Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Magspel in ANC (en Kaapstad)

Twee belangrike boeke oor ewe belangrike stukke eietydse geskiedenis – Qaanitah Hunter se ‘Balance of Power: Ramaphosa and the Future of South Africa’ en Crispian Olver se ‘A House Divided: The Feud that Took Cape Town to the Brink’ – het Jan-Jan Joubert met gemengde gevoelens gelaat.

Adj.pres. David Mabuza en pres. Cyril Ramaphosa, in seë­vierende luim ná hul verkiesing deur die ANC as adjunkpresident en president van die party. Foto: Getty Images

Balance of Power: Ramaphosa and the Future of South Africa deur Qaanitah Hunter. Uitgewer: Kwela. Prys: R280.

Qaanitah Hunter het haar binne die bestek van ’n paar jaar gevestig as die joernalis wat die sterkste fokus op die binnewerkinge en -dramas van die ANC. Sy ken en volg die regerende party soos sommige Britse joernaliste dit doen met hul koningshuis: gespesialiseerd, byna met uitsondering van alles anders.

Die veelbekroonde Hunter gebruik haar bywoning van ANC-kongresse en haar gesprekke met ANC-leiersfigure oor die volle spektrum heen om die leser na plekke te neem waar jy nie self kan uitkom nie. As jy dus die binnewerkinge van die ANC wil verstaan, sal jy ver moet soek om ’n beter boek as dié een te kry.

Balance of Power is baie simpatiek teenoor die ANC geskryf, byna van binne. Daarmee bedoel ek nie dat die ANC se talryke skandes en tekortkominge toegesmeer word nie – ek verwys na ’n onderliggende geloof dat die ANC eintlik goed is, dat enige skandale, moorddadigheid en korrupsie tydelik eerder as inherent bepalend is, en dat die interne dinamiek van die regerende party eintlik die enigste deel van die Suid-Afrikaanse politiek is wat saak maak.

Hoewel daar dus oomblikke van ligte kommer is oor byvoorbeeld die korrupsie wat ANC-konferensies en -leiersverkiesings definieer, word dit aanvaar as alledaags, en word Ramaphosa se inkoop daarin goedgepraat as iets wat ’n mens maar moet doen as jy sukses wil behaal. Dit laat my stik.

Wat wel fassinerend is, is die meganika van die magspel om Ramaphosa by Nasrec verkies te kry. Dit lees soms letterlik soos ’n spioenasieverhaal en Hunter se kennis en binne-inligting oor presiese detail is ongeëwenaard.

Maar daar is sommige van ons wat aandring op wettige en etiese gedrag van ons regering en owerheid. Ons het ’n mate van kommer oor die oorspoel-uitwerking op staatskaping (soos gesien in die getuienis voor die Zondo-kommissie) en die eintlik erger situasie in veral plattelandse ANC-beheerde munisipaliteite.

Gegewe hierdie eksistensiële landswerklikhede, en die hoeveelheid totaal onnodige bestuursrampe wat die ANC deur pure slapslegtigheid geskep het, sou ’n meer kritiese benadering as Hunter se inherent vergoeilikend-ondersteunende ontleding van die ANC-in-regering dit ’n beter boek gemaak het.

En hierdie oorgeërfde strukturele ANC-mislukkings bepaal dikwels wat vir Ramaphosa prakties moontlik of onmoontlik is – dit is die raam waarbinne hy (en ons land) beweeg.

Dit is die twee grootste tekortkominge van hierdie knap boek: dat dit die ANC-leefwêreld te onkrities napraat asof daar niks anders is nie, en tweedens dat daar miskien te veel prentjie (puik, presiese kroniek van gebeure) is, en te min raam.

’n Hoogtepunt in die boek is die klem en kollig op adj.pres. David Mabuza, van wie die meeste mense net weet dat hy, om dit lig te stel, luidens koerantberigte eties ietwat bedenklik voorkom.

Hunter vertel ons meer van die man wat ’n hartklop (of ’n mosie van wantroue?) ver is daarvan om ons geliefde land se president te word. Sy bring groter duidelikheid, hoewel nie algeheel nie, in die troebel water oor wie sy binnekring-vertrouelinge, sy top-adviseurs en sy voorste stemwerwers is, asook die verstommende manier waarop hy die mat op letterlik die laaste oomblik onder oudpres. Jacob Zuma en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se voete uitgepluk het om aan Rama­phosa die oorwinning by Nasrec te gee.

