Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Nataniël: ‘Mense kýk na my’

’n Volle 56 jaar al storm Nataniël voort ‘soos ’n klein leeu’. En met die onthou- en skryfproses van ‘Kyk na my: Herinneringe aan ’n kindertyd’ wat pas verskyn het, het hy, kompleet nes Bart Nel, ontdek ‘ek is nog (al die tyd) hy’. Hy het Johan van Zyl se vrae beantwoord.

“Hoe was Dag Een?” vra Nataniël se ma ná sy eerste skooldag. “Moet ek wéér gaan?” vra hy bekommerd. Sy ma lag en sê: “Ai, jy is ’n grapjas!”
Wat sou Nataniël vandag aan sy jonger self wou sê? “Presies wat ek wél vir myself gesê het: Hou net aan.”

Jy noem Kyk na my ’n “roman” wat op jou kinderdae gegrond is, maar ook “die waarheid – ’n memoire, maar nie ’n outobiografie nie”. Hoeveel daarvan is suiwer verbeelding?

Hier is geen verdigsel nie – ek het net anders geskryf as wat mense sou verwag. Ek beskryf dinge wat in my kop aan die gang was asof dit werklik gebeur het. Dit gee die gevoel dat sekere dinge fantasie kon wees, maar die innerlike lewe van ’n kind is ongelooflik sterk en veel groter as sy vleeslike ervarings. Ek wou hê lesers moet dit beleef soos wat ek – en duisende kinders oor die wêreld heen – ons kindertyd beleef het en steeds beleef.

Datums en name was nog nooit vir my belangrik nie. Ek kon vier jaar saam met ’n kind in die klas wees, maar as hy my verveel of afgestoot het, het ek eenvoudig nooit sy naam geregistreer nie.

Mense moet ook weet hierdie boek gaan nie oor mý nie, maar oor die ervarings van enige kind met ’n verbeelding of behoeftes wat buite die groot groep val. My naam verskyn nie eens in die boek nie – ek wou hê mense wat nog nooit van my gehoor het nie, moet ook die verhaal kan lees en hulleself of hul kinders – of dié wat voor hulle in die klas sit – herken en dalk beter verstaan en verdra.

Die saamdrom van die menslike ras is vir my ’n vreemde ding.

Ek wil hê mense moet verstaan waarom kinders op sekere maniere teenoor hulle ouers reageer. ’n Jong kind kan die wêreld as vreemd of vreesaanjaend of heeltemal waansinnig ervaar. Sy woede en verbasing en vrees en opstandigheid word dan alles voor sy ouers neergesit. Totdat hy beter of meer verstaan, verteenwoordig húlle die wêreld. Dit is nie altyd ’n haatlike probleemkind nie, dis iemand wat iets herkenbaars soek, iemand wat wil veilig voel.

Kyk na my verwys na die eerste sewe of agt jaar van jou lewe toe niemand na jou gekyk het nie en volwassenes baie keer hul kop weggedraai het as jy in die nabyheid was. Is die titel ’n versoek of ’n opdrag?

Op ’n tyd was dit albei; nou is dit bloot ’n feit. Mense kýk na my. Dit is hoe ek my geld verdien, hoe ek aanvaarding, verwerping, komplimente, beledigings, liefde, haat, bewondering en afkeer ontvang.

Toe ek baie klein was, het ek agtergekom ek maak volwassenes ongemaklik. Ek was anders, verfynd, sowel bang as uitgesproke. My ouers was vriendelike en gewilde mense, en wanneer ek saam met hulle was, het mense doodgewoon en gemaklik opgetree, maar wanneer ek alleen iewers opgedaag of deur die dorp gestap het, het die meeste mense gemaak of hulle besig was óf dat hulle my nie sien nie bloot omdat dit makliker was as om te probeer sin maak van hierdie eiewyse kind.

Ek was ook visueel vreemd: plomp met ’n ronde, sagte gesig en hare wat net wou krul en nooit rêrig onder beheer was nie. En daar was iets in my oë . . . nog voor ek my mond kon oopmaak, het mense geweet ek is ongemaklik, agterdogtig en onrustig.

Oor eeue heen al stoei skrywers om die verhouding tussen pa’s en seuns te verwoord. Ook in Kyk na my sien ons hoe jy jou pa om die beurt verafsku én bewonder; daar is verlore kanse en berou, vertroosting en hartseer, haat en liefde. Wat was die grootste uitdaging om jou pa en julle verhouding in woorde te bring? En is hierdie proses vergemaklik of bemoeilik deur die feit dat hy nie meer leef nie?

