Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Melancholie loop deur dié stories

As jy Afrikaans, wit en ouer as 40 is, en gelowig grootgeword het, is jy deel van die ‘ons’ in Dana Snyman se jongste versameling stories, ‘Onder een dak’, want ’n mens kan eenvoudig nie van herinneringe ontsnap nie. Hoe dieper jy in die stories verdwaal, hoe meer wipplank jy tussen verlange en afsku, skryf Annelise Erasmus.

Dana Snyman Foto: Eben Pienaar

Onder een dak: 100 ou en nuwe stories deur Dana Snyman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R250.

So ’n paar weke gelede praat ek op Facebook oor ’n spesifieke episode van Koöperasiestories – die een waarin Genis die groot boom laat afkap. Ek was seker my vriende sou weet waarna ek verwys, en dit was ook so. Ek het op ons gedeelde herinneringe staatgemaak en, het ek later besef, ek glo ook in ’n “ons” wat ’n geheue deel.

Dié “ons” is waarom Dana Snyman se Onder een dak draai, maar in hierdie dae van vloeiende identiteite moet ek eers verduidelik wat ek bedoel met “ons” soos ek dit in dié resensie gebruik. As jy Afrikaans, wit en ouer as 40 is, en gelowig grootgeword het, is jy deel van die “ons” in hierdie boek – of jy dit wil wees of nie. Jy kan nie hiervan ontsnap nie, selfs al gaan jy nie meer kerk toe nie, selfs al praat jy meestal Engels en al stem jy nie meer nie. ’n Mens kan eenvoudig nie van herinneringe ontsnap nie. Jy dínk dalk jy het jouself losgemaak, maar sekere goed hou jou vas sonder dat jy dit eens besef. Op die minste bind jou grootwordtaal jou. Soms is net een woord nodig om jou weer binne-in jou ouma-hulle se skemer sitkamer te laat sit of weer die harde kerkbank te laat voel. Dit is waar Snyman se verhale leef.

Onder een dak is ’n versameling van honderd stories waarvan sommige voorheen gepubliseer is. Hoewel dit kortverhale is, lees dit ook soos ’n storieboek omdat die verhale chronologies gerang­skik is. Die stories is emosioneel gelaai met woorde en gebeure wat aan die leser bekend is. Dit is iets soos ’n volksbiografie – die volkie wat so ’n klein “uitverkore” groepie was, maar wat so sterk beheer is dat ons dieselfde ervarings, herinneringe, traumas en posttraumatiese stres met ons saamdra.

Elke lag kom met ’n traan of ’n wrang glimlag.

Weemoed, melancholie en verlange, vermeng met ’n goeie skeut selfbewustheid, loop deur die stories. Die situasies en mense waaroor Snyman skryf, is vir ons almal bekend. Ons het vir dieselfde tafelgebed ons koppe gebuig wanneer pa “ogies” gesê het, ons werkers het ook seewater gevra wanneer ons op vakansie gegaan het, en almal ken daardie hardnekkige plaashek. Ons ken die tekens dat groot reën op pad is en ons dra die littekens wat droogte vir altyd soos erfsonde in ons gene nalaat. Ons van ’n sekere ouderdom sê steeds vir mekaar soms “Goodnight, John Boy” en The Champ het ons saam laat huil. Ons praat uit een mond: “Die dokters het haar oopgesny en toe weer net so toegewerk.”

Ons pa’s en oupas was eerder soos oom Genis as oom Veldsman. Streng, paternalisties en dikwels hardvogtig en argeloos wreed, maar ’n mens kry ook die gevoel dat hulle doodverbaas en selfs geskok en seergemaak sal wees dat iemand hulle so ervaar het.

Dana Snyman is ons gewete en hierdie gewete ry my. As jy die boek eerlik lees – eerlik oor en met jouself – is dit meestal ’n swaar lees. Die humor, wanneer dit kop uitsteek, is galbitter, ironies en onderbeklemtoon. Kan jy jou oë vir jouself omdop?

