Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Chris Karsten se Man uit die dode: Hoofstuk 1

Chris Karsten het spesiaal vir Netwerk24-intekenare 'n spanningsverhaal vir die inperkingstyd geskryf. Man uit die dode gaan van 13 Julie tot 20 Augustus op Netwerk24 gepubliseer word. Lees elke week twee nuwe hoofstukke op Netwerk24.

Hoofstuk 1: Man uit die dode

In die toon van Italië. Dis waar Tony Acido se hart steeds lê. San Luca, aan die voet van die groot berge waar die Bonamico sy vloei kry. Maar dáár, in sy geliefde Kalabrië, sal hy nooit weer kom nie, dit weet hy. Nie eens hoegenaamd in Italië, selfs Europa nie. Al wat oorbly, is die verlange, en die herinneringe . . . meestal bloedig.

Sy ylingse vlug was lank terug, in daardie besete jare van die Vendetta van San Luca toe jou lewe nie ’n centesimo werd was nie! Van sy meelopers dog daar is veiligheid oor die grens in Duitsland of Holland, en kyk wat het met hulle gebeur – reguit hel toe geblaas! Nee, toe die son een oggend opkom, sit hy op ’n heel ander vasteland. In Orange Grove, Johannesburg se Little Italy, by afstammelinge van ’n amper vergete oom van sy ma, glo in 1941 in Abessinië gevang, POW in Suid-Afrika, bly agter ná die oorlog.

Nou het Tony Acido wéér probleme. Dié keer nie sy lewe wat bedreig word nie, maar sy sak, amper erger. En dit laat hy nie toe nie, daarvoor was sy offers te groot. Astrante mamparras wat dink hulle kan hom kom aanvat; báie het al so gedink.

Tony Acido. Dis die naam waarmee hy in Suid-Afrika aangekom het, die regte een het in San Luca agtergebly.

Maar in Johannesburg was hy ook ongerus, want hulle het lang arms, daardie ’Ndrangheta van Kalabrië. Hy ken hulle, hy is dan in hulle ingebore, die bloeddoop ondergaan, die kruis gekry op sy linkerskouer. En daarmee ook ’n hand sonder genade geword aan die einde van die einste lang arms. Pis in jou broek as jy die naam Antonio Marmo hoor. Álles net vir sy clan en vir sy capo crimine.

Nou kom bedreig hierdie vloeksels sy besighede! Wat weet hulle? Weet hulle van al die gierige palms wat hy moes salf? Weet hulle van elke hoek wat hy moes sny, elke wet wat hy moes oortree om die kontrakte vir die steenkool te kry? Weet hulle hoeveel geld hy moes uitlê voor die wiele van elke lorrie uiteindelik begin rol het?

Nee, maar hulle pak klippe, brand motorbande, sing opruiliedjies, toi-toi, stel memorandums op met klagtes en eise, eise, eise. Hy en sy vennote was redelik, het met die belhamels om ’n tafel gaan sit. Maar bied jy ’n pinkie aan, wil hulle die hele hand gryp. En in die oë merk hy politieke ambisies, en die onwil om te werk vir hulle geld – wil ’n oorpak aantrek, ’n baret op die kop plak, bedags in die parlement fascistiese vingers rondswaai, saans kapitalistiese Johnny Walker Black Label drink, die poppies trakteer op Mumm.

Nee, vir politieke riele val Tony Acido lankal nie meer nie. En hy weet presies wat hy nou moet doen, veral hoe hy dit moet doen.

’n Voorbeeld moet gestel word.

Ander moet na die voorbeeld kyk en vir mekaar sê: Osspruit? F*k nee, daar bly jy weg, dis Tony Acido se plek, kom ons gaan toi-toi liewer op Dukuduku of Gwala-Gwala.

Dis hoe hulle oor San Luca gepraat het, dis wat hy dáár gedoen het. Maar toe kry ’n stronzo mos ’n breinfloute, dink dis ’n goeie idee om die capo bastone te loop skiet, mis hom, skiet Maria Strangio moer toe. Boonop Kersdag! Skiet die baas se vrou en dink daar gaan nie gevolge wees nie. En om hulle eie gat te red begin almal skinder, sê hulle hoor ’n naam, hulle hoor Antonio Marmo het ambisies om oor te vat as ’n streekbaas.

