Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meg haal meermin uit Weskus se storiesee

Meg Vandermerwe

Sy het jare lank by hul vakansiehuisie op Paternoster sit en luister hoe die mense praat, vrae gevra en vir antwoorde gewag. En dit is hoe iemand wat in Switserland (vandaar die van!) grootgeword het en drie grade van Britse universiteite het met so ’n roerend aardse roman soos Die vrou van die klippesee vorendag kon kom. Elmari Rautenbcah vra Meg Vandermerwe uit.

Die vrou van die klippesee is oorspronklik in Engels geskryf en die eerste van jou twee romans wat in Afrikaans vertaal is. [Meg se debuut, Zebra Crossing, is in 2015 in The Guardian as een van die toptien-boeke oor migrante gekies]. Die storie begin waar die sielsongelukkige Hendrik, ’n alkoholis sedert sy vrou verdwyn het, een nag tydens ’n poging om homself in die see te verdrink ’n vreemde ervaring het en die volgende oggend teruggaan na dié baaitjie – net om daar ’n beseerde vrou op die strand aan te tref, maar een soos g’n ander nie. Dit eggo verskeie sprokies en fabels waarmee ons almal grootgeword het. Wat was die vonk vir jou Weskus-sprokie?

Daar was twee: die Karoo-meerminne waarvan ek gehoor het, en die mamlambo- of amaXhosa-watermeisies. Hoewel daar verskille is (mamlambos is nie streng gesproke meerminne nie; hulle word as riviergodinne beskryf, of ’n slangagtige figuur), het die feit dat albei die bruin mense van die Karoo en die swart mense van die Transkei – twee oënskynlik baie verskillende gemeenskappe – ’n waternimf as mitiese figuur het my nuuskierig gemaak om die historiese skakels en verbande tussen die twee te ondersoek.

Dit maak sin dat ondertrouery tussen die Khoi, die San en amaXhosa oor die eeue heen ’n kulturele, genetiese en taalkundige kruisbestuiwing tot gevolg gehad het – die klieks in isiXhosa word glo toegeskryf aan die invloed van die San en Khoi-tale. Tydens die anti-Apartheidstryd is die band tussen die twee groepe versterk. Maar vandag kom dit voor of daar min oor is hiervan, net onuitgesproke spanning en voelbare verdeeldheid. Ek wou kyk na wat mense eens kon saamsnoer, maar oënskynlik vergete is.

Hans Christian Andersen se fabels, soos “Die klein meerminnetjie”, het ’n pynlike onderstroom. Net so is jou karakters se pyn vóélbaar; hulle onvermoë om dit te verwoord. Tog versag jy die werklikheid met ’n sprokieselement, maar een gewortel in die werklikheid – soos die visvrou wat beskryf word met ’n stert “sterk en stewig soos ’n stuk tuna” ...

Die omslag van Die vrou van die klippesee

Ons is steeds ’n land van wandelende wonde. Ons kollektiewe trauma as ’n nasie en as individue is pynlik tasbaar en word al hoe duideliker soos die beloftes van 1994 al verder van ons af wegbeweeg. Dan is daar ook die private spoke wat elkeen van ons dra. Soos die “verlore-baba-spoke” en “mislukte liefdesgeeste” waarvan Sara vir Hendrik vertel – al die oop wonde wat ons op een of ander manier leer bestuur en – as ons gelukkig is – vrede mee maak. So ja, daar is baie pyn in die roman. Maar daar is ook troos en die troos van hoop, vriendskap en die mensdom. En dis waar magiese realisme inkom.

Magiese realisme laat die volwassene toe om terug te keer na die gebied van die moontlike en oënskynlik onmoontlike binne ’n wêreld oorheers deur rede en rasionalisme. In baie Afrika-geloofstelsels, soos in Zimbabwe, Malawi, Tanzanië asook Suid-Afrika, is daar ’n fyn lyn tussen die sogenaamde werklikheid en geesteswêreld. Ek wou dié kragtige kruising juis in Suid-Afrika ondersoek. Vir die meeste van ons inheemse bevolkings is die grens tussen wat die post- Verligte Westerse wêreld die “regte wêreld” noem en die wêreld van die gees en bonatuurlike, minder gedefinieerd en minder absoluut.

Die dialoog is die wonderlikste (en soms baie snaakse en baie reguit) Wes-Kaapse Afrikaans. Was dit ook so in die Engelse roman?

Ek het baie van die streeks-Afrikaans in die oorspronklike Engelse weergawe gebruik. Ek het ’n obsessie met die regkry van ’n stem in ’n roman. Eers as dit reg voel, glo ek sal die res van die teks in plek val. Ek het met die skryf van die dialoog telkens die Afrikaans getoets; later die voltooide roman sin vir sin deurgewerk om seker te maak nie net die Afrikaanse dialoog klink outentiek nie, maar ook die hele toonaard of timbre van die roman self. Waarna ek gemik het, is ’n soort Wes-Kaapse AfriKaaps, maar soos ons dit in Engels en deur Engels hoor. Ek wou hê die leser moes die taal van die Afrikaanssprekende vissersgemeenskap hoor én proe – nie net in die dialoog nie, maar in die vertelling in sy geheel.

Die vertaling deur Kirby van der Merwe is eenvoudig briljant. Het julle baie nou saamgewerk?

Ons het mekaar net een keer, by die Adam Small- literêre fees, ontmoet. My Afrikaans is nie goed genoeg om die fyner nuanses van die Afrikaanse vertaling raak te lees nie, maar Kirby is die soort nougesette vertaler vir wie dit geweldig belangrik is. Ek was baie verlig toe hy my ’n “thumbs up” vir stem gee. Daar was wel een verandering in die Afrikaans waarop hy aangedring het, en dis gemaak.

*Die vrou van die klippesee word uitgegee deur Penguin Random House

Meer oor:  Meg Vandermerwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.