Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Met deug en daad geskryf

‘Prisoner 913’ bied ’n populêr-geskiedkundige, kontekstueel geankerde perspektief op  die vrylating-en-onderhan- delingsproses om Nelson Mandela, maar vir  Johann Kriegler is die ‘onthullende’ diamante in die bronmateriaal eintlik maar van nywerheidsgraad.

Nelson Mandela word afgeneem by sy huis in Soweto ná sy vrylating. Foto: Peter Turnley

Prisoner 913: The Release of Nelson Mandela deur Riaan de Villiers en Jan-Ad Stemmet. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R325.

Miskien was my resensie van Willie Esterhuyse en Gerhard van Niekerk se Die tronkgesprekke: Nelson Mandela en Kobie Coetsee se geheime voorpunt-diplomasie (2018) wat dieselfde jaar in Rapport verskyn het onbillik en is ek die skrywers ’n apologie verskuldig.

Ek het gereken hulle laat nie reg geskied aan Kobie Coetsee se versameling geheime dokumente oor die vrylating van Nelson Mandela nie, en bekroon toe die boek met slegs twee hoera’s.

Nou, by die ontleding van Prisoner 913 oor die einste materiaal, kom ek gaandeweg ál hoe sterker tot die besef dat die gebrek nie soseer by die verwerking gelê het nie, maar by die bronmateriaal. Die geheime dokumente wat ek as die eietydse historikus se kimberliet beskou het, was naamlik in ’n mate delweryuitskot en van die diamante maar nywerheidsgraad.

Bowendien was ek naïef in my soeke na aardskuddende nuwe onthullings wat die perspektief op die vrylating-en-onderhandelingsproses wesenlik sou verander – ’n eureka-oomblik. Natuurlik werk die geskiedenis nie só nie. Hermann Giliomee herinner ons juis op 9 September in Rapport daaraan dat die “belangrikste beginsel van omgaan met die geskiedenis [is] om elke handeling binne die raamwerk van die tyd waarin dit plaasgevind het, te beoordeel”.

Coetsee se pakkasie – met al sy gebreke – dra tog by tot ons kennis en begrip van bepaalde rolspelers en hul handelinge van destyds, mits ons dit in samehang met die ander beskikbare weergawes van die veelvuldige en veelsydige gebeure van die 1980’s beoordeel.

Die skrywers slaag daarin om deurgaans nuttige omringende en aansluitende inligting te verstrek, hoewel ’n mens meer plaaslike dekor sou wou gesien het.

Dáárvan is daar ’n ooraanbod. Dit was waarskynlik die belangrikste dekade in die geskiedenis van ons land en al sy mense, en die ganse internasionale gemeenskap was behoorlik behep met ons doen en late. Die politieke en diplomatieke druk om die beeld van Nelson Mandela, veral na aanleiding van die uiters geslaagde Free Mandela-veldtog, was dan ook ’n markante kenmerk van die jare voor sy vrylating. Die amptelik volstrekte verswyging van sy naam en uitbeelding (bestaan?) het boonop ’n soort mite om die man geskep. Suid-Afrika was telkens hoofnuus in die wêreld se belangrikste nuusmedia. Bygevolg is daar ’n magdom kontemporêre mediamateriaal beskikbaar en letterlik honderde, moontlik selfs duisende, diepsinniger publikasies uit feitlik elke denkbare vertrekpunt.

Van die betrokkenes self – Mandela, De Klerk, Coetsee en Niël Barnard, die destydse hoof van die Nasionale Intelligensiediens – het ook hul eerstehandse weergawes van die gebeure neergepen en/of breedvoerig in opgetekende onderhoude geboekstaaf. Gevolglik is dit kortsigtig om, soos in ’n paar koerantberigte die afgelope weke, op enkele passasies te konsentreer op soek na sensasionele openbarings.

Baie interessanter en lonender is ’n dieper en kontekstueel geankerde waardering van die proses as sodanig, ’n magtige en uitgerekte skaakspel waarin die rolspelers, hul persoonlikhede en moti­vering, hul skuiwe en strategiese aan­passings, afspeel teen die agtergrond van wat in die land en die wêreld gebeur.