Dis toe dat almal uitmekaar spat die grense oor.

*

In 2007 in Orange Grove ontmoet hy vir Livia. Haar pa, Cosimo Pelle, spog oor hoe hy met ’n fruit & veg shoppie in Louis Bothalaan begin het, sit nou met ’n groenteplaas en sewe makrogroentewinkels oor die hele Rand. Op ’n dag sê Cosimo hy hoor van so ’n besigheidjie, ’n minimarket, wat te koop is, op ’n plek met die naam Osspruit in Mpumalanga.

Wie wil dáár gaan bly? versmaad almal dit.

Beste besluit wat hy nóg geneem het . . . naas die vinnige padgee uit Kalabrië.

Tot die roervinke in Januarie 2020 kom en die plaaslike mense begin opsweep. Die oproere word al hoe erger, begin sy besighede en sy sak bedreig.

*

Einde Januarie is Livia en die kinders weer vir die naweek Orange Grove toe, hy en sy blonde pupetta op sy naweekplasie langs die Vaal. Saterdagaand, blootsbouds in die kooi, google hy op sy laptop, wys haar die toon, die see, die rivier, San Luca aan die hang van die Aspromonte waar hy sy eerste restaurantjie gehad het. In sy Pizzeria La Belva het die carabinieri smiddae kom pizza eet en chianti drink, kom grappies vertel en lag. Min wis die geregsdienaars dat agter in die pakkamer, by die sakke meel vir die pizzadeeg, die blikke tamatiesous, die blokke kaas, kanne kookolie, bottels wyn en olywe, ook twee spesiale groot plastiekdromme staan. Beurtelings vol bytsoda, aan’t wegvreet aan die liggaam van iemand wat sy capo bastone geaffronteer het, of loslippig was oor ’n clanlid se vrou.

Maar die dromme noem hy nie vir sy pupetta nie.

*

Hy en sy vennote se lorries loop 24/7 tussen die Goedgevondensteenkoolmyn by Ogies en die Majubakragstasie anderkant Amersfoort, en die dreuning van hulle dieselenjins deur die dorp is musiek in sy ore, soos die pragtige getingel van die kasregister in sy winkeltjie. Al is die winkel maar net ’n front, ’n wassery vir vuil geld. Soos hy afgekyk het by ou Domenico Oppedisano wat op tagtig nog, boers en ongeskeer, in sy driewielwêntjie vrugte uit sy boorde markte toe aangery het – en net ’n handvol het geweet dié ou man in sy ewe ou Piaggio Ape is eintlik die capo crimine van die hele ’Ndrangheta, grootbaas van seker toe die magtigste en rykste georganiseerde misdaadgroep in die wêreld, ryker as enige Colombiaanse of Mexikaanse dwelmkartel, groter as die Sisiliaanse Cosa Nostra.

*

Tony Acido erken dat hy nie een oggend in San Luca wakker geword het met ’n epifanie oor hoe hy ontslae kan raak van die liggaam van ’n dwarskop of sondesoeker nie. Dit het baie maande se selfstudie en eksperimentering geverg. Soos baie voor hom, het hy ook eers geglo suur is die antwoord, veral toe hy hoor dis hoe ’n Mafiadon dit in Sisilië doen. Daar is ’n goeie rede hoekom die Cosa Nostra en die ’Ndrangheta deur die Straat van Messina van mekaar se kele weggehou word, maar niks keer jou om te leer nie. En Filippo Marchese het skynbaar in ’n apartement in Palermo, wat hy die Kamer van die Dood genoem het, ’n baie suksesvolle operasie bedryf: hy het sý Mafiaopponente in ’n mengsel van swaelsuur en water laat bad – dis die water wat eintlik liggaamsweefsel afbreek, die korroderende suur versnel net die proses.

Die probleem is swaelsuur los nie alle beendere en tande heeltemal op nie en in een van Marchese se dromme is ’n slag drie galstene gekry, agtien stukkies been, twee stelle kunstande. Salpetersuur, so hoor Tony Acido toe, werk beter vir ’n spoorlose versapping. Maar van sure se erge risiko’s kom jy nie weg nie – die reaksies stel hitte en toksiese dampe vry, met salpetersuur selfs hoogs plofbare verbindings, soos nitrogliserien, hoofbestanddeel van dinamiet. Hy wil homself nie saam met ’n kadawer opblaas nie.

