Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meesterlike Meyer stil honger na meer Griessel

Met ’n snaarstywe plot, geloofwaardige karakterisering en spontane, naatlose skryfwerk is die nuutste Bennie Griessel-misdaadroman, Prooi, klassieke Deon Meyer, maar ook grensverskuiwend, skryf Andrew Brown.

Deon Meyer. Spontane, naatlose skryfwerk. Foto: Brenda Veldtman

Prooi deur Deon Meyer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R320

'n Mens voel op jou gemak maar ook rasend opgewonde wanneer jy ’n nuwe roman oopslaan deur ’n skrywer wat op die kruin van sy loopbaan is. Dieselfde gevoel van afwagting pak jou beet as jy aansit in ’n gunstelingrestaurant waar jy die sjef ken en vertrou; jy gee jou selfs kortstondig oor aan die hongerpyne met die wete – of hoop – dat dit gou gestil sal word.

Deon Meyer stel nie teleur nie. Dis gewoon nie sy styl nie. Hy is volkome tuis in die misdaadgenre, sy skryfwerk spontaan en naatloos.

Prooi is in vele opsigte klassieke Meyer. Die plot is deurgaans sterk en sonder enige van daardie angswekkende geloof­spronge waartoe party misdaadskrywers hulle wend om hulle kronkelende verhale met lekkerkry klaar te kry. ’n Mens kry ook dieselfde “gevoel van plek” wat herinner aan 13 Uur (2008), vir my een van Meyer se voortreflikste romans, wat die storie met realisme anker. Die karakterisering is eweneens sterk en geloofwaardig, nog ’n kenmerk van Meyer se skryfwerk wat hom van soveel ander skrywers in hierdie genre onderskei.

En al is hy ’n karakter wat telkens terugkeer, verteenwoordig Prooi ook ’n verdieping in die karakter van Bennie Griessel. Daar is ’n warm menslikheid aan hom wat bevredigend en geloofwaardig is, maar ewe genuanseerd is Meyer se uitbeelding van Vaughan Cupido, Mbali Kaleni en die res van die vreemde dog innemende karakters wat die polisie se forensiese ruimte bevolk.

In dieselfde asem moet ’n mens dadelik byvoeg Meyer versit met sy jongste Bennie Griessel nogmaals grense – nie net as skrywer nie, maar ook vir die leser. Die outeur verken twee “nuwe” aspekte van sy skryfwerk waarvan elemente bes moontlik in Kobra (2013) en Ikarus (2015) voorgekom het, maar nie naastenby so openlik soos hier nie.

Die eerste is humor – ’n regte lag-uit-jou-maag-uit-plesier aan die aweregsheid en kwinkslae. Hiervoor bied veral Vaughan Cupido die perfekte voertuig. Sy interaksies met sy kollega “Benna” Griessel en sy base is dikwels lagwekkend maar allermins gedwonge. Kol. Kaleni wil byvoorbeeld by kapt. Cupido weet: “Did your mother ever read Dr. Seuss books to you?” Sy antwoord: “No Colonel, we were a very healthy family.” Dit is die gemaklike gekskeerdery van polisiebeamptes wat vriende en kollegas is en weerspieël ’n realistiese kameraadskap. Daar is talle snaakse uitdrukkings, onvanpaste sêgoed, oneerbiedighede en algemene aweregsheid wat ’n ligte en plesierige gevoel gee aan ’n storie wat in werklikheid net so ernstig is soos die haglike toestand waarin ons veiligheidsdienste verkeer.

Dit bring my by die tweede aspek van Prooi wat ek boeiend vind: Die storielyn speel duidelik uit binne ’n politieke tema. Dit is ambisieus en ontstellend om ooglopend kontemporêre verwysings na staatskaping en korrupte politici en polisiebestuur in ’n misdaadroman raak te lees.

“These are the darkest days in our na­tion’s history since apartheid. These are desperate times,” word gesê.

Die storie fokus op wat dit beteken om “gekaap” te word binne die Suid-Afrikaanse politieke konteks en in watter mate ’n misdaadbestrydingseenheid soos die Valke doeltreffend kan funksioneer binne ’n omgewing waar interne én openbare wantroue aan die orde van die dag is.

Cupido kom te staan voor die oënskynlik onskuldige maar erg pynlike uitdaging van ’n klein seuntjie wat bedenkinge het oor sy rol as offisier binne ons beleërde polisiemag. Uiteindelik is dit Cupido se begeerte om die seuntjie te antwoord asook sy eie inherente bevraagtekening wat hom die moed en deursettingsvermoë gee om tedeur te druk. Griessel en Cupido moet eers ’n sensitiewe moordsaak en daarna ook ’n tweede saak ondersoek met die wete dat hulle slegs hul direkte kring van kollegas kan vertrou en met die swaard van weerwraak wat voortdurend bo hulle bly hang.

“We don’t read crime fiction, prof,” sê Cupido. “It’s just too . . . airy-fairy.”

Die sinisme van ’n regte polisieman is dalk goed geplaas, maar sekere misdaadfiksie is beslis minder airy-fairy as ander. Die kwessies wat in Meyer se roman ter sprake kom, is nie fiksie nie. Wie kan ’n mens vertrou wanneer die mense in die hoogste gestoeltes van wetstoepassing onder verdenking is? En in watter mate is dit aanvaarbaar om buite die vasgestelde parameters te werk om die regte resultaat te verseker? Dit is die soort vrae wat pertinent aan mnr.Pravin Gordhan gestel word terwyl ek hier skryf.

Danksy Meyer se fyn oog vir detail is die skryfwerk uitstekend, soos altyd: Die beskrywing van hoe hulle die vermoorde man se leë woonstel binnegaan, laat ’n mens in hoendervleis uitslaan. Meyer is duidelik ewe gemaklik daarmee om sy karakters in Observatory of Parys te plaas.

Ek het veral die jukstaposisie geniet van Griessel se naderende afspraak (waar hy van plan is om sy geliefde te vra om met hom te trou) teenoor die aftelling na die beplande sluipmoordaanval op die president. ’n Mens voel inherent meer bekommerd oor die antwoord wat ons gunstelingspeurder van sy geliefde Alexa gaan kry (sy naderende “Armageddon”, soos hy dit noem) eerder as die dreigende ondergang van ’n korrupte politikus. ’n Mens kry die gevoel dat BennieGriessel veel eerder die prooi is vir sy eie angstigheid as die gejagte man vir sy sluipmoordenaar.

Die twee plots – een speel af in Suid-Afrika en die ander een in Parys – kom aan die einde op ’n baie bevredigende manier bymekaar wanneer die sjef vol selfvertroue die laaste gang van die ete voorsit. Daar is miskien ’n ongelyke tempo tussen die twee storielyne en by tye het ek wel gewens ons kon terugkeer na die Suid-Afrikaanse storie met die bekende gesigte van die Valke se ondersoekspan. Maar dié kritiek het meer met my eie ongeduld as tekortkominge in die skryfwerk te doen.
Prooi is puik misdaadfiksie: relevant, kontemporêr en ’n toonbeeld van die krag wat in hierdie genre opgesluit is. Sleep vir jou ’n stoel nader en lê weg.

 Andrew Brown is ’n Kaapse advokaat en polisiereservis met vyf Engelse misdaadromans en twee niefiksieboeke op sy kerfstok.

Meer oor:  Deon Meyer  |  Prooi  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.