Prisoner 913 onderneem wel dié gewigtiger taak, onderbreek telkens aanhalings en opsommings van gesprekke om byvoorbeeld te verwys na tydgenootlike koerantberigte en lewer dan met hedendaagse insig kommentaar, maar bereik tog na my (persoonlike en moontlik óórkritiese) oordeel nie heeltemal die nodige diepte en oorhoofse evaluering van die drama agter die gesprekke nie. Ons weet vandag dit het in die “gesprekke” wat hier opgeteken staan in wese gegaan om die voortbestaan van ons land en die oorlewing van ons kinders. Maar in Pri-soner 913 ontbreek dié onderliggende grootsheid, asook die breëre verband met wat in die regering, die heersende party en sy eties-politieke gewete en intellektuele werklikheidsbesef aan die gebeur was.

DIE COETSEE-MATERIAAL is allermins ’n planmatige versameling en eerder opgehoopte dokumente wat wonderbaarlik in ’n kantoorbewoner se “onderste laai” half organies aangroei en stof vergader. Dit was nie taksonomies, chronologies of hoegenaamd georden nie. Die outeurs het wyslik besluit om, vir die huidige altans, te fokus op prisonier 913 se vrylating. Daar’s notas in Afrikaans deur junior gevangenisdiensamptenare van onderhoude in Engels tussen Afrikaans- en Xhosa-sprekers (wat weer deur die skrywers terugvertaal is), fragmente van transkripsies deur naamloses van meeluisterbande opgeneem deur onbekendes, geredigeer en gesif deur nugter weet wie, memoranda, verslae, geheim, uiters geheim en origens deurmekaar. Geregtelik gesproke is die getuienis dus van haas weglaatbare waarde.

Maar politiek-histories bied die akkumulasie tog waardevolle toeligting en aanvulling van wat ons reeds weet. Die blote bestaan van die bundel is betekenisvol. Coetsee, destyds PW se adjunkminister van verdediging in die eerste Botha-kabinet, lei die politieke nadoodse ondersoek na Lang Hendrik van den Bergh se Buro vir Staatsveiligheid en die skepping van die Nasionale Intelligensiediens, met die wonderkind Niël Barnard, mettertyd mede-akoliet van pres. Botha, aan die spits. Een van die Botha-bewind se neteligste uitdagings was terselfdertyd wat om met Mandela en die ander veiligheidsgevangenes op Robbeneiland te maak, terwyl die Broederbond dinkskrum hou en die Afrikaanse perswese toenemend ongemak openbaar met die oënskynlike rigtingloosheid van die NP se kleurbeleid.

Dat Coetsee in die stilligheid vir homself vertroulike staatsdokumente oor Mandela terughou en opberg, rym volslae met die man se voorliefde vir Machiavelliaanse subtiliteit en nuanse, so half ons weergawe van Le Carré se George Smiley – inkennig met ’n skugtere glimlag, laat val onderlangs ’n terloopse opmerking, kyk amper speels of jy gesnap het. Reeds in 1982 gee Coetsee, toe minister van gevangeniswese en justisie, aan Helen Suzman en Van Zyl Slabbert te kenne dat die vrylating van Breyten Breytenbach geskied in konteks van ’n beleidsverandering betreffende veiligheidsgevangenes. Kort daarna laat hy my verstaan die beleidsaanpassing is ook en eintlik meer gerig op Mandela se vrylating en dat hy dit eersdaags sal laat deurskemer (’n belofte wat hy vroeg 1983 in die senaat gestand doen).

Die eerste dokumente dateer van Desember 1984 en is op sigself én by wyse van afleiding insiggewend. ’n Kabinetskomitee onder leiding van Coetsee moes ’n strategiese aanbeveling doen oor die vrylating van sekere veiligheidsgevangenes “van links en regs”. Sy kollegas lewer geen insette nie en Coetsee doen op eie houtjie verslag.

Die delikaatheid van die onderwerp verklaar moontlik die ander ministers se terughoudenheid, terwyl die omsigtige aanbeveling toon dat daar reeds diep en ernstig aandag aan die onderwerp van prisonier 913 en sy senior partygenote gegee is. Die skrywers vind stawing in die betrokke stukke vir Coetsee se aanspraak jare daarna dat hy die wegbereider vir Mandela se onvoorwaardelike vrylating was, maar ’n mens sou graag self daarin wou rondwei.

