Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Marais keer terug na jeugtyd met sy poësie

Die digter Johann Lodewyk Marais het vanjaar twee digbundels voltooi. Hy hoop dié bundels word ook gelees deur mense wat nie gewoonlik poësie lees nie, want gedigte help mense om hul gewete as rentmeesters van die natuur op te skerp. Hy het met AJ Opperman gesels. 

Johann Lodewyk Marais glo om poësie te lees bring ’n ryker ervaring van die natuur mee.

Daarom hoop hy sy twee nuwe digbundels word ook gelees deur mense wat nie gewoonlik gedigte lees nie.

“Sodoende kan almal betrek word wat in die natuur belang stel,” sê Marais.

Johann Lodewyk Marais in die Golden Gate-Hoogland Nasionale Park in die Oos-Vrystaat. Foto: A. Steynberg

“Ons is tog nie net in koue, wetenskaplike kennis geïnteresseerd nie. Die verwondering deur digkuns stimuleer 'n meer geskakeerde ervaring van die wêreld en is ook noodsaaklik om ons gewete as rentmeesters van die natuur op te skerp.”

Ondertussen is deur Naledi uitgereik en Veldboek verskyn eersdaags by Imprimatur, ’n uitgewer in Pretoria.

Die bundels het onder verskillende omstandighede gestalte gekry.

“Die gedigte in Ondertussen is meestal oor 'n lang tydperk geskryf, terwyl Veldboek die afgelope twee of drie jaar ontstaan het. Laasgenoemde was 'n meer gefokuste onderneming om uitgebreid oor bome, blomme en ander soorte plantaardiges te skryf. My liefde vir die flora het vroeg begin, maar is tydens meer onlangse staptogte en reise verder gestimuleer.”

Sy gedigte herinner dié leser aan die uitdrukking “oor teen die grond”.

“Hoeveel skrywers skryf glad nie oor hul jeugjare nie? Ek het goeie kinderjare gehad en sedert my tweede bundel, Palimpses (1987), moeite gedoen om oor hierdie ervarings te skryf.”

Hy is lief vir die natuur.

Maar die “spanning” tussen stad en die landelike omgewing is deel van sy bestaan.

“Ek is heeltemal gemaklik in die stad waar ek tewens my brood moet verdien.”

Hy woon in Pretoria.

Stede soos Johannesburg, Maputo, Nairobi, Amsterdam, Parys en Rome het 'n groot indruk op hom gemaak.

“Wanneer ek buite die stad is, mis ek gou 'n goeie biblioteek en die boekwinkels.”

Marais is in Johannesburg gebore en het die eerste 12 jaar van sy lewe op die familieplaas Sans Souci in die distrik Harrismith in die Oos-Vrystaat deurgebring. “Ek het groot waardering vir die natuurlike omgewing, wat ek heel dikwels maar in die stad moet soek. Wanneer ek hoegenaamd kan, bring ek graag tyd buite die stad in die natuur deur. My digbundels getuig van hoe belangrik die natuur vir my is om volledig mens te wees.”

Rondom die plaashuis was bloekoms, seders en denne.

‘Ondertussen’ deur Johann Lodewyk Marais

“Bome was 'n durende teenwoordigheid. Daardie geluid van die wind in die bome sal my altyd bybly. Van die inheemse bome in die berge en klowe het ek eers later bewus geword.

“In die Laeveld en die Bosveld het ek met die ryke verskeidenheid van inheemse bome kennis gemaak.”

Met die skryf van Veldboek het hy spesifieke plant- en blomspesies beter leer ken.

“Die veldgidse Piet van Wyk, Jo Onderstall ('n oudinwoner van Harrismith) en Elsa Pooley het baie daartoe bygedra om plante te identifiseer wat ek in die natuur ervaar het.”

Hy besoek graag die Waterberg.

Dit is onvermydelik om van dié gebied te praat sonder om die digter Eugène N. Marais se naam te noem.

“Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het.”

Op die passasiersitplek langs Marais het gelê: Leon Rousseau se biografie Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais en twee of drie topografiese kaarte en 'n aantekeningboek.

“Marais het my reeds as jong leser geboei en dit was die plek waar my reise op Marais se spore begin het. Sedertdien boei dié streek my nog steeds en is dit elke keer vir my 'n verrassing om in hierdie natuur tuis te kom. Die afgelope jare was daar die geleentheid om meer dikwels in die Waterberg te kom.”

Marais het sy doktorale proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa gedoen.

