Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Loots se karakters, spoke kry lewe
Die skrywer François Loots.

François Loots sit sy hande voor sy gesig.

“Ek het eintlik gehoop niemand in die gebou lees die boek nie.”

Met innige meegevoel aan hom – almal in dié gebou gaan nou ’n Spook in die huis wil lees.

Gooi die lokaas uit dat Paul in ’n nagkantoor subwerk doen en dat situasies en karakters in “die gebou” hoogs herkenbaar gaan wees vir diegene wat hier werk, en jy het al klaar ’n gehoor.

Dis ten spyte daarvan dat hy in sy nawoord duidelik sê dat “dit is fiksie is en nie ’n beskrywing van enige bestaande mediamaatskappy nie”.

Voeg daarby dat die ander karakter De Villiers (Div) in die skaduwêreld van sadomasochisme beweeg en dat die speletjies, uitrustings en gesprekke jou deeglik daarby gaan betrek en daar kom nog ’n paar lesers by.

Met hierdie twee besonder interessante karakters wie se verhale mekaar afwissel, is die spoke ter sprake amper nie eers ’n trekpleister nie.

Loots vertel dat die sage van Shrien en Anni Dewani en die dekking in die media hom laat nadink het oor hoe seksualiteit gebruik is om Dewani voortydig te oordeel.

“Twee karakters het in die tyd in my kop begin vorm aanneem en ek het besluit om met die storie te hardloop.”

Anni se spook verskyn in Div se huis en Shrien dring sy drome binne. Paul het sy eie spoke en word geteister deur onverklaarbare weerverskynsels wat net hy beleef. Sy lewe draai om wonderlike baksels wat hy aand na aand in sy kombuis optower.

Die omslag van die roman.

Loots het in 2017 begin navorsing doen vir die roman.

“Dikwels is daar drie tot vyf jaar se werk voordat ’n mens ’n storie kan begin vertel. Daar is soveel werk wat gedoen moet word voordat jy dit geloofwaardig kan neerskryf. Die voorbereiding is ’n geweldige taak. Ek het baie verskillende notaboeke en los papiere. Daar is stukkies dialoog, gedagtes, idees wat bymekaar getrek moet word. Dan moet alles verbind word om die storie te vertel. Wanneer ek daardie laaste papier kan weggooi is dit ’n groot verligting.”

Hy moes deur baie resepte werk om die bakkery oortuigend te beskryf. Vir die wêreld van Div het hy met mense gesels, ure op die internet deurgebring, akademiese geskrifte deurgewerk en na rolprente gekyk. Oor die veranderinge in die mediawêreld het hy veral na Amerikaanse studies gekyk en so ’n bietjie eie ondervinding ingewerk.

“Ek moes ’n woordeskat opbou om Div se wêreld deur sy oë te kon sien. ’n Mens moet nooit probeer om vir lesers te jok nie. Al grens sekere gebeure aan die surrealistiese, moet dit tog ook geloofwaardig wees.”

Albei die hoofkarakters is klein individue vasgevang in ’n groter opset. Hy het veral navorsing gedoen oor mense in China en Amerika wat juis sulke enkelinge in groot multinasionale maatskappye is.

Dan stel almal tog belang in spoke.

“Almal met wie ’n mens gesels kan vertel van die een of ander vreemde ervaring wat hulle al gehad het. Hulle kan dit nie rasioneel verklaar nie, maar kan dit ook nie vergeet nie.”

Die roman se oop einde sal dalk vir baie lesers vreemd wees. Dit pas egter so reg in die hele opset in die twee karakters se wêrelde.

Jy gaan nog lank wonder of die mense wat glad nie meer ’n gebou verlaat nie wel trappe sal vind wat na die buitedeur lei en of hulle soos in ’n Escher-prent van die een stel trappe na die ander gaan bly klim.

Intussen roer Loots in sy kospotte (hy bak nie) en bedink dinge wat werklik is, net verbeel kan word of dalk net glad nie verklaar kan word nie.

*’n Spook in die huis is Loots se sewende roman. Dit word deur Umuzi uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.