Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Maretha Maartens wen 1ste prys met gedig vir haar ma

Dit wat sy vir haar ma wou sê een dag kort voor haar dood, het sy nou in die gedig “Peperboom” gesê.

So sê die skrywer en digter Maretha Maartens, vanjaar se wenner van die Afrikaanse kategorie van die vierde Avbob-poësiekompetisie.

Maartens onthou die dag toe haar ma voor haar kamervenster gesit en uitkyk het op die kaal wintertuin. Sy het gesê: “Kyk hoe kaal is die bome.”

“My ma was ’n blymoedige vrou, met ’n heerlike humorsin. Daardie dag toe sy so oor die wintertuin uitkyk, was ek te bang om verder te praat. Dit was asof sy iets wou sê oor haar naderende dood. Jare later het ons in ’n huis ingetrek met ’n peperboom, ek het besef hoe hardnekkig die boom is, al saag jy hom af, hy herleef deur sy takke. Ek wou in die gedig sê wat ek daardie dag vir my ma wou sê.”

Maartens se ma, Jacoba Danilina, is in 2005 dood.

Die digkompetisie rondom die temas liefde, hoop, dood en geboorte het vier jaar gelede ontstaan. Suid-Afrikaners van alle ouderdomme word genooi om gedigte in al 11 amptelike landstale in te skryf. Ná drie jaar is die resultaat ’n gemeenskap van meer as 18 000 toegewyde digters, meer as 80 000 gedigte wat ingeskryf is en meer as 10 000 gedigte wat tans beskikbaar is as deel van ’n gratis aanlyn biblioteek.

Vanjaar se Avbob-poësiegala-aand, met Rozanne McKenzie as gasvrou, is Donderdag aanlyn aangebied.

Die woordkunstenaars Puno Selesho, Kedibone Mphethi, Loftus Marais en Given Masilela het van hul eie werk voorgedra asook gedigte uit Avbob se gedrukte bloemlesing.

Carl van der Riet, Avbob se bestuurshoof, die Engelse redakteur Douglas Reid Skinner en die digter en dosent Liesl Jobson was die gassprekers. Hulle het oor die meriete van poësie as deel van die rouproses en die maatskaplike nut en waarde daarvan gepraat.

Op die geleentheid is volume 3 van die Avbob-poësiebloemlesing bekend gestel. Die jongste bloemlesing, saamgestel deur Johann de Lange, die kompetisie se hoofredakteur, in samewerking met die digter en skrywer Goodenough Mashego, bevat 102 plaaslik geskrewe gedigte waarvan 66 (ses in elke ampstaal) in opdrag geskryf is, 33 deur die eerste- tot derdepryswenners in elke taalkategorie en drie gedigte in die |Xam-taal wat besig is om uit te sterf.

De Lange glo dit is belangrik om Suid-Afrika se inheemse tale te bewaar.

“Geskiedenis op sigself vertel nie die hele verhaal van die mens nie, die kunste vorm die ander helfte en taal is die menslikste ding wat ons het. Dit is ook deur en deur verweef met wie ons is en waar ons is,” sê hy.

“Taal is nie net ’n deursigtige medium wat ons gebruik om dinge te sê nie – dit is die kwas, dit is die skilderdoek. Dit skep werklikheid. Daarom is poësie ’n kragtige medium.’

Die wenners van die tweede en derde prys in Afrikaans is onderskeidelik Maritha Broschk en Hannes Visser. Bernice Puleng-Masala het die Engelse kategorie gewen, met Archie Swanson en Mike Linden wat onderskeidelik tweede en derde is.

Besoek die webblad om die volledige lys wenners in die ander landstale te sien.

• Avbob se aanlyn poësieversameling is by avbobpoetry.co.za beskikbaar.

• Volume 3 van I Wish I’d Said kan by www.naledi.online of 078 648 8616 bestel word en is by vooraanstaande boekwinkels beskikbaar. Die woord “poem” kan ook na 48423 (teen ’n standaardkoste van R1,50 per SMS) gestuur word om die bundel per pos te ontvang, teen ’n totale koste van R240.

KASSIE

Peperboom

Maretha Maartens

“Geil en goed gegroei om só verwoes te word.”

Die lem vibreer deur bas en duramen

en jy, suurstofsoekend voor die venster,

kreun oor die peperboomstam wat grond toe stort.

Ma, jy was tog lewenslank lembestand

onknakbaar sterk en doodweerstandig

ons lowerryke peperboom

huisboom, groen baken van ons binneland.

Ons het ons honger en nood voor jou oopgegooi

en die bessies wat jy strooi soos die sysies

streepkoppies en rooirugsaadvreters opgepik.

Weet jy, Ma, daardie bessies was genesend rooi.

“Aan ’n peperboom,” het jy gesê, “kleef daar ’n eenvoudigheid

wat aan saadvretervoëls en koeltesoekers bied wat hulle soek.”

Toe jy gekreun het omdat die stam dwarsdeur sy pithout knak

ou huilboom, huisboom in jou gewaande onaansienlikheid moes ek gesê het: “Die boomsaer dink hy vát jou, Ma, maar die takke uit jou stam sal jou peperbessies dra.”

Meer oor:  Avbob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.