Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meester van satire M.M. Walters word 90
Die digter M.M. Walters word Woensdag 90.

Die digter M.M. Walters, wat nie geskroom het om in sy werk die NG Kerk sowel as Afrikaner-pretensie en -hovaardigheid te pak nie, is Woensdag 90 jaar oud.

Dié meester van die satiriese gedig wat op Moorreesburg in die Swartland as Matthys Michielse Walters gebore is, “was eintlik nog nooit in pas met die norm nie”, sê sy vriend die resensent Gunther Pakendorf.

“Thys was nog altyd uniek vir sy tyd in ag genome die kritiek wat hy gelewer het. Selfs sy geboortejaar (1929) is jare lank as 1930 verkeerd op sy dokumente aangedui.”

Pakendorf is een van die gaste op ’n klein geselligheid ter viering van Walters se 90ste verjaardag. Walters se twee kinders en kleinkinders en ’n paar vriende woon dit by. Sy vrou is oorlede.

Pakendorf het Walters in die 1980’s ontmoet toe hulle albei aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verbonde was.

“Ek dink ek het in die 1970’s van sy werk bewus geword met sy kritiek teen die NG Kerk en sekere dominees wat hy in sy werk geopper het. Ek onthou dat Koot Vorster (die voormalige eerste minister John Vorster se broer) hom vreeslik kritiek op die hals gehaal het.”

Met die saamstel van die bundel Poësie uit die verre lande – vertalings van gedigte uit ander tale – het Walters Pakendorf genader om Duitse gedigte te vertaal.

Die digter M.M. Walters het nie geskroom om kritiek teen die NG Kerk en Afrikaner-hovaardigheid te lewer nie.

Daar het ’n hegte vriendskap tussen hulle ontstaan.

“Hy is ook nie iemand wat hom ’n rat voor die oë laat draai nie. Hy het nog altyd ’n afkeer gehad van skrywers met ’n opgeblaasde selfbeeld. Hy het ’n ongelooflike humorsin. So droog . . . Hy het my al laat skater.”

Walters se debuutdigbundel, Cabala, het in 1967 verskyn en dit is met die Ingrid Jonker-, die Eugène Marais- en W.A. Hofmeyr-prys bekroon.

Hy het ook sy doktorsgraad oor satire geskryf en van sy gedigte aan die groot satiriese digters uit die Romeinse tydperk opgedra.

Hy woon deesdae in Simonstad.

Die digter en resensent Zandra Bezuidenhout loof Walters se gawe om op die samelewing kommentaar te lewer.

“Daar is nie nog ’n Afrikaanse digter wat die satiriese mes so raak kan inlê wanneer hy kommentaar lewer op die samelewing en selfs Bybelse inhoude aan die kaak stel nie. Sy tematiese inkleding strek egter veel verder. Wat styl betref, durf hy ook die kort Japanse versvorms aan, en het hy trouens van daardie soort verse in Afrikaans geskryf en vertaal. Van Walters se ander gedigte is deur Michiel Heyns in Engels vertaal.

“Nog belangriker is dat Walters sy uiteenlopende denkinhoude by wyse van verstegnies afgeronde verse vol verrassende wendinge oordra, en dit altyd vervleg met woord- en klankspel om die wind uit jou seile te haal, soos net hy dit kan doen.”

Bezuidenhout beskou hom as ’n unieke figuur in die Afrikaanse letterkunde wat mense opnuut behoort te lees.

M.M. Walters het veral op die gebied van satire bekend geword.

Die akteur Johann Nel het verskeie eenmanvertonings van Walters se werk aangebied en hy het onder meer al sy verse op radio en op ander geleenthede voorgelees.

Hulle het bevriend geraak rondom die tyd wat Nel Praat van die duiwel – sy eerste produksie met die werk van Walters – opgevoer het.

“Met sy werk – ek dink nie eers hy weet dit nie – het hy eintlik baie vir my geestelike groei beteken. Walters het ’n ongelooflike teologiese kennis, maar ek dink nie ’n mens kan hom etiketteer wat geloof betref nie.”

Nel beskou Walters as Suid-Afrika se grootste satirikus wat poësie betref.

“As hy sy eie verse voorlees, is dit so ernstig. Hy klink eintlik soos ’n predikant. Selfs al is dit hierdie vlymskerp satire met inhoud waaroor ’n mens eintlik wil lag. Op sy verjaardagpartytjie wil ek beslis vir hom dankie sê dat hy vir soveel mense gedink het.”

Meer oor:  Satire  |  Boeke  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.