***

Op Osspruit spoel Januarie se straatbetogings oor tot in Februarie, en neem in felheid en gewelddadigheid toe. Groter klippe word gepak, groter boomtakke oor strate gesleep, meer bande verbrand, die singery intenser, die dansery uitdagender. Die steenkoollorries word vertraag, gedwing om van die teerpad af te wyk en met stofstrate tussen woonhuise deur weer op die R35 uit te kom. Die burgemeester weier om hulle memorandum te ontvang, en om te wys hoe ongelukkig hulle daaroor is, steek hulle twee munisipale voertuie aan die brand.

Tony Acido verneem die oproeriges kla, onder meer, oor misdaad en swak dienslewering in Bavukile; omdat die Majubakragstasie en New Denmarksteenkoolmyn nie plaaslike werkers in diens neem nie; omdat gesloer word om vir hulle plase te gee sodat hulle hulself ook kan ryk boer. Op sy rivierplasie boer Tony Acido nie, dis vir uitspan saam met vriende, om met sy motorboot te baljaar, bietjie karp en grootbekbaars uit te trek, sy blonde pupetta te vergas, met haar ’n draai te vlieg in sy Raven.

Maar op die dorp raak sake kritiek. Die betogings ontwrig en vertraag alles, en lorries wat nie loop nie, kos miljoene.

***

Die antwoord is alkalihidrolise. Dis wat wetenskaplikes die loogproses noem, glo al lank ’n beproefde metode om van dierkarkasse ontslae te raak. Natriumhidroksied, is die groot woord, eintlik sommer net ’n vorm van bytsoda – die korrels wat jy in die stort of kombuis se drein ingooi as hare of kos of ander bio-afval dit verstop het. En min, of geen, verstikkende dampe en giftige afskeidings soos met suur nie, net ’n effense reuk, en die eindproduk is ’n gesteriliseerde alkali-oplossing. Dit lyk soos sterk koffie, ruik soos seep, en jy spoel dit sommer saam met die kombuis se opwaswater in die drein af. In San Luca het hy ’n sif gebruik, net ingeval.

’n Landgenoot het die einste metode gebruik om van haar slagoffers ontslae te raak, al drie volwasse vroue. Leonarda Cianciulli, die arm Seepmaker van Correggio, 76 jaar oud met haar dood in 1970 in ’n gestig. Tony Acido het spesiaal van San Luca Rome toe gery om al die bewysstukke te gaan bekyk en haar polisieverklarings in die Museo Criminologico te gaan lees.

Leonarda het Faustina in stukke gesny en in ’n seeppot opgekook met bytsoda wat sy vir haar seepmakery gebruik het. Nadat alles opgelos is, het sy die vloeistof in haar septiese tenk gaan uitgooi. Ook Francesca en Virginia, ’n gewese operasangeres, is in bytsoda opgelos. Oor Virginia sê Leonarda in ’n verklaring:

Haar vleis was vet en wit en ek het ’n bottel reukwater bygevoeg, en nadat dit baie lank gekook het, het ek ’n heel skaflike, romerige seep gemaak. Ek het van die seepkoekies vir bure en kennisse gegee.

*

Die laaste gevallestudie wat Tony Acido destyds nagespeur het, net om seker te maak dat hy alles mooi verstaan in sy oorskakeling van suur tot loog, was dié van Santiago Meza López, die Brediemaker van ’n Mexikaanse dwelmkartel. Hy beweer hy en sy amigo El Teo het in net een jaar in bytsoda pozole gemaak van 300 lyke!

Die resep vir pozole het Tony later self uitgetoets, ’n tradisionele Mexikaanse bredie van mieliegruis en varkvleis, gekruie en gegarneer met gesnipperde kool en ’n salsa van rooirissies, uie, knoffel, radyse, tamatie en avokadopeer. Die geheim is dat die heel mieliepitte eers geweek en dan gekook word in ’n verdunde oplossing van loog, of gebluste kalk, gemeng met water. Die geswolle pitte word daarna goed gewas om van die bitter smaak ontslae te raak voor dit gemaal word.

