Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Menslike toestand onder die soeklig

Voorspraak deur Hendrik J. Botha.
Poësie

Voorspraak

Hendrik J. Botha

Naledi, R220

Voorspraak is Hendrik J. Botha, ’n narkotiseur van Pretoria, se tweede bundel. In 2015 debuteer Botha met Atropos, gedigte gebundel ná die afloop van ’n MA-graad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Joan Ham­bidge. Atropos was in 2017 op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys en is deur Henning Snyman as “ ’n ware vonds vir die Afrikaanse digkuns” beskryf.

Op die buiteblad van Voorspraak pryk ’n besonderse lynskets van twee verweefde gesigte deur Anlerie Botha. Die kunswerk, saam met die titel van die bundel, voorspel ’n verkenning van medemenslikheid. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek bied “pleitbesorger” as sinoniem vir voorspraak. In die reg word voorspraak beskou as verdediging van ’n derde, ’n tipe in die bresse tree vir iemand na aan jou.

Die temas van die bundel handel inderdaad oor naastes; die digter se familie, pasiënte en plek-plek word die self ook beskou as ’n derde wat pleitbesorging verlang. Die openingsvers, “Apoptse” (bl. 1), bied insig in die raamwerk van die naastebeskouing wat volg: “Met die eerste asemteug begin ons sterf, / vir die dood geprogrammeer”. Deurlopend word die siklusse-proses van menswees, “so sterf ons daagliks stuk-stuk / ten einde te oorleef”, in oënskou geneem.

Dit is die menslike geaardheid wat intrige bied, nie die spesifieke kwale wat behandel word nie.

Voorspraak, nes die digter se debuut, bestaan uit ongetitelde afdelings. Elk van die vyf afdelings word ingelei deur ’n aanhaling. In die eerste afdeling word Charles Bukowski se beeld van alleenheid wat waarneembaar is in die beweging van horlosiewysers, ingespan om eensaamheid en vervreemding, beginnend in die digter se kinderjare, te ondersoek. In die treffende “Lotgeval” (bl. 11) word daar besin oor die nut en moontlik koste daarvan om voordurend terugskouend te leef: “Met net een omkykslag / het Lot se vrou / die hoogste prys betaal. / Wat kan ek en jy verwag / wanneer ons die lewe dag na dag / so oor die skouer bly betrag?”

In die tweede afdeling ondersoek die digter natuurbeelde wat by die siklus van lewe en dood aansluit. Die gedigte, meestal met pleknaam as titel, herinner sterk aan ’n Facebook-inskrywing saam met ’n foto van ’n sonsondergang, berg of watermassa, soos “Epupa” (bl. 33): “Ewe bedrieglik die benedeloop – / strelend sereen sonder tekens / van vlymskerp rotse en onderstrominge”.

Die derde afdeling word ingelei deur ’n Mahmoud Darwish-aanhaling: “I see poetry as spiritual medicine.” Die leser word geneem op ’n toer van ’n hospitaal – die geboorte van ’n interseks - baba (bl. 37); orgaanskenking (bl. 39) en die meedeel dat ’n pasiënt kanker het (ble. 38, 43).

Hierdie hospitaal-toer skakel met die fassinasie van die mens met die mediese professie. Waarom skakel duisende mense daagliks in om Binnelanders se hospitaalgang-drama te volg, waarom is televisiereekse soos Grey’s Anatomy, House en The Good Doctor so gewild?

Dit is die menslike geaardheid wat intrige bied, nie die spesifieke kwale wat behandel word nie. Die potensiaal is daar om letterlike mediese voorvalle te skakel met die abstrakte, komplekse menslike toestand – dit sou dieselfde fassinasie buit. Hierdie verkenning skiet egter tekort. In “Simmetrie” (bl. 39) word die oes van organe vergelyk met die aftakeling van Afrikaans, potensieel ’n geslaagde vergelyking, die gedig eindig egter vroegtydig en stomp: “haar (die pasiënt se) pupille in sinkronie / simmetries dilateer”.

