Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Harry het boeke met hand gemaak
Die agste plaag deur Harry Kalmer en Hannelie Coetzee.

In 1994 is ek en my man in New York en kom ons af op die ongelooflikste boek deur die skrywer/illustreerder Nick Bantock.

Die titel is Griffin & Sabine en dit word as “an extraordinary correspondence” beskryf. Dit was ’n versameling van regte briewe (in koeverte) en geïllustreerde poskaarte wat die korrespondensie uitbeeld tussen ’n man, ene Griffin Moss van Gryphon Cards in Londen, en ’n vrou, Sabine Stohem in die Suidsee-eilande. Die boek eindig met die inskripsie dat die briefwisseling gevind is in die solder van die andersins leë ateljee van Griffin Moss, met geen spoor van Moss nie. Só gewild was dit dat ’n reeks van nog twee boeke daarna verskyn het.

In 2006 het ek vir die eerste keer iets soortgelyks in Afrikaans gesien. Eers was daar die roerende toneelstuk by Aardklop deur Harry Kalmer met die titel Briewe aan ’n rooi dak. En toe vyf jaar daarna verskyn die toneelstuk as boek – in die vorm van ’n ligblou hardeband met 13 regte briewe in rooi koeverte.

Dit was in ’n bewerige dog vloeiende “langhand” geskryf deur ’n eensame bejaarde, die denkbeeldige 71-jarige Magdalena Otto, wat haar verhaal vertel aan die enigste ding wat sy van haar bed kon sien – ’n rooi dak, en is ná haar dood gevind. Ek het dit langs die drie Griffin & Sabine’s ingeskuif.

En toe einde verlede jaar bel Harry my. Hy het weer ’n handgemaakte boek, ’n sogenaamde “papboek” wat hy op die Stellenbosse Woordfees wil bekend stel.

’n Papboek?

“ ’n Klein bedrukte, geborduurde kunstenaars-“slapboek” van linne,” e-pos hy, een waaraan hy en die kunstenaar Hannelie Coetzee werk en wat die storie vertel van ’n Hollander wat gedurende die Anglo-Boereoorlog vir die Boere geveg het, maar as verraaier deur die Wolmaransstad-krygshof gefusilleer is.

Die agste plaag was ’n treffer – delikaat van tekstuur, met sy eweneens minimalisties tragiese verhaal van die “skoolmeester op die buurplaas” en Martruid, die “kindermeid” en newelagtige sprinkaan-afdrukke in uitgewaste pienk ink.

As naskrif verskyn in April, in die reünie-uitgawe van die tydskrif Insig, ’n uittreksel uit die essay wat Harry destyds vir die tydskrif geskryf het oor sy inspirasie vir Briewe. Hy het die spertyd vir ’n oorspronklike storie gemis, maar ingestem dat ons dié stukkie kon hergebruik.

Op ’n koue en reënerige oggend in Augustus 2004 stap ek deur Bez Valley. Voor ’n leë winkel drom ’n klompie werkloses om ’n vuurtjie saam. Net agter hulle staan ’n vrekmooi art deco-stoel, duidelik bestem vir die vuur. Ek oorweeg om hulle iets daarvoor te betaal, maar ek het ’n skamele R5 by my. Beswaarlik genoeg vir ’n plank. Diep onder die indruk van my eie armlastigheid drentel ek huis toe en begin teken.

Ek teken nie goed nie, maar teken help my dink. Onderaan skryf ek vier reëls. Die laaste een lui so: “Boeke maak nie geld nie, maar jy kan hulle mooi maak.”

Meer oor:  Boeke  |  Harry Kalmer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.