Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Lotgevalle van liefde, belydenisse op man af

Nuwe vrese

Willem S van der Merwe

NALEDI, R220

Daar hang nogal ’n ding rondom ’n skrywer se tweede werk, of dit nou prosa, drama of poësie is.

Of so ’n verwagting verdwyn as die opvolgwerk eers 34 jaar later verskyn, soos die geval is met Willem S van der Merwe se Nuwe vrese, is onseker, veral as sy debuut Son-dig nie destyds opslae gemaak het nie.

Kannemeyer het die volgende paar woorde daaroor geskryf: “[Dit] aarsel tussen ’n mediterende tipe vers wat deur natuurwaarneming gevoed word en regstreekse belydenisse”; in die omvattende perspektief oor die Afrikaanse poësie in die nuwe Perspektief en profiel word die titel net genoem.

Die digter kies egter self om op ’n manier die gesprek met sy debuut te voer. Nuwe vrese speel in op oues, terwyl meer as een leser waarskynlik dislekties die titel as Nuwe verse gaan lees. In die openingsvers (“ ’n vrou wat bliksem sê in die kombuis”) praat die spreker van ’n “digbundel ondig ekkerig [op die rak]” en verklaar dan “hier’s ek weer hier’s ek weer / om jou siel te versondig met kitsch, cliché en meer”.

Inderdaad, om Trini Lopez se treffer so effens te wysig, “an older man, but wiser now, I sing these words to you” is die gevoel wat hierdie bundel by ’n mens laat.

Van die rustigheid wat mediteer sou kon suggereer is daar in hierdie 65 gedigte (een in Engels) min sprake: Die belydenisse is op die man af en skerp, die natuurwaarnemings vol ironie en sinisme, onder meer ook om die lotgevalle van die liefde te belig.

Inderdaad, om Trini Lopez se treffer so effens te wysig, “an older man, but wiser now, I sing these words to you” is die gevoel wat hierdie bundel by ’n mens laat.

Hoewel Van der Merwe nie na Lopez verwys nie, is daar ander verwysings oor ouderdom en ontnugtering (as laasgenoemde insig tot gevolg sou hê) wat in ’n paar gedigte ter sprake kom. Die belangrikste is seker die een na T.S Eliot se manjifieke “The Love Song of J. Alfred Prufrock” in ‘liefdesgedig vir ouma’: Hy haal Eliot direk aan, probeer “my stywe jeans / se pype oprol” en besluit dat hy dit nie sou waag “om ’n perske te eet nie”.

Ek sou enige leser aanraai om eers (weer) die Eliot-gedig te gaan lees voordat hy of sy met Nuwe vrese begin, juis omdat die bundel amper inskuif onder daardie gedig wat ’n eeu gelede verskyn het. Al die vrese, die ontnugtering, die verlange, ’n lewensmoegheid, die besef van verlies en ouderdom en die verwikkeldheid van liefde en seks kom dan ook in Van der Merwe se bundel aan die bod.

Die verwysingswêreld is nie tot Eliot beperk nie. Orals lees mens ander digters en ander gedigte raak, subtieler en met ander toespelings: D.J. Opperman, Eugène N. Marais, N.P. van Wyk Louw, Breyten Breytenbach, S.J. Preto­rius, om enkeles te noem.

Teenoor die selfversekerde ekkerige sprekers in sy debuut, vind ons hier die stiller stem van ’n ouer, ontnugterde mens, moeg, wat nou “bedompig” wil leef.

Teenoor die selfversekerde ekkerige sprekers in sy debuut, vind ons hier die stiller stem van ’n ouer, ontnugterde mens, moeg, wat nou “bedompig” wil leef: “ek trek my vensters dig” (bl. 7) en wat in “kluisenaar” (bl. 59) besef dat ’n mens eers op so ’n manier al die fasette van menswees beter begryp: “alles geïntensifiseer / met deure dig / getrek: ek speel huis-huis / so heel op my eis”, lees ons op bl. 25.

Maar ten spyte van die verwysingswêreld en die insig waarop die bundel steun, bly dit onbevredigend. Die digter waarsku die leser egter reeds in die openingsvers:

ek wil jou dus waarsku

dat dit yl, met min

poëtiese digtheid, gaan wees

inderwaarheid is ek bevrees

dat ek jou vir ’n ride gaan vat

indien jy verder lees

Daar is ’n aantal mooi gedigte wat ’n mens nie sommer gaan vergeet nie.

Wat hy sterker bevestig, “dit kom van strontpraat”, in die siniese slotgedig, “slot”.

’n Digter mag wel vooraf waarsku oor wat gaan volg, maar dan verwag die leser juis dat die ironie saamspeel.

Daar is myns insiens te min gedigte wat werklik reg laat geskied aan die temas wat Van der Merwe aansny; die rym dikwels inderdaad yl vir soverre dit betekenis inbring of vorm gee. Maar dan weer knap aangewend in ’n verwoestende gedig soos “pirana nirvana” (bl. 30).

Dit beteken nie dat die bundel nie meriete het nie. Vernuftige woordspel en woordskeppings vang jou telkens onkant en Willem S van der Merwe is ’n digter wat reëls kan uitskink: “jy slaap die roes / van ’n ou liefde af” (bl. 33), “dat die winter ’n kaggel vol liefde sal wees”, “die twaalfuur­kanon klap / ’n handvol duiwe van ’n balkon af” (bl. 6) en “vir jou wat so vanselfsprekend in ’n rym gaan lê” (bl. 64).

Daar is ’n aantal mooi gedigte wat ’n mens nie sommer gaan vergeet nie, onder meer ’n klompie waarin die natuur in verspreide Kaapse portrette verken word. Ek dink aan verse soos “moenie my pluk nie, ek pluk my moer” (bl. 11), “bloubergstrand” (bl. 12) met dié slotreëls oor “desperate rolle / vir dit wat vars en nuut móét wees // hy woeker met leitmotiv / sy woeker met herhaling”, “platonies” (bl. 22), “dis byna lente” (bl. 65), en “gedroogde jasmyn” (bl. 32).

Maar vir 34 jaar is hierdie seleksie te arm. Dis jammer dat hy nie daaraan gedink het om vroeër ’n tweede bundel te publiseer nie, want dit is waarskynlik dat baie gedigte verlore geraak het.

Die voorblad van Nuwe vrese, van ’n skildery van die digter se broer, André van der Merwe, is een van die mooistes van die laaste tyd. Die afgebreekte wit vlerk wat in die blou lug hang, vang in vele opsigte die toonaard van die bundel goed vas. En ’n mens wil hoop dat Van der Merwe ligvoets soos die meisie op die spandraad vorentoe gaan bly skryf.

Fanie Olivier is ’n digter, vertaler en verloopte akademikus.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.