Die vierde afdeling is waarskynlik die mees geslaagde verkenning van menswees in die bundel. Hierdie afdeling karteer die digter die verlossing uit eensaamheid. In “Verjaarsdagvers vir myself” (bl. 47) kom die digter se beknopte, biografiese styl tot volle reg, terwyl dit tegelykertyd begrip toon vir die gewaarwordings van groot digters. Die titel verwys moontlik na Breytenbach se verjaardagvers-tradisie.

Bybelse beelde word gebruik om metamorfose te beskryf, soortgelyk aan die digter se eertydse mentor Joan Hambidge, “met ramshoring en beuel. / Vanjaar tuimel die mure...”. Die alleenstaande slotreël, “die geur van nartjie en kaneel” sluit andersins aan by Opperman se sentiment dat daar ’n vrou in elke geur is, ook iemand wat hierdie digter geval.

Die bundel begin met herinneringe uit die digter se kinderjare, dit eindig met ’n reeks gedigte oor die dood.

Die bundel begin met herinneringe uit die digter se kinderjare, dit eindig met ’n reeks gedigte oor die dood.

Dié kort, laaste afdeling se beskouing van die einde bied weer eens nie ’n bevredigende oorgang van die tasbare na die kompleksiteit van menslikheid nie. Dit doen eerder afbreek aan die siklusse-tema van die bundel tot op hierdie punt.

Rudolf Stehle skryf onlangs dat Ou laaie deur Fanie Olivier “verse van wisselende gehalte” bevat en “dat die bundel sou kon baat by ’n fermer redigeerhand”. Voorspraak het dieselfde indruk by hierdie resensent gewek.

Dit is opvallend dat albei bundels deur Naledi uitgegee is.

Hoewel die digter soms beïndruk met sy helder taal, is daar talle verse wat los van die tema staan, met geen waardetoevoeging nie. Die gedig “Ndzile kwala” (bl. 21) se blikkerige “die man van Mosambiek en ek”-herhaling maak die leser uitermatig bewus van ’n selfgesentreerde realiteit wat kenmerkend is van die digter se styl. Die gedig “Etosha” (bl. 32), wat handel oor ’n foto van ’n olifantkalfie naas sy ma, kon maar ’n e-pos-gesprek gebly het. Die angel ontbreek ook in “Perspektief” (bl. 57), wat handel oor die gebrek aan entoesiasme waarmee die lewe voor die dood beskou word.

Die gestroopte, realistiese aard van die gedigte in Voorspraak noop die vraag: Wat onderskei gedigte van prosa; letterkunde van ’n Facebook-inskrywing oor jou dag?

Die gestroopte, realistiese aard van die gedigte in Voorspraak noop die vraag: Wat onderskei gedigte van prosa; letterkunde van ’n Facebook-inskrywing oor jou dag? William Butler Yeats meen dat poësie se unieke vorm en reëls (dikwels vervat in rym en metrum) dit onderskei van alledaagse gedagtes, so verstaan ek sy uitspraak “All that is personal soon rots; it must be packed in ice or salt”.

Die ys en sout ontbreek in Voorspraak. Die insig wat die bundel bied in ’n lewe en die wroeginge van ’n mediese praktisyn is tydig, maar nie tydloos nie.

Nieteenstaande kritiek sorg helder beelde vir ’n unieke leeservaring. Lees die bundel vir uitstaande reëls soos “(die vuur gaan lê) soos ’n vergenoegde hond” (bl. 22). “Stamboom” (bl. 6) se laaste strofe spook lank by die leser: “Pa: ek het vergeet om hom te vra / hoekom hang mens die naam / van ’n kind wat voortydig vertrek / doodluiters om die volgende een se nek.”

“Mosaiek” (bl. 50) staan ook uit, glasskerwe wat herrangskik word in ’n mosaïekpatroon, in “iets mooier selfs / as wat dit was”. Die lynskets op die voorblad dui inderdaad op die verkenning van die menslike toestand, dit voorspel ook die minimalistiese aard van die verse. Die vraag, ná die lees van die bundel, is of die komplekse siklusse-aard van menswees suksesvol minimalisties verken kan word?

Michelle Oelofse is ’n vryskutresensent van Pretoria en mede-aanbieder van die poësie-podsending HUI-DIG.

Meer oor:  Hendrik J. Botha  |  Resensies  |  Voorspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.