Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Menslike dramas boei in dié liriese liefdesverhaal

Pelgrimshoop deur Ronel Nel. Uitgewer: Lapa. Prys: R230.
Resensent: Deborah Steinmair

Pelgrimshoop is ’n plaasroman en liriese liefdesverhaal vol ver­dienstelike bagasie. Dit speel in die laat 1950’s af, kort nadat apartheid se strop nouer getrek is. Bruin mense het hul stemreg verloor en dapper vroue marsjeer van die Voortrekkermonument na die Uniegebou om beswaar teen die dompas aan te ­teken.

Hannah de Witt en haar fyn broer, Abram, is geleerde Boere-jode van Pretoria. Hulle beland vir ’n jaar op die plaas Bartelsheim naby die fiktiewe dorpie Pelgrimshoop in die Laeveld.

Hul pa, ’n geneesheer, het hulle hierheen gestuur om oor hul onderskeie smarte te kom.

Abram skryf ’n boek en Hannah is die nauurse onderwyseres van die enigmatiese Elias Bart: onpeilbaar soos Mr. Rochester in Jane Eyre, ’n donker, aantreklike boer van min woorde – hy kommunikeer amper uitsluitlik deur middel van liggaamstaal – ’n man uit een stuk en ’n perdefluisteraar. Hy vertroetel duidelik sy eie bagasie.

In die dae van hoog-apartheid is die plaas Bartelsheim ’n toevlugsoord vir ’n mengelmoes van mense: Bart, die De Witts, die huishoudster Saartjie, haar beeldskone dogter Esther, Saartjie se man, Silas, en Alfred Kabelo. Almal kuier saam, hou saam piekniek en partytjie, dans saam in die voorhuis. So iets is ongehoord in die distrik (“the small- town eyes will gape at you in dull surprise”) en die boere, aangehits deur die naywerige Vliet ­Vorster, rassis, seksis en homofoob, bygestaan deur die predikant, trek min of meer met fakkels en tuinvurke op na die plaas. Daar is ook bloedige kroeggevegte en smerige naam- en saakskending. Wat anders is, word met agterdog en aggressie bejeën.

Te midde van die storms broei ’n geweldige aantrekkingskrag tussen die onderwyseres en leerling. Saans ná werk ontsluit sy in die skuur, wat as klaskamer ingerig is, met laboratorium en al, vir hom die geheimenisse van geleerdheid. Bedags hou sy hom dop tussen sy perde.

’n Plaas is eenvoudig ’n vrugbare teelaarde vir enigiets wat groei, insluitend romanse. En ’n betowerende agtergrond waarteen menslike dramas afspeel, met bergpieke in die mis, troppe perde, die Melkweg, sonsondergange op die stoep, op die plat klip of langs die rivier.

Nel is ’n digter en haar taalgebruik is ekonomies en gelade, soms amper so kortaf soos Bart s’n. Sy is duidelik ook ’n storieverteller wat weet hoe om spanning te handhaaf en aan karakters lewe te gee. Daar is eggo’s van Eendekuil en Toorberg en ’n rak vol boeke van oraloor, maar daar is ook net soveel stories op aarde. In die vertelling lê die uitsonderlikheid.

Dié stuk van die geskiedenis, kort nadat alles so lelik skeefgeloop het in ons land, is nog lank nie oopgeskryf nie. Die boek is gegrond op ’n ware verhaal en dis verblydend om te weet daar was plekke soos Bartelsheim, waar mense onbevange saam kon wees. Dat mense van verskeie bevolkingsgroepe nog altyd saam verkeer het, is duidelik uit sogenaamde wit mense se voorkoms. Wie kan die potloodtoets slaag?

Wat die leser met die toeklap van die boek bybly, is die oortuigende, brose liefdesverhaal. Ek wil geen geheime uitlap oor die ontknoping nie, maar wie sal bestand wees teen só ’n liefdes­verklaring: “Jy is my achilleshiel . . . My Helena van Troje en my waterstof. My tydmasjien en my mooiste musiek. Chopin in die nag en Nat King Cole in die dag. My Suiderkruis en my Orion . . . Litium op water.”

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.