***

Op Dinsdag 17 Maart ontplof nuwe oproere, eens so erg. Tony Acido kry al van voordag af oproepe en whatsapps. Jaag middedorp toe om sy winkel te gaan beskerm, hoor alle toegangsroetes na die dorp is versper met rotse en boomtakke, sien in die bleek oggend oral die kenmerkende swart rookwolke van buitebande wat brand.

By sy winkel is dit die stilte voor die storm. Hy ontbied hulp van Joe Nene. Joe sê hy kan nie help nie, hulle moet die munisipale kantore gaan beskerm.

Tony Acido staan op die stoep voor sy winkel, hoor die gedruis van ’n groot skare, dansend en singend uit Bavukile op pad, sien hulle later doer onder aankom, kieries en stokke en knuppels omhoog, agter ’n paar touleiers aan, een effe voor die ander om sy status te bevestig.

Die dorp se paar polisiemanne is magteloos, geen hulp nog uit omliggende dorpe nie, ander inwoners kruip agter deure weg, beangste gesigte agter gordyne.

Die massa-aksie rol aan, die dreunsang en voetgestamp in sy ore terwyl hy wag en nie weet hoe hy hulle gaan keer nie. En skielik begin ’n woede in hom opkook tot ’n furie wat hy in jare nie ervaar het nie, só intens dat hy vrees ’n aar gaan in sy kop bars.

Steenkoolvragmotors staan hulpeloos in die strate vasgekeer.

Hy sien skielik die blink skerf van die oggendson op glas in iemand se hand. ’n Bottel. En ’n lap, ’n vlam, ’n hand wat die bottel gooi. Hy hou die aksie dop, dis asof in vertraagde spoed. Nog ’n bottel deur die lug, nog een.

Dan niks.

Sy oë soek, die vlamme begin lek. En skielik is twee lorries se kajuite aan die brand. Drywers spring uit. Pandemonium. Die skare dans, juig.

Tony Acido staan verdwaas en onkapabel en toekyk hoe die twee vragmotors begin brand. Sý vragmotors, syne en sy vennote s’n. Miljoene rande se skade. En met al sy mag en geld en reputasie is hy impotent om iets daaraan te doen.

Maar wraak, dít ken Tony Acido, vendetta is in sy bloed.

Hy bestudeer die jong leiers met hulle knieë hoog, dansend, singend. Hy gaan by sy winkel in, sluit sy kantoorkluis oop, haal die pistool uit, gaan wag agter sy toonvenster. Sy personeel begin aankom, die twee kassiere, Sello die delivery boy, Dysie die rakpakker, die skoonmaker. Hy laat hulle in en sluit weer die deur en veiligheidshek. Hulle wag, oë op die straat, op die aankomende skare. ’n Klip tref die venster. Hulle koes. Nog klippe. Tony Acido lig sy pistool, hou die jong leier dop, tot hy elke gelaatstrek op sy gesig ken. Dis die een wat hy gaan skiet. Selfverdediging.

*

Sirenes, die dieper gedreun van dieselenjins wat hy herken: die Casspirs en Njalas van POPS, Public Order Policing. Hy merk verlig hoe die skare stadig tot stilstand begin kom. Hulle hoor dit ook, kyk om na die aankomende skynsel van flitsende ligte, rooi en blou, saam met die sirenes.

Die jong leier gil en beduie. Tony Acido druk die wapen in sy sak en neem foto’s met sy selfoon.Die skare draai terug na die nuwe bedreiging.

Die glasinstalleerders kom nog dieselfde middag. Die aand ontbied hy Joe Nene na sy huis. Hulle bestudeer die foto’s, bespreek strategie. Die belhamels moet geïdentifiseer word. Hy vertrou Joe. Buitendien, Tony Acido maak lankal nie meer sy hande vuil nie, dis Joe se werk.

Met Tony’s Minimarket se Mahindra gaan koop Joe by die koöperasie op Standerton drie plastiekdromme van 210 liter elk, bloues en UV-bestand, met rubberseëls en gegalvaniseerde klemringe wat die deksels waterdig sluit. Dromme van plastiek, want vir korroderende mengsels gebruik jy plastiek, nooit metaaldromme nie. Hy koop ook ses 5 kg-pakke bytsoda, sê dis vir sy vrou, sy gooi lekkerruikolies by en maak mooi sepies wat sy op vlooimarkte verkoop.

