Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'Los gedagtes' uit Goosen se persoonlike skatkis

Die gedagtewêreld van die skrywer Jeanne Goosen, soos verwoord in haar unieke styl in haar persoonlike notaboeke, vind neerslag in ’n nuwe boek wat volgende week deur Hemel & See uitgereik word.

Los gedagtes is boonop die eerste boek in ’n reeks publikasies oor Goosen (81) wat die uitgewer Petrovna Metelerkamp oor dié skrywer van romans soos Ons is nie almal so nie en ’n Pawpaw vir my darling gaan uitgee.

Jeanne Goosen
Jeanne Goosen Foto: Tessa Louw

“Ek moet eintlik tel hoeveel notaboeke ek van Jeanne het,” sê Metelerkamp.

“Dis berge. Verskriklik baie, dis haar hele lewe se skrywery. Sy het als met die hand gedoen, jy weet.”

Metelerkamp het die notaboeke meer as ’n jaar gelede by Goosen gekry en besef dat Goosen se skryfstukke stof vir meer as net een boek bied.

“So met dié het ek ’n novelle ontdek wat nog nie tevore gepubliseer is nie. Dit het nog nie ’n titel nie, maar dit volg binnekort. En daar is min of meer 100 gedigte.”

Die gedigte gaan ook in ’n nuwe bundel verskyn.

Metelerkamp het ’n biografie oor Goosen saamgestel met die titel Jeanne Goosen: ’n Lewe vol sinne wat in Maart op die US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel gaan word.

“Dan is daar nog ’n boek met ’n klomp los prosa wat nog nie verskyn het nie. Plus, ek maak so ’n bietjie van ’n keuse van rubrieke wat net een keer verskyn het. En veral haar kunsresensies is heerlik om te lees.”

Metelerkamp neem volgende week ’n eksemplaar van Los gedagtes na Goosen.

Jeanne Goosen
'Los gedagtes', saamgestel uit die notaboeke van Jeanne Goosen.

“Sy is baie in haar skik, sy is baie gevlei. Jeanne is ’n bietjie swakkerig. Sy wil nie eintlik rondloop nie. Sy lê op die bed met haar hondjie. Sy is laat weet sy mag nie meer rook nie. Sy is dikbek daaroor, maar sy gaan aan. Die konsentrasie kom en gaan wel.”

Lesers sal baie nuwe inligting oor Goosen ontdek, soos haar politieke lewe en wetenskaplike kennis.

“Alles van atome en molekules. Sy het ’n hoogs begaafde brein en is baie nuuskierig. Sy het alles tot in die fynste besonderhede bestudeer. Selfs erotiek – en dit toe geskryf.

Veral in haar kortverhaalbundel ’n Gelyke kans is daar nogal hiervan in.”

Petrovna Metelerkamp

Metelerkamp verwys na een van die gedagtes in die nuwe boek.

“Jy sal sien daar staan: ‘Een oog is altyd heeltemal oop.’ (Dit is die eerste deel van ’n gedagte wat Goosen neergeskryf het.) Sy is altyd aan die waarneem. Dit is ’n skatkis. Hierdie is ’n bietjie iets anders.”

* Metelerkamp is bygestaan deur Izel Lutz en Maureen Boshoff wat alles uit die notaboeke oorgetik het, en Celesté Fritze het Goosen se Los gedagtes gehelp orden.

* Los gedagtes word deur Hemel & See uitgegee en kos R120. Protea sal dit versprei, maar deur ’n e-pos na hemelenseeboeke@hermanus.co.za te stuur kan dit ook by Hemel & See bestel word.

* Tot dusver sal die biografie, die nuwe digbundel en Los Gedagtes op die Woordfees beskikbaar wees.

Meer oor:  Hemel & See  |  Jeanne Goosen  |  Petrovna Metelerkamp  |  Uitgewers  |  Notaboeke  |  Los Gedagtes  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.