My pa was ’n stunning man: sterk, aantreklik, gelowig, baie snaaks, hardwerkend, gemoedelik en vry van gees. Die droom om ’n eersgeborene te hê vir wie jy die dinge van ’n man kan leer en saam met wie jy dit kan beleef, is in die hart van elke jong pa en was ook in syne. Toe daag ek op. Dit moet van die begin af moeilik gewees het, maar hy het my nooit verwyt of veroordeel nie en met trots my eerste klavier gekoop. Die res het hy in stilte verduur. Ek dink die feit dat daar later twee broers en ’n suster was wat aan alle akademiese en sosiale verwagtinge kon voldoen, het hom laat ontspan.

“Ek gaan in die middel van ’n verhoog staan en sing en ’n saal vol mense sal moet kyk tot ek klaar is,” skryf Nataniël op bl. 169 oor sy rol as koning Rosekrans.

Ek en my pa het by tye nie veel gehad om oor te gesels nie – ons belangstellings het te veel verskil – maar hy was altyd besorg oor my en trots op die feit dat ek my planne kon laat gebeur. Eers in die laaste paar jaar voor sy dood het ons baie nader aan mekaar gekom en was daar ’n sterk emosionele band.

Ná sy dood het ek ontdek hy het ’n hele kis vol koerantuitknipsels, plakkate en tydskrifte met my op die voorblad gehou. Ek mis hom elke dag. Die kissie met sy as staan in my huis, voor die venster waar hy altyd gestaan en na buite gekyk het; hy was mal oor my groot tuin. Ek gesels hardop met hom in my huis.

Oor wie of wat kon of wou jy nie skryf nie?

Ek het ná die tyd besef ek het bitter min geskryf oor maatjies of maters. Ek was van jongs af aangetrokke tot ouer mense. Hulle ervarings, eksentrieke gewoontes, gebrek aan reëls, vreesloosheid, stuitighede, geheime, reise, verhale, roetines, eetgewoontes, spookagtige groot huise en oorvol kombuise het my betower.

Dit is seker hoekom ek vrede het met die nuutste modes of tegnologie of internetsterre – ek leef met die fabels en sprokies wat deur hierdie figure aan my gegee is.

Vertel my van jou ervarings terwyl jy deur jou herinneringe moes sif. Jy het in ’n onderhoud laat blyk jy het dikwels gehuil.

Ek het gehuil omdat ek my ouma en my pa mis en omdat ek goed gedoen het wat mense geskok of teleurgestel het. Nie omdat ek wóú nie – ek was ’n jong wese wat moes oorleef op ’n vreemde planeet – maar omdat ek nie geweet het my gedrag was anders as die norm nie.

Ek het ook gehuil omdat ek verlang na die ongelooflike mense en tye wat my gevorm het. Vir elke niedenkende strompelaar wat op my jong hart kom trap het, was daar ook ’n profeet of ’n huiskok wat met wysheid en oorvloed my ewige optimisme en energie aangevuur het.

As kind het die wêreld nie vir jou sin gemaak nie. Het dit al verander?

Ek weier om enigiets wat onsinnig, wreed, onnodig of dom is te aanvaar.

Wat ek wel geleer het, is om minder te veg of luidkeels te oordeel en bloot weg te beweeg van dít wat my lewenskwaliteit bedreig. Jy kan nie die wêreld verander nie, maar jy kan jou wel omring met ander wat jou prioriteite deel en wat, ten spyte van alle opdraandes wat huidige regerings en ander aaklige moondhede daarstel, nog steeds skoonheid of wys­heid na die wêreld bring.

Wat is die verrassendste ding wat jy met die onthou- en skryfproses oor jouself geleer het?

Die feit dat ek 50 jaar later nog presies dieselfde wese is.

My benoudheid, kommer, hartstog, twyfel, weerbarstigheid, energie, weersin in gesag, behoefte aan fantasie, vuil bek, ongeduld met gewoonheid, liefde vir eet, obsessie met simmetrie, liefde vir stilte, aangetrokkenheid tot dramatiese ontwerp, kuns of argitektuur, my byna mediese behoefte aan eksotiese klere . . . alles is nog dieselfde!

Jy sê grappenderwys jy het die boek geskryf omdat jou uitgewer tien jaar aan jou gekarring het, maar jy gee ook toe jy wóú oor jou kinderjare skryf omdat dit jou gemaak het wat jy vandag is. Dit is dalk ’n cliché-vraag, maar wat sou jy vandag vir jou jonger self wou sê?

Presies wat ek wél vir myself gesê het: Hou net aan. Nooit in soveel woorde nie, maar daar was altyd twee vreemde, baie sterk pole binne my.