Dit is boeiende leesstof – ’n les in boewery en ’n moontlik onbedoeld verdoemende kyk na die binnewerkinge van die ANC. Hierin speel die Staatsveiligheidsagentskap, die land se spioene, ’n geheel en al ongrondwetlike en dus onwettige rol. Nie dat hulle maklik aan die pen gaan ry indien die belaglike huidige stelsel van parlementêre verantwoordbaarheid – openlikheid, maar net solank niemand weet nie – gaan voortduur nie.

Een van Hunter se vreemdste stellings is die ruim krediet wat sy aan oudminister Charles Nqakula gee vir wat sy bestempel as die skoonmaak van vuilspel deur die spioene. Wat jy waar kry? Ek sal rook wat sy rook, dank u wel, kelner.

Hunter bekyk die terugvegaksie vanaf die Zuma-Magashule-staatskaperkamp met ’n veel soberder blik as die spioenkwessie. Sy wys hoe die planne gesmee word, met elemente van die KwaZulu-Natalse en Vrystaatse ANC sowel as die leierskorps van die ANC-vroueliga voor in die koor.

Sy sluit die boek af met ’n relatief simpatieke opweging van die steeds onopgeloste vrae oor skenkings aan Ramaphosa se CR17-veldtog, ’n skandaal wat Rama­phosa in die hakskeen kan byt en trouens sy achilleshiel kan word.

Balance of Power is ’n knap geskrewe boek oor ’n belangrike nisonderwerp in die huidige Suid-Afrikaanse politieke landskap en hoort, tekortkominge en al, op die rak van enigeen wat daardie landskap met begrip wil deurkruis.

A House Divided: The Feud that Took Cape Town to the Brink deur Crispian Olver. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R275.

“Dis nogal ’n dík boek oor sulke onlangse geskiedenis,” sê my broer toe hy A House Divided in my hand gewaar. En só sit hy sy vinger sekuur op een van die belangrikste redes waarom ’n belowende boek oor ’n belangrike stuk eietydse geskiedenis ongelukkig nie die paal haal nie. Maar dis nie die enigste rede nie.

Dr. Crispian Olver se boek probeer die vraagstuk takel oor hoe die liefde tussen die DA en Patricia de Lille so vinnig tot sulke giftige haat kon skif, maar slaag nie daarin om dit na behore te verduidelik nie.

Olver is ’n onderhoudende skrywer met ’n veelbewoë, prysenswaardige geskiedenis in ons land se demokratiese bevrydingsgeskiedenis. Dit is by die bespreking van A House Divided van belang omdat hy in die narratief so gereeld daarop terugval – ook in sy brongebruik en die mate waartoe hy sommige bronne geloofwaardig en ander ongeloofwaardig ag.

Hy is ook die skrywer van die hoog aangeprese en inderdaad uitstekende boek How to Steal a City (2017) wat handel oor die korrupsie en stadskaping in die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth. Daar is myns insiens verskeie goeie eienskappe wat A House Divided gemeen het met How to Steal a City. Wat navorsing betref, doen Olver op die oog af sy goeie naam as kenner van plaaslike regering en sy sterk akademiese agtergrond gestand – die voetnote dui op omvattende gebruik van primêre bronne, spesifiek dokumente en onderhoude.

Maar daar is ook drie belangrike redes waarom sy nuutste publikasie nié so geslaagd is as sy voorganger nie. Eerstens het Olver met How to Steal a City hope eie binnekennis en toegang gehad as lid van die reg­rukspan in Port Elizabeth. In die geval van Kaapstad het hy nie vergelykbare binnekennis, toegang of owerheid­steun gehad nie.

Spesifiek ter sake hier is Olver se binnekennis en aanvoeling vir die ANC teenoor sy gebrek aan binnekennis oor of aanvoeling vir die DA. Hy maak veel gewag van sy ANC-bande en sy jare as ANC-lid. Dit bring ’n universele waarheid aan bod, wat terloops ook geld vir byvoorbeeld ’n voormalige leier van ’n sekere politieke party wat homself deesdae as selfverklaarde onafhanklike politieke ontleder krities uitlaat oor die probleme in elke party buiten die een waaraan hy behoort of behoort het (en jou werklikwaar boonop vir hulle raad aanbied!) – ’n mens verstaan jou eie mense altyd beter as ander.

My punt oor Olver is dat hy nie dieselfde kennis of begrip van die DA, of van die twee partye wat al onder De Lille se leiding gestaan het (die Onafhanklike Demokrate en Good), het as wat hy van die ANC het nie. Dit is die eerste groot rede waarom hierdie boek afsteek by sy Oos-Kaapse poging – die outentisiteitsvlak is gewoon nie dieselfde nie.

