Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Madiba se brief uit Robbeneiland aan die uitgewer Danie van Niekerk
06 September 2018

By sy aftrede in 1993 het die uitgewer Danie van Niekerk Naspers se eerste Piet Cillié-prys ontvang vir die “uitnemendheid van Tafelberg se publikasies”. Vandag op sy 90ste verjaardag onthou hy van die hoogtepunte.

Die uitgewer Danie van Niekerk.

Oor hoe jy jou publikasielys kies

’n Wyse ou uitgewer het eenmaal gesê daar is vier soorte boeke wat jy kan uitgee. Eerste is goeie boeke wat goed verkoop – oor hulle juig jy met die engele. Tweedens is daar goeie boeke wat swak verkoop – daaroor treur jy, maar jou gewete is rein. Derdens gee jy swak boeke uit wat goed verkoop – nou ja, jy salf jou gewete op pad bank toe. Vierdens gee jy slegte boeke uit wat sleg verkoop – en dan ry die duiwels jou met verwyte, spyt, skaamte.

Ek het al vier uitgegee.

’n Publikasiefilosofie

As ek ’n publikasiefilosofie gehad het, was dit om kruisbestuiwing toe te pas: Publiseer treffers van onbenullige ewigheidswaarde waar jy winste inhark ten einde die geld te hê om in waardevolle, avontuurlike maar riskante boeke te kan belê. In die laasgenoemde groep het ek nie net literêre werke ingereken nie, maar ook boeke van politieke en maatskaplike belang. In sulke riskante gevalle was daar dikwels aangename verrassings. Boeke soos Flip Smit se Swart verstedeliking (1981) en At van Wyk se Keeromstraat-kliek (1983) is herdruk en het pryse verower.

’n Boek soos Raka van Van Wyk Louw, wat in 1941 in ’n oplagie van 600 verskyn (ook op genade, want dit was oorlog en die Nasionale Pers moes suinig wees met papier en geld), het teen 1990 reeds meer as dertig herdrukke beleef; elkeen van daardie herdrukke was suiwer wins. Ek het die Raka-storie opgehaal as beterweters my wou vertel Tafelberg moes minder dig- en kortverhaalbundels uitgee en liewer konsentreer op handwerk- en resepteboeke vir die groot vrouemark.

Oor Anna M. Louw se opspraakwekkende Kroniek van Perdepoort (1975)

Toe Perdepoort verskyn, het ek vir Audrey Blignault opgelaai en met die nuwe boek en ’n fles sjampanje Rosebank toe gery om die boek met Anna te vier. Ons het in die sitkamer gesit en oor die nuwe boek gesels toe die voordeur oopgaan en ’n skaduwee in die gang verbyglip; dit was Anna se man, dr. Bassel. Hy het nie sy gesig gewys nie; die viering geïgnoreer.

Swak boeke wat ‘dawerend’ verkoop het

Ek hoef net te noem: Konsalik. Amper ’n hele boekrak Konsaliks. Uit ons Pretoria-jare onthou ek die aande wat ek Affies se prysgeleenthede bygewoon het. Die seuns wat pryse verdien het, het vooraf ’n koopbewys gekry om by Van Schaik se boekwinkel in Kerkstraat ’n boek te gaan uitsoek, wat dan daardie aand plegtig aan hulle oorhandig is. Ons het voorlanges gesit en ek kon van onder sien watter boeke die seuns gekies het: dit was Konsalik ná Konsalik! My voorganger, JD Pretorius, het seker 25 Konsalik-titels uitgegee (waarvan Die snydokter van Stalingrad die kampioen was), en ek het voortgegaan om nog sowat 25 by te voeg. Nòg JD nòg ek, moet ek beken, het ooit ’n Konsalik gelees!

Die ‘hoofproefleser’

Ek het pasverskene boeke met ’n rooi potlood begin bekrap sodat ’n betrokke veteraan agter my rug gesughet oor “die hoofproefleser”. Ernst van Heerden se digbundel Tyd van verhuising (sy heel beste en roerendste bundel terloops, geskryf nadat albei sy bene by die heup afgesit is) is drie keer teruggestuur na die drukker met die boodskap ons aanvaar dit nie, daar was telkens één enkele setfout in. (Die titel van een gedig was in opsetlik foutiewe Afrikaans, “Algemeene Handelaar”, soos in die ou Boeretyd. Iemand by Nasionale Boekdrukkery het verseg om die “fout” van die twee e’s in “Algemeene” as opsetlik en nodig te aanvaar.)

Ydelheid en skryf

Daar is hoofsaaklik twee soorte skrywers: Die nederiges en dan is daar die ydeles, wat in party gevalle genoeg rede het om ydel te wees, soos Dirk Opperman, wat ná die Komas-triomf homself (hy, die digterskampioen!) laat afneem saam met ’n kampioenbokser. Maar miskien die ydelste van die ydeles was Ernst van Heerden, wat ná hy 50 geword het, elke vyf jaar skaamteloos aangedring het op ’n nuwe “huldiging”, telkens met ’n duur huldigingsboek en/of ’n swierige feesmaal.