Die dromme en bytsoda word by die winkelvoorraad in die groot pakkamer agter Tony’s Minimarket geberg.

*

Wat sake vir Tony Acido se dreigende stuipe vererger, is dat daar nou skielik snags ook strooibiljette op die dorp versprei word. Die pamflette is bitsig en lasterlik teen die steenkoollorries.
 
                                                                     Staan op voor dit te laat is!

                                                                      Die lorries maak ons dorp                                

                                                                           En sy mense dood!
 
Een wat hom veral laat stik, en hy kan dink hoe dit die tonge losmaak:

                                                              Die steenkoollorries se stof en gasse

                                                                          Besoedel ons liggame!

                                                                      Dit maak swanger ma’s siek!

                                                                   Dit veroorsaak gebreklike babas!

                                                                                      ***

Op Maandag 23 Maart kondig die president ’n voorgenome virusinperking af. Alle beweging en sakebedrywighede word opgeskort, behalwe noodsaaklike dienste. Tony Acido vryf sy palms, hulle steenkoollorries lewer ’n noodsaaklike diens, en dis die kans vir sy vendetta.

Dinsdag verdwyn die eerste jong aanhitser van Osspruit se opstande, Woensdag die tweede een. Donderdag kom die land tot stilstand. Die Saterdag spoel hy en Joe die twee gewese belhamels deur ’n sif in die rioolput op sy rivierplasie in. Die enkele stukkies beendere lig hy met sy rubberhandskoene uit die sif op. Hy beskou dit aandagtig, verkrummel dan stadig elkeen soos ’n broskoekie tussen duim en wysvinger, strooi dit oor sy kikoejoegrasperk.

*

Saam met die virusinperking kom relatiewe vrede – behalwe vir die nimmereindigende gedreun van lorries en die pamflette wat steeds deur nagtelike skimme op die dorp versprei word. Tony Acido se nuwe irritasie begin weer prut. Hy kry ook oproepe van joernaliste wat vra of dit sý lorries is wat sy eie dorp so vertrap, sy eie dorpsmense so siek maak met stof en uitlaatgas, die babas, die swanger vroue, die bejaardes.

Die inperkings word op 1 Junie tot vlak drie verlig en Livia besluit om daardie eerste naweek weer ’n slag by haar familie te gaan kuier, ry met ’n besigheidspermit Orange Grove toe. Tony Acido het nie ’n permit nodig om sy blonde pupetta rivierplasie toe te vat vir die naweek nie.

Hy kook bredie en hulle sluk die pozole af met twee bottels Barbera d’Asti uit Piedmont, waarna hulle uitwyk bed toe.

Daar verstyf sy op ’n kritieke oomblik, beskuldig hom: “Jy belowe net, maar niks gebeur nie, gebruik my net vir seks. Jy sê jy gaan haar los, maar jy los haar nie.”

“Komaan, cuore mio . . . Wanneer sy terug is, dan praat ek met haar.”

“Dis wat jy altyd flippen sê, maar jy praat nooit met haar nie.” En sy gaan net aan en aan, bly kerm en karring. Draai haar rug op hom. Dit maak hom moerig.

*

Sondagoggend vra hy haar: “Wie’s Joshua Lamberts?” Sy weet alles, ken almal, hier gebore en geskool, dalk nie gekerk nie.

“Jy bedoel Josh wat die briewe skryf, aan koerante oor hoe die lorries ons dorp verniel? Ek hoor hy skryf nou ook briewe vir daardie meisiekind in Swede, om te kom kyk wat hier op Osspruit aangaan, met die hele wêreld se joernaliste en TV-mense agter haar aan. Dat hulle kan sien wat doen Eskom en die steenkoolmyne en die lorries . . . jóú flippen lorries!”

Die wêreld se joernaliste? Dis of iets in hom knak.

En toe hy klaar is, stamp hy haar by die huis uit, skree: “Sticchio! Loop met jou voete terug dorp toe.”

Met haar voete en met haar blou oog en stukkende lip, vir almal om te sien watse tert sy eintlik is.

  • Chris Karsten se nuwe roman Die versoeking van Thomas Maas verskyn op 20 September en sal as gedrukte en e-boek beskikbaar wees.
  • Die volledige Man uit die dode sal teen middel November op die rakke wees.
Meer oor:  Chris Karsten  |  Vervolgverhaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.