Die tweede punt waarop hy dié keer swakker vaar, is die gevaar inherent daaraan as iemand van buite kom en omvattend oor kompleksiteite wil berig. Daar is nie ’n lekker Afrikaanse uitdrukking daarvoor nie, maar die Engelse praat van “being parachuted in”.

Dit lei tot ’n boek waar die skrywer weet wat hy weet, maar nie weet wat hy nié weet nie. In so ’n geval is nederigheid en die besef van feilbaarheid ’n bate, soos ’n mens dit byvoorbeeld onlangs gesien het in One Day in Bethlehem (2019), Jonny Steinberg se meesterlike studie oor die gebreke van onthou en die relatiwiteit van waarheid. Hiervan is daar in Olver se nuutste pennevrug net te min.

Hy dink sy onderhoude deurgrond diegene met wie hy die onderhoude voer, maar in die sluwe onderwêreld van Kaapstad se politiek is daar min helde, nog minder engele en baie min mense met ’n vlekkelose verlede.

Na my mening is hy ’n paar keer erg om die bos gelei deur van die glibberigste en gevaarlikste slange in die verraderlike en giftige adderput genaamd die Kaapse politiek. Hy het in baie gevalle die verkeerde vrae gevra en daarom nie die korrekte antwoorde gekry nie.

Een voorbeeld: Hy het nie voor die Tafelberg-skool in Seepunt gaan staan en gekyk watter geboue rondom die vervalle gebou uittroon nie en wie daardie geboue besit en dus finansieel sou skade ly indien bekostigbare behuising opgerig word. Hy het vervolgens nie gaan kyk watter informele (en in hierdie geval aantoonbaar formele) koppeling daar bestaan met een of meer politici in magtige posisies, en toe onafhanklik aan elke rolspeler gaan vra watter eksakte kontak daar tussen hulle bestaan en bestaan het betreffende hierdie hoogs omstrede ontwikkeling in Seepunt nie.

Dit is hoe ’n mens in Kaapstad by die waarheid uitkom, maar dit gebeur nie in hierdie boek nie. Hy glo mense se bewerings verkeerdelik, want hy toets dit nie genoegsaam nie. Die Seepunt-geval is een van verskeie voorbeelde waaroor ’n mens weens ruimtebeperking nie kan uitbrei nie.

Die derde rede waarom die boek misluk is die universele waarheid dat ’n mens maklik jou jeug verromantiseer. Olver pekel sy verhaal met vele klein anekdotes uit sy grootwordjare, wat ter agtergrond van die Kaapse geografiese rasselegkaart baie interessant en toepaslik is.

Die swakheid waartoe dit lei, is ’n geneigdheid om ouerwordende eertydse helde van die nou dekades reeds vergange bevrydingstryd te klakkeloos te glo. Maar tye verander, en baie mense verander of ontwikkel, soms ten goede en soms ten kwade. Min mense is op 70 byvoorbeeld nog volkome vergelykbaar met wie hulle op 25 of 30 was. Dit is eintlik komies hoe maklik Olver inval by die weergawes van diegene wat in die 1970’s en ’80’s bekend sou wees as wit Kaapse linkses. Voorbeelde in die boek is vele, maar is miskien die duidelikste wanneer sy verhaal fokus op gebeure in die woonbuurte Observatory en Big Bay (Grootbaai, tussen Bloubergstrand en Melkbosstrand).

’n Mens het begrip vir die bykans blinde vertroue en bedompige ingehoktheid in daardie dikwels heldhaftige kringe gedurende daardie uiters taai en onderdrukkende tye, maar, soos aangetoon deur onder meer Jonathan Ancer in sy puik boek Spy: Uncovering Craig Williamson (2017) oor dié spioen en sy invloed op wat destyds as wit linkses – lefties – getipeer is, was dit destyds al ’n swakheid. Vir hierdie boek is dit die derde doodskoot.

A House Divided sal oningeligtes laat voel hulle weet nou meer, maar dit sal ’n misgissing wees. Hierin is die gebruik van anonieme bronne en die uitwys van beweerde ongerymdhede sonder om die oortreder te identifiseer ’n verdere swakheid wat die boek op die vlak van kantoor-skinderpraatjies uit ’n groot organisasie laat. Dis vermaaklik, maar op die keper grootliks nutteloos.

Daar sal hopelik eendag ’n boek of studie verskyn wat reg sal laat geskied aan wat in Kaapstad gebeur het, want dit het implikasies vir leidende stede wêreldwyd. Hierdie boek doen dit nie.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer. Sy nuutste boek is Gaan Suid-Afrika oukei wees?: 17 sleutelvrae.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.