“Kan jy nie Afrikaans praat nie?” vra Oupa. “Hè, wena? Dis mos Bloemfontein dié, man.”

“Ek ken Afrikaans, Baas. Ek kom van Prieska af.”

“Prieska? Nou maar right,” sê Oupa. “Bring vir ons one mixed grill, one double hamburger, one cheeseburger en one banana split. Het jy dit?”

Snyman vertel ook van die man wat heel voor in ’n regse optog na die Uniegebou gestap het. Hy het ’n duikpak aangehad. “Hy is lid van die AWB se pasgestigte duikeenheid.” Of op ’n ander plek skryf hy sy “(o)orlede Ouma het eenkeer drie ertjies in ’n leë snuifblikkie in die yskas gebêre, het oorlede Ma vertel”. Elke lag wat hy vir jou offer kom met ’n traan of ’n wrang glimlag.

Ons is eintlik ’n hartseer nasie en die skrywer beeld dit met die mooiste woorde uit: “ ’n Onbewoonde huis treur homself terug die aarde in” of “Almal fluister asof hulle bang is God sê nog een van hulle moet doodgaan”.

Hy toor prentjies met lieflike woorde op: “ . . . die diakens en die ouderlinge uitgestap, al agter hul wit dasse aan” of “ . . . (sy) kom saam met haar voetstappe in die gang af” of “ . . . die drie honde . . . kom nader . . . vasgevang tussen hulle neuse en hulle waaiende sterte”.

Die stories in Onder een dak is té waar vir ’n sekere generasie (myne en die skrywer s’n), maar sal vergesog klink vir ons kinders. Dit terwyl ons ouers en grootouers moontlik nie eens sal kan sien hoekom van die gebeure ’n storie werd is nie.

Hoe dieper jy in die stories verdwaal, hoe meer skeur dit jou in twee – jy wipplank aanhoudend tussen verlange en afsku. Die geborgenheid van die gesin kontrasteer met die hardheid wat jy daar kan ervaar. Jy ervaar gemis, maar ook verligting dat dit nie meer so is nie, wat dan weer jou hartseer maak dat sommige dinge vir altyd verlore is.

Snyman se stories smokkel met jou kop, want dis tog stories – of is dit eintlik waar? Die taal en situasies en herinneringe voel dan waar? Maar as dit wel waar is, dan wil jy soms sê “sak Sarel, dit kan nie waar wees nie”, terwyl jy ook weet dít wat die belaglikste klink, is dikwels wat regtig gebeur het. Oor hierdie leeservaring haal Snyman self vir Chris Barnard aan: “Baie mense sou verkies om dit as stories af te skryf, maar nie alles wat ons nie pas nie, is uit die duim gesuig nie.”

Ek het Onder een dak nie as ligte leesstof ervaar nie, al laat die skrywer jou veilig voel omdat hy met jou ma en ouma se woorde praat. Soms slaan dit jou tussen die oë, maar dis vir jou eie beswil, want “(a)s Pappa (Snyman) nie lief was vir jou nie, sou hy jou nie geslaan het nie. Dit maak Pappa net so seer as vir jou wanneer hy jou slaan”.

So dikwels deur die boek wou ek net “ag nee, hemel, Dana” by my aantekeninge skryf wanneer ’n storie se klimaks my nogmaals laat ineenkrimp. Dan onthou ek dis maar eintlik wat ’n mens dikwels vir die lewe ook wil sê, en hy beskryf eintlik die lewe. Op die einde verskaf hy self die sin wat my reaksies die beste beskryf: “Ek kyk na Patricia en ek weet sy weet ek weet nie wat om te sê nie.”

Dalk het ek die boek te persoonlik opgeneem, maar dis moeilik om iets wat Dana Snyman skryf nie persoonlik op te neem nie. Hy skryf self: “Ken jy daai gevoel? Koos kyk na my waar ek langs die Thames staan en probeer om myself uit die storie te hou.”

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Dana Snyman  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.