Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Met voete op aarde reik skrywer na maan

Fiksie

Alleen onder die maan

Willem Krog

JONATHAN BALL, R240

Die ondermaanse is die woonplek van die mens.

Die maan, waar die mens al sy stewelspoor geplant het, is steeds onbewoon, ’n simbool van die bereikbare/onbereikbare.

In vroeë wetenskapfiksie was die maan ’n plek van ontdekking, die verste grenspos. Die Britse outeur HG Wells se “wetenskapromanse”, The First Men in the Moon, is van 1900 tot 1901 in The Strand Magazine gepubliseer – blink nuwe fiksie vir ’n nuwe eeu, draer van ’n visioen wat op 20 Julie 1969 deels sou realiseer met die Apollo 11-maanlanding.

Sulke invalshoeke meld aan by die lees van Willem Krog se roman, Alleen onder die maan, wat losweg as toekomsfiksie beskryf kan word. In die verweefde storie-in-’n-storie inspireer die maan ’n groep seuns om ’n ruimtetuig te bou en die maanlanding na te boots.

Die verhaal speel af in die nabye toekoms in die Vrystaat. Daar word melding gemaak van eietydse figure soos Zuma, Obama en Trump. Dinge het verander, al is die omgewing half bekend. Die protagonis, Pieter Malan, probeer sy oorlede pa se as by ’n begrafnisondernemer kry, maar sake loop skeef. Afskeid word telkens uitgestel.

Die “hede” word afgewissel en gekontrasteer deur die verlede, die laat 1960’s, soos opgeroep in pa Jaco se “onvoltooide manuskrip”. Dié plaasroman handel oor Jaco se grootwordjare, ’n landelike relaas met vergange rituele soos skaapslag en kwajongstreke.

Die apartheidsbestel was in volle swang. Die manuskrip open met die ma en haar seuns wat gaan kyk na Jamie Uys se Dirkie, ’n fliek oor ’n dapper seuntjie wat in die woestyn verdwaal. Hier al word eensaamheid en oorlewing in ’n maanagtige landskap aangeroer.

In ’n voorwoord maan die skrywer teen die onbetroubaarheid van herinnerings. Dit is rekonstruksies, skryf hy, die namaak en vervalsing van die verlede: “… in geheel oneg, ’n massa fiksie – iets onwerkliks. Ons leef almal die waarheid, maar herroep slegs die leuen.”

In vlytige spronge tussen wat verby is en die hede (hier die toekoms), tussen fiksie en feit, probeer Pieter sin maak van sy bestaan.

In vlytige spronge tussen wat verby is en die hede (hier die toekoms), tussen fiksie en feit, probeer Pieter sin maak van sy bestaan, die verwikkelde verhouding met sy pa en wysigings wat ingetree het: instellings het verdwyn, ou woorde het hul betekenis verloor, wette, taal en gewoontes het onherroeplik verander.

Kunsmatige Intelligensie en algoritmes bestuur almal se lewens. Die heersende regeringsmodel is SOMSS (System of Moral and Social Suitability), ’n Chinese datastelsel wat alle inligting wat op die internet oor elke mens beskikbaar is – die werk wat jy doen, hoeveel jy bydra tot belasting, hoeveel vleis jy eet, jou sosiale interaksies – versamel en gradeer.

Die totale punt wat jy kry, bepaal watter voordele jy kry, die soort huisvesting en hoeveelheid motor- en treinritte. ’n Lae punt beteken jy mag nie eiendom besit nie. Jou gedrag en leefwyse word moreel beoordeel, beloon of gestraf. People Move bepaal hoe, waar en hoe dikwels jy mag reis. Elke landsburger moet die RCL (Responsible Citizenship Learn­ing) doen om ’n goeie SOMSS-punt te kry.

Dis ’n donker droom, maar Krog wou nie ’n mistroostige, distopiese wêreld skep nie. Inteendeel, hier werk dinge grotendeels. Mense, al is hulle so onvergenoegd soos altyd, al kan ’n hommeltuig hulle voorkeer en ondervra, kan hul lot verbeter te midde van streng grense.

Dit is nie ’n spanningsverhaal van weerstand teen ’n wrede, onregverdige Korporasie soos in Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019) nie.

Die toonaard is meer elegies, die fokus is op introspeksie en nabetragting, met talle aanhalings uit Herbert Marcuse se One Dimensional Man. Marcuse was ’n sosioloog wat kapitalisme, moderne tegnologie, historiese materialisme en die vermaaklikheidskultuur as nuwe vorms van beheer gekritiseer het.

Pieter en sy pa redeneer oor hoe die verlede die toekoms gebaar het, hoe die mens se gemaksug en obsessie met vernuwing gelei het tot ’n tegnokrasie waar AI die septer swaai. Mense verrig nie meer fisieke arbeid nie, maar werk met rekenaars. Pieter verdien geld deur rekenaarspeletjies te toets.

Dis ’n donker droom, maar Krog wou nie ’n mistroostige, distopiese wêreld skep nie.

Die maanlanding was die tweede sondeval, glo pa Jaco, en die mens is opnuut kaal. Die internet is sy straf. Die maan sein nie net eensaamheid en verlore kanse nie, maar ook ’n onseker toekoms. Krog, wat sy prodadebuut met Jacobus by Protea (2011) gemaak het en die digter is van Assignaat (2015), vertaal Shelley se The Ex­ist­ing State of Things: “Afgryslike gesigte dring om my gesigsveld saam, / hulle skyn om hul gestaltes ’n donker maan.”

Die kernbeeld van ’n ronde “blomklip” met 12 blare (Sanskrit-simbool van die anahata) wat in die plaasopstal ingebou is, snoer hede, verlede, toekoms en mitologie saam. Hierin setel die universele menslike vrittis (gewaarwordinge) van begeerte, korrupsie, besluiteloosheid, berou, hoop, angs, hunkering, onpartydigheid, arrogansie, onbevoegdheid, diskriminasie en uitdaging.

Alleen onder die maan bespiegel oortuigend oor wat kan wees as ’n prikkelende roman wat groot spronge waag en die mens se hunkering na betekenis vanuit vele tekste belig. Enersyds antiek: Sisufos moes aanhoudend ’n klip teen ’n skuinste uitrol, ’n sinlose onderneming – in die slot word dit ’n handeling wat ’n karakter letterlik uitvoer. Andersyds modern: Pieter en Alice kommunikeer via kriptiese elektroniese boodskappe, kompleet met afkortings en emojis.

Met sy voete stewig op die aarde, reik Krog na die maan.

Schalk Schoombie is die skrywer van Die nag ruik na spoed.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.