen en hoe dit uitspeel in ons hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing.

“Ek is in die algemeen effens sinies oor die mensdom en is ’n voorstander van gereelde selfondersoek en selfkritiek. In terme van die boek se karakters sou ’n mens dink ’n sielkundige se spreekkamer is tog die ideale plek vir selfondersoek. Doen hulle dit opreg? Is dit skyn?

“Min mense kan terapie bekostig en deur die storie rondom ’n sielkundige te bou, ondersoek en werp dit veral lig op ’n bevoorregte klas mense se probleme, denkwyses en lewensuitkyke.”

Loots is ook ’n visuele kunstenaar. In die roman is daar lieflike tersyde kommentaar oor die plaaslike kunswêreld.

Vind jy aanklank by dié wêreld? Skep jy nog kuns? Wat bied die skep van kuns jou?

“Ek het tot en met so twee jaar gelede nog kuns gemaak. Ek het vir ’n ruk daarna kunsklasse aangebied, maar tussen my voltydse werk en skryf kry ek deesdae bitter min tyd vir my eie skeppende kuns. Skryf en kuns is egter albei vorms van storie vertel en daar is altyd ’n prentjie in my kop wat ek in woorde probeer weergee.”

Bedags werk Loots as ’n redakteur vir die The Creative Group vir die tydskrifte REAL|life en Business Day se HomeFront.

Voorts is sy reeds flink besig met haar derde roman. Eintlik is sy heeltyd aan die stories skryf, bieg sy.

“Ek het van kleins af stories geskryf en strokiesprente geteken. Alles destyds op die leë agterblaaie van die Kinders van die Wêreld-ensiklopedie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.