Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Met die land op ’n naaldpunt

Fiksie

Vermoedelik dood

Johan Kruger

PROTEA, R295

Met Vermoedelik dood neem Johan Kruger die leser terug na die interregnum wat die vroeë 1990’s was voor die historiese verkiesing in 1994.

Met die land op ’n naaldpunt was dit ’n tyd van hoop en onsekerheid. Jy kan jou voorstel watter onopgetekende dramas hulself agter die skerms uitgespeel het. As regsgeleerde wat betrokke was by die onderhandelingsproses by die Wêreldhandelsentrum in Kempton Park, onderneem Kruger ’n verbeeldingsvlug teen die agtergrond van daardie spanningsvolle episode in ons onlangse geskiedenis.

Geruime tyd al bevind Ben Brandt as berugte oudlid van die polisie se veiligheidstak hom diep in die maag van die aarde as ’n mynwerker van Poolse afkoms. Aan ’n beter manier om onder die radar te wees, kan ’n mens kwalik dink. Maar dan laat weet die Beweging (ja, dit is hoe dit in die storie genoem word) vir Brandt dat die tyd aangebreek het om die Pool te begrawe, want sy dienste as sluipmoordenaar word dringend benodig in belang van die volk wat by die onderhandelingstafel verraai word.

Ben Brandt is deel van ’n twyfelagtige geselskap meelopers en maaifoedies wie se hubris hul intellektuele vermoëns ver oorskry.

Ongeveer ’n jaar voor Suid-Afrika se eerste volwaardig demokratiese verkiesing bevind advokaat Gerhard Coetzee hom in die Paleis van Justisie om ’n aansoek wat dit wil hê dat ene Jozeph Brzinski dood verklaar word, te opponeer.

Gou blyk dit dat hierdie mynwerker nie net springlewendig is nie, maar dat daar ’n verband is tussen die klaarblyklik afgestorwene en traumatiese gebeure uit die verlede wat Coetzee se lewenspad op gewelddadige wyse verlê het.

Nie net is advokaat Gerhard Coetzee en die mense vir wie hy baie lief is, se lewe dalk in groot gevaar nie, maar as Ben Brandt weer op die toneel is, behoort daar gevaarligte te flikker vir almal wat besorg is oor die land se veiligheid.

Aan die een kant is daar die advokaat en sy vrou wat die droom van ’n nuwe en vry Suid-Afrika verteenwoordig. Veral advokaat Coetzee het ’n ontsettende hoë prys betaal vir die beginsels wat hy vreesloos aanhang.

Aan die ander kant is obskure mannetjies met plannetjies. Ben Brandt is deel van ’n twyfelagtige geselskap meelopers en maaifoedies wie se hubris hul intellektuele vermoëns ver oorskry.

Benewens enkele kinkels, soos die rede vir die verbrokkeling van ’n vriendskap tussen Gerhard en ’n eertydse UDF-operateur, is die storielyn taamlik voorspelbaar. Om die leser langer aan die raai te hou, is ’n uitdaging wat ’n kreatiewe aanslag vereis.

Met wraak en weerwraak as tema bied Vermoedelik dood ontvlugtingsleesvermaak met fiktiewe historiese voetnotas wat internasionaal voorbladnuus kon gewees het as dinge handuit geruk het.

Francois Bekker is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Johan Kruger  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.