Tog het uiteenlopende mense ’n indruk op hom gemaak: Elsa Joubert, Anne Frank, Hendrik Witbooi, Louis Eksteen, Vincent van Gogh en die Iranse Siamese tweeling Landan en Laleh Bijani wat in 2003 gesterf het.

Hy skryf oor hulle in Ondertussen.

“Oor 'n klompie van hulle kon ek gedigte skryf. Hulle is skrywers, kunstenaars, vryheidsvegters, geteisterde mense en bowenal gewone mense wat verdien om in die herinnering te bly voortleef. Daar is verskillende fasette wat my belangstelling prikkel, maar, dink ek, veral die uniekheid van elkeen van hierdie mense.”

Johann Lodewyk Marais glo om poësie te lees bring ’n ryker ervaring van die natuur mee. Foto: A. Steynberg

Met die gedigte in Ondertussen keer hy telkens terug na sy jeug.

“Hoeveel skrywers skryf glad nie oor hul jeugjare nie? Ek het goeie kinderjare gehad en sedert my tweede bundel, Palimpses (1987), moeite gedoen om oor hierdie ervarings te skryf.”

Dié skryfproses het Marais gehelp om baie oomblikke uit sy jeug oop te skryf.

Sy pa het op die plaas ’n bos sleutels gehad wat dateer uit die tydperk waarin die gesin in Johannesburg gewoon het toe hy in die Ou Fort gewerk het.

Dié sleutels sowel as sy ouers se vertellings oor hul tyd in die stad het Marais se verbeelding aangegryp.

“Ek is in die Queen Elizabeth Nursing Home (of Queen Vic) agter die Ou Fort gebore. Suid-Afrika se konstitusionele hof is in die Ou Fort agter die Queen Vic gevestig. Ek is op 21 Desember gebore en is sowel 'n Steenbok as Boogskutter. Hierdie gebeure rondom my geboorte suggereer 'n soort spanning.”

“Gebeure in die Arabiese wêreld en in die Horing van Afrika vind weerklank in my gedigte in onder meer Ondertussen en help moontlik om 'n meer geskakeerde beeld van die kontinent te gee."

Hy sê sy gedigte dek ’n wye spektrum ervarings in tyd en ruimte.

Hy skryf egter selde dadelik oor ervarings.

“My gedigte is nie ‘dagboekinskrywings’ nie, maar dit kan wel na spesifieke ervarings of herinneringe teruggevoer word, wat eers jare later uit die laaie van die geheue te voorskyn kan tree. Perspektiewe en insig waaroor 'n mens later beskik, help gewoonlik om vorm aan 'n gedig te gee.”

Sy gedigte tree dikwels in gesprek met ander tekste en die literêre tradisie.

Ondertussen bestaan uit ’n versreël deur N.P. van Wyk Louw. Marais het ook ’n gedig “Piromaan” geskryf, ook die titel van ’n gedig deur Louw.

“Byna in alles wat 'n mens skryf, is daar tewens die spore van ander tekste. Hierdie spore kan baie eksplisiet, verbloemd of ontwykend wees. Die tekste wat my horisonne verbreed, kan literêr of wetenskaplik van aard wees.”

Johann Lodewyk Marais aanvaar dit as vanselfsprekend om oor Afrika te skryf.

Marais vind dit as vanselfsprekend om oor die bestaan in Afrika te skryf.

“Die Afrikaanse literatuur gee uiteraard op verskillende maniere rekenskap van ’n ervaring om van of in Afrika te wees. Daar is iets skisofrenies in ’n literatuur wat nie met hierdie werklikheid rekening hou en dit tot spreke bring nie.”

Hy dink daar is nie genoeg betrokkenheid deur skrywers oor die gebeure op die vasteland nie.

Die aktualiteit van gebeure in Afrika spreek tot hom.

Dit sluit in gebiede soos Oos- en Sentraal-Afrika.

“Gebeure in die Arabiese wêreld en in die Horing van Afrika vind weerklank in my gedigte in onder meer Ondertussen en help moontlik om 'n meer geskakeerde beeld van die kontinent te gee. Ek probeer ook om elke gedig so goed moontlik af te rond.”

Hy beskou letterkunde en veral poësie as ’n menslike poging om die werklikheid uit te beeld.

“As digter is ek natuurlik ook 'n pleitbesorger vir die lewe om ons en die reg om voort te bestaan.”

Meer oor:  Pretoria  |  Skrywers  |  Bome  |  Poësie  |  Afrika  |  Boeke  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.