Aan die een kant was ek altyd bang en gespanne – nou nog! – en het geglo mense buite my familie wou my seermaak of wegstoot, of dit nou gebeur het of nie.

Aan die ander kant was daar ’n vasbeslotenheid wat gesorg het dat ek altyd dinge gedoen het wat ék wou, soos ék wou, ongeag die gevolge of my eie paniek. Ek was lam van spanning, maar het steeds voortgestorm soos ’n klein leeu.

Dit is steeds hoe my lewe beskryf kan word: In die openbare oog het ek al baie kritiek en verskriklike uitsprake beleef, maar ek het nog nie vir ’n oomblik gehuiwer om te doen wat ek wil of moet nie.

Jou boek is ook ’n ode aan die krag van die verbeelding om vrees, twyfel en woede te stil en mense en dinge te transformeer. Hoekom dink jy is Suid-Afrikaners soms so verbeeldingloos of skrikkerig vir die verbeelding?

Ek het geen navorsing hieroor gedoen nie, maar vir my lyk dit of die meerderheid mense ’n skare of groep of trop verkies.

Ek ontmoet soveel mense wie se smaak of oortuigings totaal onduidelik is . . . daar is meubels in hulle huis, maar ek kan nie die styl of passie agterkom nie.

Ek sien hoe mense saam kuier en lag en gil en drink en baljaar, maar ek kan selde die band of werklike ooreenkoms tussen hulle raaksien. Ek weet nie of die vrou werklik wil saam kuier en of sy maar net daar is omdat dit haar man pas en sy wrywing wil voorkom nie.

Dieselfde storie met groepe jong mense en kinders.

Die reuk van die sand en klontjies versteende katpoef in hierdie sandput is die vroegste herinnering waaroor Nataniël skryf.

Vir my, wat nog altyd alleen was, min maar fantastiese vriende en ’n klein maar hegte familie het, nog nooit ’n persoonlike verhouding kon of wou laat werk nie en in afsondering woon, is die saamdrom van die menslike ras ’n vreemde ding.

Moet my nie verkeerd verstaan of jammer kry nie: Ek verkies my stille bestaan. En my werk, waaroor ek mal is en elke oomblik mee besig is, dreineer my totaal sodat ek geen energie het om die emosionele branders van ’n groepsbestaan te verwerk nie.

Ek is nou dankbaar dat ek ’n eenkantbestaan voer, want daarsonder sou ek nooit ’n gehoor of lesers gehad het nie.

Dit alles gesê, moet ek byvoeg dat ek gereeld verras word deur ongelooflike mense wat stil-stil ongelooflike dinge skep of vermag en grense verskuif. Die aarde is vol wonders.

Watter kreatiewe mens het die grootste invloed op jou en jou werk gehad?

Die meesters by wie ek geleer het en deur wie ek kreatief gevorm is, het eers later in my lewe opgedaag.

Daar was ’n paar hoërskoolonderwysers en dosente en kunstenaars wat wêrelde aan my gewys het, maar my hele lewe het verander toe ek in 1984 die eerste keer vir Patti LaBelle op televisie gesien het.

Ek het nog nooit ’n kunstenaar met so ’n stem, so ’n gebrek aan inhibisie en sulke gekke kostuums gesien nie.

Ek het daarna nooit weer met dieselfde oë na iets gekyk nie. Selfs nou, in die sewentig, verras sy my steeds. As één jong mens of kunstenaar so na my kon kyk, sou my lewe sy doel gedien het.

Jou kinderjare is uit jou gestel . . . gaan jy in die toekoms oor die res van jou lewe skryf?

Ek het geen idee nie. Ek sal weer oor my eie belewenisse skryf, maar hoe, wanneer en hoekom weet ek nie nou nie.

Op ’n manier is my lewe in al my stories, vertonings, praatjies en rubrieke; dis die eerste persoon as tool en uitgangspunt of inspirasie; daarna loop dit ander paadjies.

As verhoogkunstenaar waak jy al jare lank streng oor jou openbare beeld . . . raak jy ooit skaam as jy ou foto’s van jouself sien?

Ek kan na niks kyk of luister uit my verlede nie, selfs nie iets wat ek ’n jaar gelede aangevang het nie… dis net te weird.

Ná ’n loopbaan van amper 35 jaar is daar net een of twee goed waarop ek trots is, en Kyk na my is een daarvan.

Ek het geen sentiment wat myself betref nie . . . my huis of kantoor is nie besaai met my eie gesig of produkte of toekennings nie . . .

Siestog, ek dink ’n mens wat homself met homself omring, is in die moeilikheid. Ek lewe met die wete en hoop dat my “oomblik” nog op pad is.

Meer oor:  Nataniël  |  Kyk Na My
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.