SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Boeke
LUISTERBOEKE: Desember bring 2 boeke vir die vakansie

Die somervakansie is amper hier en Netwerk24 het besluit om intekenare met twee luisterboeke te bederf.

Intekenare kan tot 31 Desember na Kamikaze van Rudie van Rensburg en Die blou van onthou deur Marita van der Vyver op Netwerk24 luister. Geniet die luistergenot in die vakansie!

'Kamikaze' deur Rudie van Rensburg

Waaroor gaan die boek?

Kamikaze

Kassie Kasselman is kriewelrig. Sy lewe lank poeliesman gewees, maar wragtag, wat hy nóú alles in die media oor sy geliefde SAPD lees. En met sy eie oë sién ook, in kol. Daniels se kantoor by die Nuwelandstasie.

Kassie het juis ’n ander werkaanbod gehad . . .

En dan moet dit natuurlik só kom dat hy in die middel van sy loopbaankrisis teen die mees grieselige moordenaar tot nog toe te staan kom.

Die Pion se moordloopbaan het tentakels wat terugstrek na die apartheidsera, met moderner euwels soos die Afrika-handel in vervalste medisyne wat ook Kassie se aandag verg. Slim skuiwe, dis wat Kassie moet maak, en gou ook.

Spioenasie en parlementêre wapenhandelkorrupsie, die ontkleeklubskemerwêreld en ’n kil moordenaar uit jou nagmerries – Kamikaze is Van Rensburg se spanningsvolste roman tot nog toe.

Meer oor die skrywer

Rudie van Rensburg
Rudie van Rensburg

Van Rensburg woon in Kaapstad en het al sewe gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana, Kamikaze, Ys en Medusa, en die komiese roman Hans steek die Rubicon oor. Kamikaze was die 2018-wenner van die ATKV-woordveertjie vir spanningsfiksie.

'Die blou van onthou' deur Marita van der Vyver

Waaroor gaan die boek?

Die blou van onthou

In die skemer van haar lewe kry Colette Cronjé ’n brief van ’n lank vermiste familielid. Dit kom uit Portugal en dit dwing haar om alles te onthou wat sy ’n leeftyd lank probeer vergeet het.

Want wat ’n halwe eeu gelede in Portugal gebeur het, het haar eie lewe asook dié van die volgende twee geslagte onherroeplik verander. Haar dogter, Nandi, se verset teen haar ouers en haar afkoms is so verreikend dat sy haar kind vir aanneming weggee, alleen oorsee vlug en alle bande met haar familie verbreek. Haar kleindogter, Tina, word groot sonder om haar bloedfamilie te leer ken.

Maar bloed bly bloed, jou familie bly jou familie, jou taal bly jou taal. Daarom word dit die verhaal van ’n Afrikaanse familie, van drie opeenvolgende geslagte wat reageer op mekaar en op hul tyd, van drie vroue wat leef in die spanning tussen weggaan en moet bly, tussen vergeet en móét onthou. Die blou van onthou is ’n boek wat die leser omrol en maal in sy kolke van stemme en geskiedenis en oeroue hunkerings.

Anna-Mart van der Merwe doen die voorlesing van Di
Anna-Mart van der Merwe doen die voorlesing van Die blou van onthou. Foto: Jaco Marais

Meer oor die skrywer

Van der Vyver het drie romans vir jonger lesers geskryf voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, die literêre landskap verander het. Sedertdien is sy ’n heeltydse skrywer met vele topverkopers agter haar naam, soos Dis koue kos, skat, Die dinge van ’n kind en Griet kom weer. Sy woon in Frankryk.

Marita van der Vyver
Marita van der Vyver

Laaste kans om 'Fees van die ongenooides' te luister

PG du Plessis

Intekenare kan tot 30 November na PG du Plessis se Fees van die ongenooides op Netwerk24 luister. Klik hier om daarna te luister.

Ouers en hul kinders kan ook tot 30 November na Huppelkind (deel 2) op Netwerk24 luister. Begin sommer vandag luister. Klik hier.

Het jy die vorige luisterboeke op Netwerk24 misgeloop?

Moenie bekommerd wees nie! Hoewel die Afrikaanse luisterboeke net vir 'n maand gratis op Netwerk24 beskikbaar is, is die boeke steeds op Audible te koop.

Klik hier om die verskillende boeke te koop:

JULIE 2019: Op pad deur Dana Snyman

AUGUSTUS 2019: Dubbelspel deur Wilna Adriaanse

SEPTEMBER 2019: Kamphoer deur Francois Smith

OKTOBER 2019: Stormkind deur Riana Scheepers

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.