Poppie waai amper weg (1978)

In my agttien jaar by Tafelberg was daar geen enkele vervelige dag nie. Frustrerende dae wel, hartseer dae soms, maar ook ’n paar triomfantelikes, en frustrerendes. Soos die dag toe ek Elsa Joubert se manuskrip van Die swerfjare van Poppie Nongena huis toe vat om te gaan lees. Ek stap ’n uurtjie uit, met die venster en buitedeur van my studeerkamer wawyd oop. Die suidoos steek op en toe ek terugkeer, dwarrel vyfhonderd los bladsye van Poppie in die kamer rond.

Dalene Matthee

Nog een van my plesiere was die opwinding van ’n nuwe Dalene Matthee-manuskrip, telkens met die vreemdste voorsorgmaatreëls ingedien: die stand van die maan, die sterre ens. Dalene het in feetjies geglo. Wanneer sy Kaap toe gekom het, was haar eerste kuierplek ’n casino.

Sheila Cussons – enig in haar soort

Nog ’n verrassing was die koms van Sheila Cussons se heeltemal onverwagte manuskrip van Die swart kombuis. Haar debuutbundel Plektrum (1970) was ’n gebeurtenis. Sy is later getroud met ’n Katalaanse sakeman, Juan de Saladrigas, en die egpaar het hulle in Barcelona gevestig. Daar het sy in die somer van 1974 ’n byna noodlottige ongeluk gehad toe ’n gasstofie in haar gesig ontplof het. Tydens en ná haar herstel het sy Die swart kombuis geskryf, ’n bundel religieuse gedigte waarvan min gelykes in die Dietse taalgebied bestaan.

Op een van my Frankfurt-reise het ek Sheila in Barcelona gaan besoek, in haar mooi, moderne huis deur haarself ontwerp. Juan het vir ons paella berei, waarna geen paella weer so lekker was nie.

Wat het in Sheila gevaar om in 1983 haar pragwoning in die Immaculada-straat prys te gee, haar man en twee seuns te verlaat en na Suid-Afrika terug te keer, sonder meer as ’n pennie geld? Sy het haar op Tafelberg se goedhartigheid gewerp, en in die maande en jare daarna moes ons bontstaan, ek maar veral Charles Fryer, om noodoproepe en noodversoeke, soms laat snags, te beantwoord. Met die ophef wat van Die swart kombuis gemaak is, was Sheila telkens teleurgesteld en geïrriteerd dat haar daaropvolgende bundels nie dieselfde “splash” gekry het nie. (Die uitdrukking kom van Sheila self: “Maar Danie, jy moet sorg dat my nuwe bundel ’n splash kry! Hoekom nie?”) Later het Amanda Botha gelukkig die versorging van Sheila oorgeneem.

Oudpres. Nelson Mandela se brief vanaf Robbeneiland aan die uitgewer Danie van Niekerk.

’n Verrassing uit Robbeneiland

Die posmandjie het telkens verrassings gebring.

Op 10 April 1975 kry ek ’n handgeskrewe briefie uit die gevangenis op Robbeneiland, onderteken deur “Die uwe, NELSON MANDELA”: “Ek plaas hiermee ’n bestelling vir die volgende twee boeke: (1) Ons eerste ses premiers deur Piet Meiring (2) Tien politieke leiers. Vind asseblief ingesluit die bedrag van R8,60 (posgeld bygereken) ter kwytskelding”. Die boeke is gepos en die posorder is teruggestuur.

Kort daarna het ’n nuwe uitgawe van Dirk Opperman se Groot verseboek verskyn. Ek het dit met komplimente aan Mandela op Robbeneiland gepos en ’n antwoord terugontvang: “Graag wil ek u hartlik bedank vir die pragtige boekgeskenk. D.J. Opperman se bloemlesings is van besondere waarde en ek waardeer hulle meer as wat ek in woorde kan stel”.

’n Persoonlike belangstelling

Ek kan ’n lang lys maak, want in hierdie soort boek het ek ’n persoonlike belangstelling: Cottesloe deur A.H. Lückhoff; Swart verstedeliking deur Flip Smit; Dominee, are you listening to the drums? deur A.S. van Niekerk, The rise and decline of apartheid deur Dick van der Ross; en Clem Sunter. In hierdie ry van boeke is die grootste en belangrikste ongetwyfeld Die swerfjare van Poppie Nongena; trouens, daar is drie boeke waarvoor ek graag as uitgewer onthou wil word: naas Poppie ook Jaap Steyn se Tuiste in eie taal en Sheila Cussons se Die swart kombuis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.