Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Marais pak Afrikaans aan die skouers beet

Poësie

Jan, Piet, Koos en Jakob

Loftus Marais

HUMAN & ROUSSEAU, R250

Verrassende bundeltitels is nie ongewoon in Loftus Marais se oeuvre nie. Sy vorige twee bundels het geheet Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) en Kry my by die gewone plek aguur (2011). Sy jongste bundel Jan, Piet, Koos en Jakob sluit dus aan by sy gebruik om ’n frase uit gewone praat-Afrikaans te gebruik as titel.

By die eerste oogopslag vermoed ’n mens dat jy hier te doen gaan hê met ’n soort naamlys wat gedigte oor manlike persoonlikhede en manlike identiteite sal insluit, met as toegif daarby ’n speelse verwysing na die manlike orgaan wat soms Jakob genoem word. Uit die verwagte naamlys ontvou daar egter iets veel ryker en veelseggender as wat ’n mens verwag.

Die name staan meestal in die titels van die gedigte, maar soms ook daarin. Dit kan die naam van ’n persoon wees, maar is partymaal ook die volksnaam vir iets soos ’n kamerpot (“Koos”), ’n spinnekop (“Piet Langpoot”), die suidoostewind (“Jantjie Skuinsdwars”) of die son (“Jan Bantam”).

Soms word die name geput uit idiomatiese segswyses (“Bang Jan dooie Jan”, “Die ware Jakob”, “Jakobregop/Jakobslap”), rympies (“Jan Balie”) of liedjies (“Jan Pierewiet”). Ander kere is dit weggesteek in ’n woord (“Studentikoos”, “Pietà”) of is dit name wat in die volksmond aan bepaalde persoonlikheidstipes gegee word (“Piet Snot”, “Jan-salie”, “Piet Verdriet”, “Jakob Eensnaar”). Party is selfgemaak soos “Piet Pixel”, “Piet Pectoral” en “jakobus kreatien”.

Dié kort inventaris behoort lesers ’n idee te gee van die woordspelerigheid, verbeeldingrykheid en vernuf wat hulle te wagte kan wees in hierdie bundel.

Marais pak Afrikaans aan die skouers beet, skud ’n klomp vergete woorde in die taal wakker en laat hulle in ’n hedendaagse konteks werk.

Marais pak Afrikaans by wyse van spreke aan die skouers beet, skud ’n klomp vergete woorde in die taal wakker en laat hulle in ’n hedendaagse konteks werk.

Naamgee en gedigmaak is pasmaats in hierdie bundel.

Die inleidingsgedig “Jakob Engelstoeier” lyk op die oog af na ’n beskrywende gedig oor die Bybelse Jakob se geveg met die engel. Mettertyd raak dit egter duidelik dat dit ook gaan oor die stryd om ’n gedig te maak, om jou (digterlike) stem te vind en name te vind vir dinge. Dit blyk veral uit die slotreëls:

die enigste gereedskap wat ek het is lyf

en ná die inspan, met g’n wenner nie, eers dan

die liggaam se vermetelste voortbrengsel, stem:

 

Hy besef dat die digterlike ambag ’n luukse ver verwyderd van die harde realiteit van oorlewing is.

Die digter-spreker in die bundel is deurgaans bewus van sy eie beperkinge en die relatiewe waarde van iets soos die digkuns in die groter wêreld. Hy besef dat die digterlike ambag ’n luukse ver verwyderd van die harde realiteit van oorlewing is wanneer hy sien hoe werklose mense hulle ambagte op stukke karton adverteer om ’n werk te kry in “’Alleman’”.

Hy is ook volledig bewus daarvan dat hy miskien besig is om op kunsmatige wyse betekenis te projekteer op bepaalde verskynsels eerder as om hulle in eie reg te beskryf. In “Piet Langpoot” wil hy die spinnekop lees as “ ’n rapsie mite” en ’n “knaksel mensevrees”, maar vermaan homself dan om op te hou om die langpoot se litte “as ’n raamwerk / vir sy eie denke” te gebruik.

Naamgee is net soos die skryf van gedigte ’n vorm van ordening en betekenis gee. In die gedig “Name” word die naellakvoorletters op ’n Tupperware-bak of ’n verpleegster se naam­balkie voorgehou as ’n manier waarop ons die wêreld en onsself kenbaar maak.

Hierteenoor verwys die gedig “Wit man” na die wyse waarop slawe se name verander is om hulle te onderwerp en te vorm na hulle besitters se wil, terwyl “By Lara se doop” praat oor die familierituele wat gepaard gaan met die gee van ’n naam aan ’n kind.

Daar is gedigte oor liefde, seks, cruising en impotensie.

Die besinning oor name kom tot ’n grimmige afsluiting in die bundel se slotgedig “Bloukoos”, ’n volksnaam vir die duiwel, wat die nuwe aankomelinge in sy domein staan en inwag met die boek waarin hulle name aangeteken is. Sosiale kwessies en metafisiese probleme word dus ook hier aangespreek.

Daar is ook ’n rykdom van ander temas wat hulleself buite-om die naamgee-tema aanmeld. Daar is gedigte oor liefde, seks, cruising en impotensie waarin die klem meermale val op die kwesbaarheid van diegene wat liefhet (soos in die mooi gedig “Hakskeen”).

’n Mens vind ook gedigte wat die stadsomgewing in al sy diversiteit ontgin (’n botsing in Malibongwe Drive, oranjegeel appelkose in die Food Lovers Market, desperate werksoekers voor die Builders Express, narsistiese spierbouers in die gim.). Daar word vernuwend voortgedig op die werk van digters soos Andrew McMillan, Marilyn Hacker en Eugenio Montale, maar ook gepraat met dié soort digter wie se Franse motto’s die spreker grensloos irriteer (“Jakobyn”).

Die digter Loftus Marais. Foto: Elle Oosthuizen

Daar is ook boeiende waarnemings van die werk van kunstenaars soos Pierneef, Peter  Clarke en Michelangelo (in die gedig “Pietà” kry die gewoonlik swygsame moeder van Christus byvoorbeeld die geleentheid om haar opinie te lug).

In sommige gedigte keer die spreker terug na momente uit sy kindertyd, soos “Plaasherinnering” waarin hy wonder of onthou die “les van ’n soort dors, of net die goedkoop opgaar van die rare” is.

Daar is ook die “tegnonostalgie” vir gedateerde vorme van tegnologie soos die VHS-kasset en die “dot matrix printer” met die papier waarvan die afskeurstrokies hom herinner aan die “vasmaakdeel van naambandjies in hospitale”. “Die groot digteres probeer parkeer” is op sy beurt ’n juweel waarin die digteres se parkeerpoging beskryf word met poësie-terme soos spondee, enjambement en sonnet (“parallel parkeer is moontlik die sonnet van karbestuur”, besluit die spreker).

Soos in sy vorige bundels imponeer Loftus Marais met die manier waarop hy poësie haal uit die alledaagse. Hy skep struktuur in sy bundel met die aanlê van die naamgee-patroon, maar hanteer dit met ’n ligte hand sodat dit nie ’n beklemmende borstrok word nie. Daar is verskeidenheid, verbeelding, vormvernuf, diepgang en ook humor. Vir meer kan ’n poësieleser nie vra nie.

Louise Viljoen is professor in Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Jan  |  Resensies  |  Gedigte  |  Piet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.