Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meyer het ‘moeilike jaar’ voorsien toe hy Donkerdrif aanpak

Dit gaan ’n moeilike jaar wees, het die skrywer Deon Meyer vroeër vanjaar gesê, maar hy het nie na die Covid-19-pandemie verwys nie.

Meyer, wie se jongste roman, Donkerdrif, Donderdag op Netwerk24 bekend gestel is, het in Maart op die US Woordfees in Stellenbosch dít gesê aan sy vrou, Marianne, omdat hy tóé nog net sowat ’n kwart van die boek geskryf het.

Deon Meyer

Dit terwyl toere in Frankryk, Swede en Duitsland voorgelê het.

“Ek het voorsien ek sal lang en ongereelde ure tussendeur ander dinge moet skryf,” het Meyer aan Etienne Bloemhof, uitgewer by NB-Uitgewers, tydens die bekendstelling gesê.

“Met die uitbreek van die pandemie was ek verlig omdat daar eintlik meer tyd vir skryf sou wees, maar terselfdertyd was dit moeilik om te fokus. Die pandemie was nuut en vreemd en vreesaanjaend.”

Meyer het aanvanklik gesukkel om langer as ’n halfuur aaneen te skryf.

“En dan kon ek nie langer die impuls onderdruk om na die nuus te kyk nie. Ek dink alles omtrent die pandemie was ’n onaangename verrassing.”

Die bestaan van so ’n virus is in sy boek Koors beskryf. Dit is in 2016 uitgereik.

“Met die navorsing wat ek gedoen het, het dit geblyk soiets sou maklik bekamp en oorkom kon word. Maar die een groot verrassing is hoe dit nie beheer kan word nie. Dit steek landsgrense oor. Die tweede groot verrassing was hoe swak internasionaal saamgewerk is om die pandemie te bekamp. Daar was eerder ’n vingerwysing.”

Meyer het ook met sy eie navorsing gedurende die inperking gesukkel.

Hy kon nie soos gewoonlik met mense vir sy navorsing gaan praat nie.

In Donkerdrif verskyn die speurders Bennie Griesel en Vaughn Cupido weer.

‘Donkerdrif’ deur Deon Meyer

Hulle is geskors en bevind hulself in die studentedorp Stellenbosch, waar Meyer ook deesdae woon.

Hulle ondersoek die verdwyning van ’n student en is op die spoor van ’n eiendomsagent wat betrokke was by die verkoop van Donkerdrif, ’n wynplaas wat aan die swendelaar Jasper Boonstra behoort.

Meyer het aan Donkerdrif begin skryf in ’n tyd toe verskeie korporatiewe skandale oor die SAL, Eskom en Steinhoff in die nuus was.

Meyer beskryf ’n moord in die Waterfront in Kaapstad.

Dit het intussen ook in die werklike lewe gebeur.

“Dit is 80% geluk,” sê Meyer.

“Een van die oorspronge van Donkerdrif is ’n ondersoek wat steeds voortduur: korrupsie in die polisie.”

Hy gesels gereeld met die polisie in die Kaap.

“Ek is redelik op die hoogte van hul werk en die sake wat opspraak maak.”

Meyer meen een van die lekkerste aspekte van skryf is om jouself in iemand anders se skoene te plaas.

“Om jouself in die skoene te plaas van iemand wat heeltemal anders as jy is, met ander oë na die wêreld kyk. Dit dwing jou om anders te kyk.”

Meyer het lank oor kulturele appropriasie gedink toe hy die eerste keer daarvan bewus geword het.

“Jy wil sensitief wees en niemand affronteer nie. Ek het uiteindelik besluit om my glad nie daaraan te steur nie. As ’n skrywer aan bande gelê word, is dit sensuur.

“Dis my manier om die leser te respekteer dat ek my navorsing deeglik doen en eerlik en opreg sal wees met hoe ek ’n karakter voorstel. Ek sal nooit ophou om my huiswerk te doen nie.”

Cupido en Griessel het in Meyer se roman Infanta die eerste keer met mekaar te doen gehad.

“En aanvanklik het hulle nie van mekaar gehou nie. Maar hul verhouding het ontwikkel. En nou sal ek as skrywer hulle nie kan skei nie. ’n Mens sien daardie broederskap onder speurders.”

’n Ander sy van Griessel word vir die eerste keer uitgebeeld. Dit is deur die oë van ’n vroulike karakter, die eiendomsagent Sandra Steenberg.

Griessel en Cupido is baie verskillende speurders.

“Cupido is ’n baie instinktiewe gevoelspeurder, terwyl Bennie meer analities en konserwatief is. Maar hulle albei bring iets na die taak. Dis heerlik om hierdie wisselwerking te illustreer.”

Gewoonlik wil hy vir ’n maand lank glad nie aan ’n volgende boek dink nie, maar hy het Bloemhof die goeie nuus meegedeel dat hy reeds sterk aan sy volgende boek dink.

Donkerdrif word deur Human & Rousseau uitgegee en kos R320.

•Kyk hier na ’n opname van die boekbekendstelling: https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/kyk-bekendstelling-van-deon-meyer-se-donkerdrif-20201104-3

Meer oor:  Human & Rousseau  |  Nb-Uitgewers  |  Deon Meyer  |  Boeke  |  Skrywers  |  Bekendstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.