Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meermin-stories bekoor, wys rigting

Verbeeldingryke kinders sal in die wolke wees oor dié twee Afrikaanse vertalings van internasionale kinderfiksietitels, skryf Magdel Vorster.

Betsie, meneer Tier en die blou maan deur Sally Gardner met illustrasies deur Nick Maland en Die meisie wat gedink het haar ma is ’n meermin deur Tania Unsworth. Uitgewer: Lapa. Prys: R180 en R200.

’n Mens wonder soms oor die internasionale tekste wat in Afrikaans uitgegee word, maar twee van Lapa se onlangse titels in hierdie kategorie kan met ’n rein gewete ’n aanwins vir die Afrikaanse kinderliteratuur genoem word.

Jaco Jacobs het Sally Gardner se Betsie, meneer Tier en die blou maan in besonder prettige Afrikaans vertaal. Die perskop Betsie se ma is ’n meermin wat nie by haar en haar pa bo hul roomyskafee kan woon nie, maar sy kom kuier darem op Woensdae en sit dan met haar stert in ’n emmer water en smul saam aan Alfonso se nuutste “knettertasties”-geurige roomyse.

Die storie voer die leser weg na ’n eiland “so ver soos Sondag van Woensdag” van die eilandjie waar hulle woon. Prinses Aldi het ’n wens nodig om van ’n padda terug te verander in ’n prinses en Alfonso moet gevolglik wenswaardige goebelgops-bessieroomys op dié eiland gaan maak. Die bessies kan egter slegs onder ’n baie skaars blou maan geoes word. Vir dié moeilike taak word die hulp van dinkpette, meneer Tier en sy sirkusskip, miniatuur-goebelgops-akrobate, die reus Iwan die Versigtige en die maan ingeroep.

Gardner, ’n meesterstorieverteller, saai ook subtiele opvoedkundige saadjies wat lesers van nege en ouer sal oppik, soos die jaloesiegroen prinses Olga wat nog moet leer dat “al die ja’s in die wêreld niemand gelukkig kan maak nie”. Nick Maland se bekoorlike gedetailleerde lyn- en skadu-illustrasies eggo die teks en bied belangrike illustrasieblootstelling aan Afrikaanse lesers.

Volgens Betsie “glip ’n meermin se antwoorde so maklik soos water tussen jou vingers deur”, en ántwoorde is juis waarna die 12-jarige Stella op soek is in Tania Unsworth se Die meisie wat gedink het haar ma is ’n meermin.

Stella, ’n eenkantkind, se kosbaarste besitting is ’n hangertjie met ’n spesiale steen wat haar oorlede ma “die belofte van die see” genoem het. Stella glo haar ma was ’n meermin. Hoewel haar ouma se gedagtes soos ’n “behoorlik geskommelde pak kaarte is en ’n mens nooit weet watter een bo gaan beland nie”, glo ook sy dat Stella se ma ’n meermin was. Ongelukkig mis haar pa haar ma te veel om hóm daaroor te kan uitvra.

Wanneer sy ’n potloodskets van ’n meermin met ’n adres agterop vind, vertrek sy na Oewereiland. Daar word sy gedwing om haar vrese te konfronteer voor sy agter die kap van die byl van haar ma se meerminlewe kan kom – en red haar hangertjie boonop haar lewe.

Dié grootwordverhaal wat deur Lydia du Plessis in Afrikaans vertaal is, bied meer as net ’n meerminfantasie vir 11-jariges en ouer. Identiteit en demensie en verlies word oorspronklik en sensitief aangepak, en waar die vertaling soms effe formeel voel, is die storie sterk genoeg om lesers te laat deurdruk.

Betsie trek vinniger aan as wat ’n mens kan sê “varke vra vreemde vrae op Vrydae” – dié twee boeke kan gerus teen dieselfde spoed aangeskaf word.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.