Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Mees ambisieuse’ boek van 2019 wen UJ-prys
Etienne van Heerden is die wenner van die UJ-prys vir sy roman‘Die biblioteek aan die einde van die wêreld’.

Die skrywer Etienne van Heerden wen die Universiteit van Johannesburg se prys vir sy roman Die biblioteek aan die einde van die wêreld en Ruan Kemp wen die UJ-debuutprys vir sy roman Gedeeltelik bewolk.

Van Heerden se roman word deur die beoordelaars as die mees ambisieuse boek van 2019 beskryf, ’n roman wat lesers uitdaag en wat onlangse maatskaplike kwessies in Suid-Afrika ondersoek.

“Van Heerden slaan hiermee ’n nuwe rigting in, met ’n skryfstyl wat meer gestroop is as sy voriges (ondanks die 600+ bladsye!) en ’n poging om die kompleksiteite van die onlangse verlede in narratief te omskep. Die biblioteek van die einde van die wêreld sluit wel by onder meer In stede van die liefde se verkenning van globalisering aan, ’n tema wat opnuut, en op onverwagse maniere, spreek tot die toestand van die wêreld in die tyd van die koronavirus,” luid die keurdersverslag.

Van Heerden bring op meesterlike wyse “ ’n magdom uiteenlopende karakters bymekaar” en verbind hul stories om ’n beeld van die hedendaagse Suid-Afrika te vorm waarin sosio-maatskaplike en politieke kwessies op deeglike wyse ondersoek word.

“Die roman is aktueel en betrokke, maar terselfdertyd ’n boeiende en uiters vermaaklike leeservaring wat genoeg kinkels en onthullings bied wat die leser boei. Met hierdie roman bewys Van Heerden hom opnuut as waagmoedig prosaïes: ’n Skrywer wat nie skroom om ongerymdhede in die samelewing aan te spreek nie. Hy skryf eerder hierdie taboes oop. Hierdie taboes of kwessies ondersoek hy oor ’n breë spektrum deur middel van uiteenlopende karakters se konfrontasie daarmee, wat uiteindelik fassinerende en opponerende sienings aan die leser bied.

Met hierdie roman poog Van Heerden om insigte in ons gekwelde land te bied en is die roman gemoeid met die wyse waarop ons rassisme, geweld en maatskaplike onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep allesbehalwe ’n safe space: Dit konfronteer en dit ontstel.

“Met hierdie roman poog Van Heerden om insigte in ons gekwelde land te bied en is die roman gemoeid met die wyse waarop ons rassisme, geweld en maatskaplike onreg behoort te vertaal. Hierdie roman skep allesbehalwe ’n safe space: Dit konfronteer en dit ontstel.

“Sy karakteropstelling en -inkleding is kompleks en sorg vir ’n haas panoramiese blik op die diversiteit in die huidige Suid-Afrikaanse samelewing en hulle soms problematiese interaksies. Van Heerden plaas die soeklig op hierdie soort diversiteit en onderlinge spanninge deur die karakters wat hy in die Vertaalseminaar byeenbring – van die liberale Engelse dosent, deur die jong swart aktivis Thuli en tot by Ian as ouer Afrikaner wat hom in die grysland van Afrikaneridentiteit bevind.”

Kemp se roman Gedeeltelik bewolk word as een van die “verrassings én hoogtepunte van 2019” beskryf. Hy word geloof vir sy unieke skryfstem.

“Kemp werk voort in die tradisie van die grensroman (wat al sedert die 1980’s deur heelwat outeurs verken is), maar eerder as ’n blote vertelling oor die hooffiguur se wedervaringe in die ou SAW en die Grensoorlog, is hierdie ’n vernuftige inkyk in die psige van ’n jong man wat onherroeplik deur die ervaring geskaad is,” lui die beoordelaarsverslag.

Uiteindelik is dit nie net die verhaal van ’n individu nie, maar van kollektiewe skade wat deur ’n hele generasie Suid-Afrikaanse mans gely is.”

“Die roman wat aan die hand van sielkundige begrippe gestruktureer is, beeld die hooffiguur se reis deur die wêreld van sielkundige terapie en institusionalisering aan. “Sy reis deur ’n toestand van toenemende patologie word sonder handskoene, met skrynende humor, eerlikheid en onmiddellikheid aangebied. Boonop is die teks deurvleg met ’n aantal intertekstuele verwysings – waaronder die ikoniese Griet skryf ’n sprokie. Uiteindelik is dit nie net die verhaal van ’n individu nie, maar van kollektiewe skade wat deur ’n hele generasie Suid-Afrikaanse mans gely is.”

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen toegeken.

Die UJ-prys vir Afrikaans is ’n oop kategorie vir boeke van enige genre wat in Afrikaans deur niedebutante geskryf is en wat tussen 1 Januarie en 31 Desember van die voorafgaande jaar verskyn het. Die prysgeld is R80 000.

Die UJ-debuutprys is spesifiek vir boeke geskryf deur skrywers wat vir die eerste keer (in enige genre) debuteer. Die prysgeld vir die UJ-debuutprys beloop R45 000.

Titels wat ingeskryf word vir die UJ-pryse moet oorspronklik in Afrikaans geskryf wees en moes in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het.

Vanjaar is dit die 20ste keer dat die pryse toegeken word. Vir 2020 se UJ-pryse is altesaam 83 titels ingeskryf, waaronder 17 debute.

Vanjaar se inskrywings het ’n wye verskeidenheid tekste verteenwoordig, waaronder dié van gevestigde, bekroonde en nuwe digters, kortverhaalskrywers, romansiers en dramaturge. Ook niefiksie, outobiografiese tekste en tekste wat nie maklik deur tipiese genres getipeer word nie, is goed verteenwoordig.

Die vakgroep Afrikaans in die departement tale, kultuurstudie en toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg het die wenners bekend gemaak.

Die keurpaneel vir 2020 was: Frederick J Botha, Bibi Burger (UP), Karen de Wet (UJ), voorsitter, Amanda Lourens (US), Jolyn Phillips (UJ), Marné Pienaar (UJ) en Heindrich Wyngaard.

Meer oor:  Etienne Van Heerden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.