Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Luister: Breyten en Jolyn lees gedigte vir Moedertaaldag

Ter viering van Internasionale Moedertaaldag Sondag het PEN Afrikaans die digters Jolyn Phillips en Breytenbach Breytenbach gevra om hul gedigte oor moedertaal te lees.

Phillips, bekroonde digter, dosent en bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n oorspronklike gedig vir die geleentheid geskryf, wat sy hier voorlees.

Die gedig “Prometheus is my pa se naam” handel oor die tema van moedertaal en betrek ook ander digters se werk as intertekste by dié besinning oor die geskiedenis en posisie van Afrikaans.

Jolyn Philips

Breytenbach, internasionaal gevierde digter, skrywer en visuele kunstenaar, lees hier ’n aangrypende gedig oor moedertaal voor. Dit is “wanneer jy die moedertong”, gedig “6.9” in sy bundel Op weg na kû. Die opname is gemaak by die bekendstelling van die bundel in The Book Lounge in Kaapstad en word hier met die vergunning van die digter gedeel.

Internasionale Moedertaaldag, ’n inisiatief van Unesco, is in 1999 aangekondig en word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier. Dit is gemik op die bewusmaking van kulturele en taaldiversiteit, en die bevordering van veeltaligheid. Die belangrikheid van hierdie oogmerke is onbetwisbaar in die lig daarvan dat ’n inheemse taal elke twee weke uitsterf.

PEN International, die grootste skrywersvereniging in die wêreld, wil dié dag gebruik om nie net die belangrikheid van die behoud en diversiteit van die wêreld se taalkundige erfenis te benadruk nie, maar om ook ’n stem te gee aan skrywers, vertalers en ander wat hulself met trots in hul moedertaal uitdruk. PEN International se vertaal-en-taalregtekomitee het gedigvoorlesings van verskillende PEN-sentrums van oor die wêreld byeengebring en sal dit op sy webwerf beskikbaar stel.

Breyten Breytenbach Foto: Leanne Stander

Hierdie viering is in pas met PEN International se Girona-manifes oor taal, wat onder meer meld dat taalverskeidenheid ’n wêrelderfenis is wat waardeer en beskerm moet word. Dit erken ook die persoonlike verbintenis en meld dat mense leer praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.

PEN Afrikaans herdenk Internasionale Moedertaaldag met groot waardering aan die digters vir hul deelname, en die besef dat die wêreld armer is wanneer die behoud en beskerming van moedertale verwaarloos word.

PEN Afrikaans is ’n skrywersvereniging wat die Afrikaanse skryfgemeenskap internasionaal deur lidmaatskap van PEN International verteenwoordig. Lees meer oor PEN Afrikaans by www.penafrikaans.org.za

Navrae: penafrikaans@gmail.com

Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Digters  |  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.