Intekenare kon in Augustus na die ontslape Elsa Joubert se outobiografie luister.
Die bekroonde Spertyd was Netwerk24 se luisterboek van die maand. Intekenare kon tot 31 Augustus na ’n voorlesing daarvan op Netwerk24 luister.
Waaroor gaan ‘Spertyd’?
Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken in besondere detail en met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.
Selde, indien ooit, is daar al só eerlik, met so ’n totale afwesigheid van sentimentaliteit geskryf oor die oudwordproses. Dit is egter allermins ’n swaartillende leeservaring, want deernis en humor bly nooit agterweë nie, sê NB Uitgewers.
Spertyd is ’n boek wat geen leser onaangeraak sal laat nie – dit bied nie alleen helder insig in die skrywer se lewensbeskouing nie, maar nooi ten slotte elke leser uit om diep na te dink oor sy of haar eie bestaan.

Philip de Vos het dié foto van Elsa in 2005 geneem.
Meer oor die skrywer
Elsa Joubert (1922-2020) is in die Paarl gebore. Sy is bekend vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat vertaal is as The Long Journey of Poppie Nongena. In 2017 verskyn haar outobiografiese teks Spertyd wat met die kykNET Rapportprys, ’n ATKV Woordveertjie en die Louis Hiemstraprys bekroon word.