Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
McEwan se geel boekie vir leser met ’n smoel vir satire

Fiksie

The Cockroach

Ian McEwan

JONATHAN CAPE, R175

Literêre duimgooiery (’n term van T.T. Cloete) is hoe ’n mens die jongste novelle van Ian McEwan, The Cockroach, ten beste sou kon beskryf.

Dit is ’n klein boekie van 100 bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose en al die bekende satirici wat politieke en sosiale omgerymdhede aan die kaak gestel het.

Boonop gooi hy duim ook langs die politieke woelinge in Brittanje.

Hier te lande is Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein van 1976 ’n briljante voorbeeld van satire: die skrywer plant ’n teoretikus se siening oor satire in die roman as ’n sleutel.

Dit is ’n klein boekie van 100 bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose.

Satire werk immer met ironie, hiperbool én sarkasme. D.C. Muecke se bekende studie The Compass of Irony (Methuen,1969), en al die merkers van ironie, word ryklik deur McEwan se novelle geaktiveer.

Ene Jim Sams word een oggend wakker en besef hy het in ’n groot kreatuur verander. Hierdie metamorfose verwys natuurlik na Kafka. McEwan plaas die gegewe binne die Britse domein: Die mees gesiene man in Engeland word nie deur reëls aan bande gelê nie. Nie eens deur sy eie party nie . . .

Brexit is kompleks en wat ’n mens op CNN waarneem is net die tippie van die ysberg. Hoe meer ’n mens as buitestander lees, hoe minder begryp jy al die intriges. Wat ons onmiddellik by die eerste kwessie van hierdie novelle bring: dit is geskryf vir ’n in-leser wat al die nudge-nudge, wink-wink-verwysings sal snap.

Die buite-leser geniet wel die besondere styl en aanslag.

Die ooreenkomste tussen lewendes en dooies (so lees ons in die opdrag) is toevallig. Jy kan egter nie die rolspelers met vreemde haarstyle en ’n vreemde gebit miskyk nie. En nie die “scorn of derision” (bl. 97) nie. Downing Street is hier, die Division Bell, en ene president Tupper.

In Love Actually, Richard Curtis se briljante rolprent van 2003, vertolk Hugh Grant die eerste minister. Sy ikoniese danstoneel op “Jump for My Love” laai alles met speelse satire. Hier is daar ’n banket met ’n Sinatra-nabootser wat “My Way” sing. Gloria Gaynor se “I Will Survive” laat ’n tranerige gehoor opstaan . . .

Die sogenaamde “vices and follies” van die oortreders in enige vorm van satire word aan die kaak gestel in die hoop dat daar ’n beter bestel gevind sal word. Hiermee besef ’n mens dat ’n satirikus in wese iets van ’n romantikus of dromer is om te dink sý of háár boek of traktaat gaan die magshebbers in hul spore stuit. Dit is waarskynlik waarom satirici so ontsteld is wanneer hulle gesensureer word; hulle het immers ’n beter orde in gedagte.

Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes in ’n toespraak bely.

Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes in ’n toespraak bely. Die liefde vir die donker – net soos by mense – is ’n lewenswyse! En die “repulsive taste for clean water” (bl. 98) word uiteraard ironies bedoel. Daar word ook ’n dwarsklap gegee na aardverwarming, oorlog en bedrog in ’n hiperboliese beskrywing wat ’n mens laat skaterlag. (Die kodewoord hier: Reversalism.)

Kafka se boek speel in 1915 af wanneer Gregor Samsa in ’n insek verander.

In ’n “ungeheures Ungeziefer” het Nabokof soos volg oor hierdie boek geskryf in sy beroemde Lec­tures on Literature:

“The transparency of his style underlines the dark richness of his fantasy world. Contrast and uniformity, style and the depicted, portrayal and fable are seamlessly intertwined.”

Dit is eweneens van toepassing op McEwan se novelle.

Ungeziefer is ’n “dung beetle”, maar volgens Nabokof ’n lepidopteris, en het ons by Kafka eerder ’n gogga met vlerke. Nabokof was ’n uiters puntenerige leser wat elke straat of verwysing in ’n teks nagespeur het soos ons weet uit sy lesings aan die Cornell-Universiteit.

Mense hier is blote afskynsels van mense.

En hierdie spitsvondige gekibbel wat ’n mens in sy notas vind, bewys dan dat Kafka se gogga in Ian McEwan se novelle ingevlieg het.

Inderdaad ’n Verwandlung of metamorfose. Want die politieke backdrop het nie verander nie . . .

Op wie slaan Archie Tupper in Washington? En verwarring rondom taal lei tot misverstand. Soos die “scales will drop” wat die vertaler letterlik interpreteer.

’n Mediastorm rondom Jane Fish is presies hoe dit werk. Sy word “pipe-smoking Jane” in spotprente omdat sy eenkeer ’n pyp se rook in ’n kind se gesig in Belfast geblaas het om te wys hoe sleg sekondêre rook vir ’n mens is.

Daar is ’n spel rondom nabootsing en die “blattodean core”.

Mense hier is blote afskynsels van mense. Nabokof sou waarskynlik ook die roete van die kokkerot gevolg het. Van die Samsa-woonstel het hy ’n skets gemaak (bl. 257).

As jy ’n smoel vir satire het, is hierdie geel boekie vir jou.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.