Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meester van pop en selfspot

As jy die biofliek ‘Rocketman’ geniet het, sal jy gaande wees oor die nuanseryke manier waarop Elton John sy storie vertel in ‘Me’, skryf Theunis Engelbrecht.

Me deur Elton John. Uitgewer: Macmillan. Prys: R385

Talle mense beweer Elton John is sommer ’n ou pierewaaier en laventelhaan, maar ’n mens kan nie ontken dat hy as “die koninginmoeder van pop” saam met die liriekskrywer Bernie Taupin talle tydlose treffers geskryf het nie.

Aanstaande maand vier hy sy 73ste verjaardag, en wanneer jy in sy outobiografie van al sy vergrype aan dwelms, kos en mans lees, is dit niks minder as ’n wonderwerk dat hy nog leef nie.

Met so ’n propvol, kleurryke lewe agter die rug verwag ’n mens ’n lekkerleesavontuur – en dis inderdaad wat jy kry: John is slim en skerpsinnig, iets wat ook duidelik uit sy skryfwerk blyk. Verder is hy ’n meester as dit kom by selfspot en selfironisering – hy is beslis nie een van daardie sterre wat dink die son skyn uit sy alie nie.

Hy skryf openhartig en eerlik oor alle aspekte van sy lewe: sy kinder- en studentejare, sy liefdeslewe, sy familie, sy opgang in die musiekbedryf, sy stryd met dwelms en kanker. Hy dwing respek af wanneer hy vertel hoe hy ná elke groot terugslag weer sy sokkies opgetrek en homself reggeruk het, al was dit hoe moeilik.

Die hoofstuk oor sy vriendskap met prinses Diana is ewe openbarend.

Sy pa was afwesig, sy ma ’n draak. Jou hart bloei vir hom as jy lees hoe sleg sy ma hom behandel het. Tog het hy haar nooit afgeskryf nie en eerder probeer verstaan hoekom sy so optree. Sy pa se onbetrokke afstandelikheid was ook baie swaar vir hom, en die dele waarin hy skryf hoe hy probeer het om ook vir sy pa begrip te ontwikkel is werklik aangrypend.

Die hoofstuk oor sy vriendskap met prinses Diana is ewe openbarend. Een van die snaaksste vertellings in die boek gaan oor ’n ete wat John vir Diana gehou het en waar Richard Gere en Sylvester Stallone ook teenwoordig was. Dit was van die begin af duidelik dat Stallone net een doel voor oë gehad het: om Diana daardie aand nog bed toe te sleep. Om nie potensiële lesers se pret te bederf nie, wil ek nie hier uitwei oor wat daartoe gelei het dat Stal­lone uiteindelik gefnuik is en woedend by die huis uitgestorm het nie. John skryf ook oor Diana se jongste seun, prins Harry, wat hy soos volg beskryf: “He’s exactly the same as his mum, completely without any interest in formality and grandeur.”

Talle ander skreeusnaakse situasies word ook in die boek beskryf, soos die keer toe John besluit het om vir Iggy Pop te verras. Hy het ’n gorillakostuum gekoop, aangetrek en onaangekondig op die verhoog verskyn tydens ’n rowwe konsert van Pop en The Stooges. John het egter nie daarmee rekening gehou dat Pop en die lede van sy groep voor die tyd LSD gebruik het nie, dus was hul reaksie allesbehalwe wat hy verwag het. (Wat dit was, gaan ek nie hier verklap nie.)

Hy skryf ook met groot empatie oor sy hegte vriendskap met Freddie Mercury, John Lennon en Rod Stewart. Oor Tina Turner is hy minder vleiend, maar selfs hier probeer hy sy bes om te verstaan hoekom haar optrede hom eenkeer ontstel het, eerder as om haar af te kraak. Sy opmerkings oor Michael Jackson is eweneens interessant.

John se eerste album is in 1969 uitgereik. Hy is dus al 50 jaar in die musiekbedryf.

Nog ’n aspek wat die boek besonder boeiend maak, is juis hoe die musiekbedryf oor die jare verander het. John het ’n goudmyn van kennis hieroor en dis beslis die moeite werd om van sy insigte kennis te neem.

As jy die Elton John-biofliek Rocketman geniet het, kan jy dié verhaal nou uit die perd se bek hoor in Me. Uiteraard is daar aansienlik meer nuanses in die boek as wat in ’n rolprent of dokumentêr vasgevang kan word, en dit is nóg ’n rede waarom dié boek so genoeglik is.

Wanneer jy Me toemaak, sal jy nie anders kan as om die wêreld se respek vir Elton John te hê nie.

  • Theunis Engelbrecht is ’n joernalis en skrywer.
Meer oor:  Elton John  |  Biografie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.