Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meer oor Min in Shaw-biografie
Die biografie Min Shaw: Sprokie van ’n liefling deur Shaun Mynhardt.

Die gewilde sangeres Min Shaw (84) se verhaal – onder meer haar loopbaanskuif van onderwyser na sang- en rolprentster, haar geloofsreis en huwelike – is die stof van ’n nuwe biografie vol talle kleurvolle foto’s en “Min-feite”.

Min Shaw: Sprokie van ’n liefling deur Shaun Mynhardt is onlangs deur Protea uitgereik en word op die US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel.

Shaw is bekend om rolprente soos Jy is my liefling en Danie Bosman, haar gospelmusiek en haar samewerking met die countrysanger Lance James. Baie van haar albums wat deur Gallo Records uitgereik is, het goue status behaal.

Sy het ook saam met Gé Korsten in die fliek Hoor my lied verskyn waarin hulle “Die heidelied” gesing het. Dié fliek het destyds R1 miljoen verdien.

Mynhardt het die teks geskryf, maar Shaw is in die boek aan die woord.

Stemopnames waarin Shaw haar lewe aan Mynhardt skets, asook twee ou leertasse vol foto’s en plakboeke het onder meer tot die eindproduk gelei. Tog het die boek ’n langer aanloop gehad.

Mynhardt ken Shaw al langer as twee dekades.

Shaw het ook saam met Mynhardt se oupa se neef, die ontslape akteur Siegfried Mynhardt, gewerk.

Min Shaw en Shaun Mynhardt. Foto: Yolandi Beukman

“Dit is die verbintenis wat ons het. Ons was deur al die jare vriende. Tannie Min was ook goed bevriend met Cora Marie (oor wie Mynhardt ook ’n biografie geskryf het).

Min het eintlik Cora se loopbaan in 1974 help begin.”

Die idee vir ’n boek het in 2014 ontstaan toe Min 80 jaar oud geword het.

“Die idee was om net vir die gaste by die partytjie (ter viering van haar 80ste verjaardag) die boek as geskenk te gee,” sê Mynhardt.

“Haar man, oom Willie, het toe nog geleef en hy het gereken dat die projek te groot was om so vinnig te probeer afhandel.”

Mynhardt en Shaw was deel van ’n Cora Marie-huldeblykkonsert wat in 2015 in die Kaap en in Pretoria opgevoer is.

“En ek en Min het agter die verhoog gesit en sy het gesê: ‘Shauna, wat het nou van daai boek geword? Kan ons dit nie ’n bietjie verander nie? Kom ons maak hom ’n biografie en ’n soort plakboek.’ ”

Shaw het duisende foto’s.

Mynhardt het na Johannesburg gevlieg om die boek met haar te bespreek. By haar huis het sy hom na ’n kamer verwys waar twee tasse vol foto’s en plakboeke is. Sy het gesê hy kan daardeur werk en gebruik wat hy wil, maar hy moet dit net weer terugbring.

“Daardie aand het ek die twee tasse op die hotelkamer se bed uitgepak. Ek moes ’n skandeerder leen en begin skandeer. Ek is die volgende dag terug na haar huis. Ons het gaan eet. En toe borrel Min. Sy het gesê sy is opgewonde en sy kon my opwinding hoor.”

Min Shaw Foto: Yolandi Beukman

Mynhardt sou vir haar die manuskrip deur PostNet aanstuur en sy sou haar aantekeninge en aanbevelings maak en dit terugstuur. Hulle het ongeveer sewe pakkies vir mekaar gestuur.

Uiteindelik het hulle op 300 foto’s vir die boek besluit, waaruit Protea 186 foto’s gekies het.

Shaw is ’n privaat mens, maar sy het haar volle samewerking oor die inhoud van die boek gegee.

“Die een ding wat ek baie sensitief hanteer het, was haar huwelike (sy was vier keer getroud). Baie mense van die jonger generasie ken nie daardie besonderhede nie. Die ouer geslag weet dit wel.

“Ek het vir haar gesê ons moet dit insluit. Ons moet foto’s van haar eggenote plaas, maar ek sal dit sensitief hanteer.”

Ander bekendes deel ook hul herinneringe aan Shaw.“Die boek is vir haar bewonderaars.”

* Die boekbekendstelling op die Woordfees word op 5 Maart om 15:30 in die Drostdy-teater aangebied. Kaartjies kos R55 as dit vooraf gekoop word en R70 by die deur. Die gesprek duur een uur.

* Op 6 Maart is Shaw en Lance James in gesprek met Nic de Jager by Towerbosch. Hulle vertel onder meer staaltjies uit Shaw se biografie. Dit begin om 19:00 en kos R480.

Meer oor:  Protea  |  Us Woordfees  |  Shaun Mynhardt  |  Min Shaw  |  Boeke  |  Biografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.