Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Marita vertel ons almal se storie

In haar jeugmemoires deel Marita van der Vyver haar eie verhaal en dié van die land, taal, boeke en skrywers wat haar gevorm het, maar uiteindelik word ‘ ’n Baie lang brief aan my dogter’ ons almal se storie, skryf Annelise Erasmus.

Dié foto waarop Marita van der Vyver ingenome toekyk hoe haar enigste dogter, Mia, lees, is een van haar persoonlike gunstelinge.

’n Baie lang brief aan my dogter deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R330.

Did you have a good world when you died?

Enough to base a movie on?

– Jim Morrison in The Movie

’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver se outobiografie, of ten minste ’n deel daarvan, omdat die verhaal ongeveer eindig wanneer sy klaarmaak met skool.

’n Outobiografie wat “reg” geskryf word, is nie net ’n verhaal wat iemand oor hulle eie lewe vertel nie. In die hande van ’n skrywer wat daagliks met woorde woeker en die regte soort kennis het, kan dit soveel meer word. Marita van der Vyver is só iemand.

’n Blitsige, oppervlakkige internetsoektog na inligting oor hierdie genre lei ’n mens na massas leesstof wat oor dié kunsvorm geskryf is. Die versoeking is groot om in ’n wonderlike filosofiese en literêre gat af te spring waaruit jy nie gou weer sal wil klouter nie, maar daar is veel slimmer mense wat aan só ’n soort resensie reg sal kan laat geskied.

Met erkenning aan die diep, ryke grond waarin die vrugte groei wat die leser van ’n Baie lang brief aan my dogter sou kon pluk, vra ek by voorbaat om verskoning vir my banale vergelyking met die sosiale media, spesifiek Facebook, as ’n moderne vorm van outobiografie skryf. Van der Vyver verklaar self op bl. 77: “Dagboeke het weliswaar ’n bedreigde spesie geword . . . hedendaagse skrywers sal eerder hulle daaglikse gedagtes in blogs op die internet vasvang . . .”

Op die foto is Mia aan wie Marita se jeugme­moires, ’n Baie lang brief aan my dogter, gerig is.

Ek wonder altyd waarom enigiemand ’n outobiografie sal wil skryf – ’n vraag waarop elke skrywer waarskynlik ’n unieke antwoord sal hê. Van der Vyver skryf op bl. 101: “En as ék môre moet doodgaan? Dis wat ek myself moes afvra. Wat is die een boek wat ek nog graag sou wou geskryf het? Die antwoord was dadelik dáár, asof ’n lig aangeknip is in die agterkamer waar ek nog altyd die gedagte aan memoires weggepak het. Ek wil my eie storie, in my eie woorde, vir my dogter vertel.”

Ook lesers van outobiografieë het elkeen hul redes waarom hulle graag dié genre lees. Party hou van ’n outobiografie omdat dit oor ’n bekende gaan wie se wel en wee (en vreugdes en skandes) hulle volg. Ander lees dit omdat die skrywer iets uitsonderliks ervaar of gedoen het, soos die outobiografie van ’n sportman of iemand wat ontvoer is en wonderbaarlik ontsnap het. Nog ’n klomp geniet outobiografieë omdat hulle van mense hou, en ’n ander lot hou weer van idees. ’n Baie lang brief aan my dogter sal in al hierdie uiteenlopende behoeftes voorsien.

Van der Vyver verduidelik op bl. 75 waarom sy self skrywers se memoires lees: “Die meeste fiksieskrywers loop lewenslank toontjie vir toontjie op ’n dun lyn tussen werklikheid en verbeelding . . . Dis waarom ek graag skrywers se me­moires lees, in die hoop dat ek sal agterkom hoe hulle daardie balanseertoertjie op die dun lyn regkry.”

Hoe verder ek lees gelees het, hoe meer het ek gewonder: Ry die skrywer op my tong of ek op hare?

Dit is alles ook redes waarom ’n mens iemand op Facebook sal volg, maar net soos op die sosiale media moet jy dié boek nie op ’n eerste inskrywing beoordeel nie. As jy, soos die uwe, nie regtig belang stel in Facebook-inskrywings oor hoe slim iemand se kinders is, of hoe hulle al van geboorte af wêreldreisigers is, of hoe vroeg hulle al Camus gelees het nie, sal jy ná die eerste paar inskrywings dalk nie die res wil lees nie, maar dit sou ’n fout wees. As jy haar ophou volg omdat dit voel of sy heel eerste wil seker maak jy weet sy is aan die “regte” kant van al die maatskaplike kwessies, sal jy die storie ophou lees nog voor dit begin – iets wat onregverdig sou wees teenoor die skrywer én die leser.

Net soos op Facebook leer die leser stadig maar seker die hoofkarakter deur haar eie woorde ken en word dít wat jou in die eerste hoofstuk kon pla, ook sagter omdat die konteks nou duidelik is. Jy verstaan die skrywer wil vergelykings tref.

Mettertyd ontdek jy nog redes waarom die outobiografie van ’n lewenslange leser en skrywer wonderlike leesstof kan wees. Terwyl die stukkie lewe wat vertel word, vir baie van ons wat ook in Suid-Afrika grootgeword het dalk redelik alledaags is, kan dieselfde nie gesê word van die interessante geskiedkundige brokkies en die verwysings na ander boeke en skrywers en die filosofie nie.

Hier is Marita self, op min of meer dieselfde ouderdom, met vier dekades tussen die twee kiekies.

Hierdie leser het haarself herken in die magdom gedeelde ervarings en gebeure wat ons meegemaak het, en só voel dit in ’n mate of Van der Vyver in haar jeugmemoires ook die leser se biografie vertel. Hoe verder ek lees gelees het, hoe meer het ek gewonder: Ry die skrywer op my tong of ek op hare?

Ook Van der Vyver se eerste gewaarwording van die dood en haar eie verganklikheid eggo dié leser s’n – die skuldgevoel waarmee jy deur jou lewe loop sodat jy vir alles verskoning maak, die molestering, die gevoel dat dinge nie sin maak nie, die ongemak met die wêreld waarin ons geleef het. Hierdie skrywer is “ons”. Sy staan in vir almal wat dogters het, vir elke leser wat lief is vir tweedehandse boeke, vir elke skaam boekwurm. Jy identifiseer aanhoudend met haar – eers as ’n leser, soms as ’n skrywer, en ook as ’n vrou tot jy besef “ons is maar almal op ’n manier so”.

’n Baie lang brief aan my dogter lees soos ’n bewussynstroom. Dit is informeel en onpretensieus soos wat ’n mens sou verwag van ’n brief aan ’n dogter. Dit wroeg nie, wat ’n verligting is, maar dis ook nogal onemosioneel, so al asof afstand altyd gehandhaaf moet word.

Soos ’n goeie ma wat weet dit is nie nodig dat jou kinders al jou geheime weet nie, raak-raak Van der Vyver soms net aan ’n herinnering, maar soos ’n goeie skrywer wat weet hoe om ’n storie te vertel, is daar telkens genoeg drama wat die leser verder laat lees.

En soos dit ’n kenner van sprokies betaam, strooi Van der Vyver krummelpaadjies waarmee lesers wat ’n boek sinnetjie vir sinnetjie proe, kan afdraai om in die dieper grond van die letterkunde, waarvan jy heeltyd bewus is, te gaan rondkrap.

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.