Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
LUISTER: Ingrid Jonker se stem op CD van nuwe bundel

Die ontslape digter Ingrid Jonker lees van haar verse voor op ’n album wat ingesluit is by ’n nuwe versamelbundel bestaande uit 50 van haar gedigte en ’n toneelstuk wat haar dogter in Engels vertaal het.

Waterfall of Moss and Sun word deur Minimal Press uitgereik.

Die ontslape digter Ingrid Jonker

Die gedigte van Jonker, wat in 1965 in die see by Drieankerbaai in Kaapstad verdrink het, is al voorheen in Engels deur André P. Brink en Antjie Krog vertaal.

Oudpres. Nelson Mandela het juis ’n Engelse vertaling van haar bekende gedig “Die Kind” op 24 Mei 1994 in die parlement voorgelees.

Dié bundel bestaan egter uit nuwe vertalings deur Simone Garcia Marques.

Die toneelstuk, ’n Seun na my hart, is voorheen in Afrikaans gepubliseer.

“Ek dink die toneelstuk is baie polities, dis nie ’n speel-speel-stuk nie. Dit is nog nie voorheen vertaal nie. Ek vind dit ’n baie diep toneelstuk,” sê Garcia Marques, wat deesdae in Houtbaai woon.

Simone Garcia MarquesFoto: Nasief Manie

Garcia Marques dra die bundel aan haar kinders op.

“My ma se gedigte . . . haar beelde is baie helder. Ek het gedigte gekies waarby jongmense sal aanklank vind. Dis meer liefdesgedigte. Ek het baie gunstelinge. Hulle verander heeltyd, maar op die oomblik is dit ‘Moswaterval’.”

Drie bundels deur Jonker het verskyn: Ontvlugting, Rook en oker en Kantelson. Haar derde bundel het postuum verskyn.

Waterfall of Moss and Sun, wat onder meer bestaan uit gedigte deur Ingrid Jonker wat in Engels vertaal is.

Gedigte soos “Toemaar die donker man”, “Die Kind”, “Ek herhaal jou” en “Begin Somer” se Engelse vertalings is by Waterfall of Moss and Sun ingesluit.

Jonker het sommige van die gedigte vir Garcia Marques geskryf.

Sy was sewe jaar oud toe haar ma dood is.

Sy het ervaar hoe haar ma skryf.

“Dit was ’n baie natuurlike proses. Sy het in ’n zone gegaan en ek het dan geweet sy is besig om te skryf. Die zone was nie ’n normale gemoedstoestand nie.

“Ja, en sy het die heel nag deur getik. Sy het die volgende oggend uitgekom en sy was baie bly en het haar gedig vir almal gelees. Ek was baie bewus van haar skryfproses. Ek was vreeslik beskermend teenoor haar.”

Garcia Marques geniet die werk van digters soos Uys Krige en N.P. Van Wyk Louw en antieke Chinese digters soos Li Bai.

“Ek stel belang in Chinese meditasie. Daarom beteken (Jonker se gedig) ‘Die Kind’ ook vir my baie.

Want daar is ook ’n kind in China vermoor omdat sy ma Falun Gong beoefen het.”

Jonker se gedig is geïnspireer deur ’n foto wat sy gesien het van ’n kind wat in die Sharpeville-opstande in 1960 dood is. “So die kind wat in Afrika doodgemaak is en die een in China is dieselfde kind. Die kind domineer alles.

’n Kind is die mees universele simbool. En dis daardie onskuld.”

Vir Garcia Marques hou die gedig “Toemaar die donker man” kosbare betekenis in.

“My ma het een aand die gedig vir my geskryf terwyl ek in my bed gelê het. Toe kom sy die kamer in en sy het soos ’n engel gelyk. Sy het gesê dat sy ’n gedig vir my geskryf het. Dit was vreeslik mooi en toe raak ek aan die slaap. Ek is mal oor die gedig. Ek sal dit altyd koester. Dit het vir my ’n spesiale boodskap.”

*Waterfall of Moss and Sun kos R270. Stuur 'n e-pos aan Lap@webmail.co.za indien jy belangstel. Dit sal ook in boekwinkels beskikbaar wees. 

Meer oor:  Ingrid Jonker  |  Poësie  |  Gedigte  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.