Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Mens en masjien stoei in dié distopie

Indien daar nog twyfel bestaan oor of toekomsfiksie ’n groot Afrikaanse roman kan oplewer, baan Isa Konrad die weg met haar kragtoer ‘Toekomsmens’, skryf Schalk Schoombie.

Toekomsmens deur Isa Konrad. Uitgewer: Lapa. Prys: R290.

Kieskeurige lesers (en literatore!) wat bra langtand wetenskapfiksie lees, kan gerus hul vooroordele opsy skuif en met Toekomsmens die sprong waag. Die Covid-19-pandemie wys enorme omwentelinge kan die status quo in ’n japtrap verpletter. Enigiets is moontlik, alles kan verander. Dit is by uitstek die vertrekpunt van bespiegelende narratiewe wat op die nabye of verre toekoms fokus.

In Konrad se omvattende toekomsvisioen het die Covid-19-pandemie uitgewoed en cholera het die plaaslike bevolking uitgedun. Chaos en sosiale onrus bring ’n nuwe bestel tot stand wat elke faset van menswees manipuleer.

Die titelkarakter, Kel de Jong, ’n programmeerder in die Intelligensieburo, bevind hom in Pretoria in 2057. Aanvanklik lyk hy nie veel anders as die gemiddelde wetsgehoorsame mens van 2020 nie. Hy sien om na sy suster Adri, ’n “verledemens” wat weier om van herinneringe en emosies afstand te doen. Hy is lojaal aan sy werkgewers, hardwerkend en pligsgetrou.

Een van sy pligte is dié van sekssurrogaat wat “vrywillig verplig” is om aan die Bevolkingskomitee se Volksplantingsprogram deel te neem. Seks is iets meganies, ’n burgerlike plig wat ontdaan is van plesier, emosie en liefde.

Geleidelik skemer dit deur dat dié protagonis gebreinspoel word deur die regime om gehoorsaam en produktief te wees. Hy bevraagteken niks nie, want “geluk is die eliminasie van vrae”. ’n Inplanting bevat sy persoonlike data en pynlike skokke wat sy hand laat kramp, ontmoedig sterk emosies.

De Jong se pynlik georganiseerde lewe word ontwrig deur die geheimsinnige verskyning van ’n jong seun op die verlate N1 tussen die hoofstad Pretoria en die spookstad Johannesburg. Dié raaiselkind is uitermate sterk en blykbaar die produk van ’n geheime genetiese eksperiment om ’n supersoldaat te teel.

Kunsmatige Intelligensie (KI) speel ’n daadwerklike rol. In-Grid, geskep in die gelykenis van die aktrise Ingrid Bergman, ’n gevorderde outomaat onder De Jong se toesig, word ontvoer en hy word van hoogverraad verdink. De Jong aktiveer In-Grid se prototipe en ontdek daarin die herinneringe van ’n Namibiese vrou, Agnes Baumer. Sy was ’n Britse spioen tydens die afloop van die Tweede Wêreldoorlog.

Die boek se lomp klinkreël verbind twee tydperke: “Slegs deur terug te kyk na die verlede kan die geheime van die hede ontrafel word.”

Konrad, ’n deurwinterde skrywer van liefdes- en spanningsromans, span elemente van albei genres in vir haar gedetailleerde distopie van Suid-Afrika oor 37 jaar. Dit is ’n Orwelliaanse wêreld met welbekende temas en motiewe van toekomsfiksie: ’n alsiende voorsitter wat volksgenote indoktrineer met gereelde elektroniese boodskappe, nes Big Brother in George Orwell se 1984; heropvoeding en genetiese manipulasie toon raakpunte met Aldous Huxley se Brave New World.

De Jong onderneem digitale tydsreise na Berlyn in 1944: “Ons was op ’n virtuele ekskursie. Vandag se tegnologie maak dit vir ons moontlik om plekke in ons gedagtes te besoek wat nie werklik bestaan nie. Die tegnologie benut breinimpulse om ’n alternatiewe realiteit te skep. Dit voel eg, maar ’n virtuele ekskursie is soos ’n vollediger weergawe van ’n droom.”

Dié beskrywing pas die roman presies en belig die invloed wat die verlede op die toekoms uitoefen – ten slotte ook omgekeerd.

Die Israelse filosoof Yuval Noah Harari se toekomsprojeksies in Homo Deus (2015) kry hier geloofwaardig beslag: algoritmes wat menslike gedrag verander, masjiene wat evolueer, die intieme verhouding tussen mens en masjien (ook in die flieks Her en Ex Machina), die strewe na onsterflikheid.

Die vraag waaroor slim masjiene droom (Do Androids Dream of Electric Sheep? deur Philip K. Dick) kry ’n tergende kinkel in De Jong se interaksies met In-Grid en sy ontdekking dat seks met Agnes allermins ’n sieldodende plig is.

Oplaas is dit die menslike lotgevalle wat dié roman anker en dieper laat resoneer as blote ontvlugting. Daarvan getuig De Jong se transformasie van apparatsjik tot ’n rebel wat sy emosies en individualiteit ontdek, gelei deur drie sterk vroue: Agnes, sy suster Adri, en sy baas, Direktrise Smit, ’n kuborg wat half mens en half masjien is.

Die omskrywing van diverse tydperke en plekke word skerp sintuiglik gerealiseer, terwyl storiedrade styf getrek word in ’n bevredigende ontknoping.

’n Steurnis is egter die piepklein lettertipe wat vir baie lesers moeisaam op die oog kan wees. Het die uitgewer probeer bespaar?

Toekomsmens is vindingryk, dit vermaak en waarsku. Konrad demonstreer klinkklaar hoe die geskiedenis herhaal word, hoe die mens potensieel soos ’n masjien kan optree terwyl masjiene menslike eienskappe verkry. Tegnologie kan vanself optimaal ontwikkel, maar dis menslike dryfvere wat veel gevaarliker bly.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.