Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meervlakkige meesterstuk

In sy briljante ‘One Day in Bethlehem’ skil Jonny Steinberg ’n ui laag vir laag af waarin die gevolge van ’n plaasaanval in 1992, die toestande in ons tronke en die dramatiese veranderinge tussen 1992 en 2011 asook die immer ontwykende aard van die waarheid na vore kom, skryf Jan-Jan Joubert.

One Day in Bethlehem deur Jonny Steinberg. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R270.

Dit is ’n briljante boek wat elke prys onder die son gaan wen, maar dis ook besonder harde leeswerk.

’n Mens sou Jonny Steinberg, sy skryfwerk en sy lesers ’n oneer aandoen deur te beweer dat hy enigiets so banaal soos ’n “resep” het, maar diegene wat sy werk ken, sal uit vorige boeke soos Midlands (2002, oor plaasmoorde), The Number (2004, oor tronkbendes), Three Letter Plague (2008, oor MIV-vigs) en Thin Blue (2008, oor die strafregstelsel) weet hy neem telkens ’n samelewingskwelling onder die loep, maak dit op gewone mense van toepassing (en vermenslik dit dus) en knuffel dan die alledaagse werklikhede en teenstrydighede daarvan tot iets wat ons almal kan verstaan en deurgrond.

Die Messiaanse eggo in die titel van One Day in Bethlehem is duidelik vir enigeen wat in die Christelike lewensuitkyk en belewingstradisie grootgeword het en ook glad nie toevallig nie. Christene glo daar is eendag in Bethlehem, Judea, iemand gebore wat die sondes van die wêreld moes dra, al was Hy onskuldig.

Die gegewens en gebeure waaruit hierdie boek spruit, is merkwaardig. In 1992 word ’n bakkie vol gewapende mans deur twee polisiemanne afgetrek buite Bethlehem in die Vrystaat. Die mans in die bakkie brand los op die polisie en al die betrokkenes se lewe verander vir ewig. Maar nie net hulle s’n nie. In die tekens en gewoontes van daardie tye word Fusi Mofokeng ook aangekeer – iemand by wie se huis in Bohlokong, die township aanliggend tot Bethlehem, die gewapende mans vroeër die dag aangedoen het.

Ná ’n werklik kommerwekkende regsproses word Fusi, wat onkundig was oor die werkinge van die strafregstelsel en skandalige swak regsverteenwoordiging gehad het, tronk toe gestuur ten spyte daarvan dat hy glad nie by die gebeure teenwoordig was nie. Dit kom ter sprake tydens die verhore van die Waarheid-en-versoeningskommissie waar die skuldiges aan die skietery in Bethlehem amnestie kry, maar nie Fusi nie, want hy het nie die daad gepleeg nie en kan nie amnestie kry vir iets wat hy nie gedoen het nie. Met sy regsopsies uitgeput kan hy ook nie verder appelleer nie. Só bly hy vir 19 jaar agter tralies tot in 2011 toe die ondersoekende joernaliste Jacques Pauw en Jeremy Gordin sy saak opneem en hy uiteindelik vrygelaat word. Fusi Mofokeng dra – so wil dit voorkom – onskuldig die skuld van andere; die titel resoneer.

Hierdie meesterstuk begin nie verniet met die woorde ‘Ek kon sweer’ nie.

Maar hierdie meesterstuk van Steinberg begin nie verniet met die woorde “Ek kon sweer” nie. Ja, die boek handel oor die gebeure by Bethlehem en die gevolge daarvan. Dit handel oor die lewe van Fusi Mofokeng en diegene naby aan hom – ’n fassinerende sosiologiese studie van die Oos-Vrystaat. Dit gaan oor wat ons vandag ’n plaasaanval sal noem, op ’n kleinhoewe in Ballyduff aan die rand van die dorp. Dit gaan oor ons tronke, en oor hoe om aan te pas by ’n samelewing wat tussen 1992 en 2011 onherkenbaar verander het – van die val van apartheid tot die koms van selfone, om maar ’n paar te noem, en Fusi Mofokeng se belewing van hierdie nuwe wêreld as ’n soort Rip van Winkle wat homself moet herontdek en herevalueer omdat hy alles misgeloop het terwyl hy in die tronk was.

One Day in Bethlehem gaan oor al hierdie dinge, en dit gaan nie oor al hierdie dinge nie. Dit is, miskien eerstens, miskien nie, die verhaal van Jonny Steinberg se poging om hierdie verhaal neer te pen. En dit is waar daardie heel eerste woorde van die teks so ’n belangrike raam vir die skildery van die gebeure in 1992 en sedertdien verskaf.

Van hier af raak dit meer ingewikkeld en interessant, want baie van die bestekopnames, resensies en terugvoer oor hierdie boek fokus op die skildery eerder as die raam, soos ’n mens seker sou verwag, maar ek wil aanvoer die raam is belangriker as die skildery. Soos met die rolprent The English Patient moet jy van die eerste raampie af voluit inneem om die omvang van die meesterstuk te snap.

Want One Day in Bethlehem is die verhaal van hoe Jonny Steinberg die ui van die gebeure in die Oos-Vrystaat daardie dag in 1992 laag vir laag afskil, noodwendig op soek na die waarheid. Maar hoe verder hy afskil, hoe meer ontwykend raak die waarheid. Daarom waarskynlik die boek se motto, ’n aanhaling van die Britse dramaturg Harold Pinter: ’n Ding is nie noodwendig waar of onwaar nie; dit kan waar en onwaar wees.

Waar Steinberg aan die begin van sy jare lange forensiese joernalistieke ondersoek na die gebeure ’n redelike begrip het van wat op daardie dag gebeur het, is hy teen die einde so verward dat hy weet hy moet die boek eintlik nié skryf nie. Sy eie feitelike en morele ambivalensie, en die feit dat hy deels om finansiële redes die maklike, eties nogal verwerplike uitweg kies, weerspieël die gedrag van die onbetroubare bronne waarop hy hom moet verlaat in sy soeke na die skryf van die waarheid.

Ek bewonder Steinberg al baie jare as een van Suid-Afrika se meer briljante en empatiese breine. Net een keer het ek die voorreg gehad om oor dieselfde gebeure as hy nuusverslaggewing te doen: die absurde, mislukte geleentheid genaamd die Wêreldkongres teen Rassisme in Durban in 2001. Daar het ek gesien hoe hy te werk gaan en gewens dat ek oor sy ver­moëns, talent en manier beskik.

My bewondering vir hom was nog nooit groter as met die lees van hierdie taai, meervlakkige meesterstuk oor die relatiwiteit en die soms onverkrygbaarheid van die waarheid nie. En die kersie op die koek is sy bekentenis van swakheid, en van onvoldoende vermoë en morele verankering. Om darem die verstandelike en taalvermoëns én die selfvertroue en eerlikheid te hê om daarin te delf en dit so te verwoord – dit is na my beskeie mening wat meesterskap beteken.

Moet ’n mens hierdie boek koop en lees? Ja, ja, ’n duisend maal ja, maar gespe vas die sitplekgordel, sit tyd opsy en maak jou gereed om grensverskuiwend te dink.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer. Sy nuwe boek, Gaan Suid-Afrika oukei wees? 17 Sleutelvrae, het pas verskyn.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.