Intussen vra ’n mens onwillekeurig of die Staatsveiligheidsraad radikaler staatkundige implikasies in die vrylating gesien het en, daarmee saam, of die allerstrengste geheimhouding gemik is op die sigbare vyand of onsigbare opstandiges in eie geledere.

Coetsee was nie net ’n bedrewe politikus wat lank reeds moes leer om katvoet om sy hoofleier te trap nie, maar het van nature graag sy lyf taktikus gehou.

’n Mens kan gevolglik nie – immers nie met die beperkte bewysmateriaal in Priso-ner 913 – werklik vasstel in welke mate hy inderdaad die verkennersrol gespeel het wat hy en andere (die uwe inkluis) agterna aan hom toeken nie. Dat hy sonder ’n wenk of knik van die baas die inisiatief sou geneem het, is bra onwaarskynlik, maar in hoeverre hy tog die grens verskuif het, bly ’n ope vraag.

Hoe ook, dis kostelik, tipies Kobie-in-George-Smiley-gewaad, hoe hy die eerste skuif in Mei 1985 maak. Luiters, of doodnormaal, doen hy ’n siekebesoek toe Mandela in die Volkshospitaal opgeneem word vir ’n operasie. Hoflik informeel, toegeneë, feitlik vriendelik – maar daarna is daar maande lank van sy kant ’n dawerende stilte. Mandela se lewensomstandighede word merkbaar verbeter, hy word in Pollsmoor verskuif na ruimer kwartiere (afgeskei van sy Rivonia-genote), en hy word al hoe meer vryhede gegun, selfs uitstappies buite die gevangenis.

Dis egter eers middel 1986, nadat Mandela vlugtig weer vir Coetsee gesien het tydens die besoek van die sogenaamde Eminent Persons Group, dat daar verbasend – eintlik agterdogwekkend – vinnig op Mandela se versoek om ’n onderhoud gereageer word. Daarna vind daar met tussenposes nog ontmoetings tussen die twee debatsgenote plaas waartydens wedersydse vertroue en begrip aangroei. Die skrywers verskaf heelwat materiaal wat hierdie fase van die onderhandelingsproses belig – dit was immers hul uitgesproke doelwit – en voer die leser deur tot middel 1988, toe Niël Barnard op ’n baie formeler en stywer trant die onderhandelingsproses van regeringskant oorneem. ’n Pikante vinjet is Barnard se negatiewe, selfs neerhalende, opinie van Coetsee en sy rol in die oorgangsage. Is dit dat welslae spreekwoordelik vele vaders het, terwyl mislukking wees loop, of is dit bloot professionele afguns?

Hoewel Coetsee daarna nie persoonlike onderhoude met Mandela voer nie, berg hy tog talle geheime dokumente op wat die skrywers in staat stel om die drama van agter die gordyn te bekyk tot Mandela se verskyning in Februarie 1990, hand-aan-hand met sy vrou, in die hek van die Victor Verster-gevangenis.

Die skrywers slaag daarin om deurgaans nuttige omringende en aansluitende inligting te verstrek, hoewel ’n mens meer plaaslike dekor sou wou gesien het eerder as die aanhalings uit die Amerikaanse en Britse media (moontlik met die oog op die buitelandse leser). Die chronologie raak ook plek-plek ’n bietjie wankelrig, maar origens bied die deurlopende draad van die jare lange proses ’n boeiende drama.

In één opsig wyk die outeurs af van hul verklaarde doel, naamlik om te konsentreer op die gedoe om Mandela se vrylating. Hulle swig ongelukkig voor die verleidelike sensasieversoeking en plaas ’n deel van ’n private, totaal apolitieke gesinsgesprek waarin Mandela in die verbygaan opmerk dat Winnie se loslippigheid straks destyds met sy inhegtenisneming ’n rol gespeel het – van verraad is daar g’n sprake nie.

Nietemin, en ook heel voorspelbaar, het hierdie “sexy” brokkie buite verband en misleidend koerantopskrifte gehaal as sou Winnie Mandela haar man verraai het.

Dis ’n deugdelike, populêr-geskiedkundige boek en sy hoofkarakters onwaardig.

* Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.