Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Meyer se bielie plant ’n barshou

Deon Meyer is ’n meesterstoriespinner met ‘Donkerdrif’, sy nuutste Bennie Griessel-grieselboek wat ook van sy slimste storielyne bevat, meen Jean Meiring.

Deon Meyer: Hy doop ook sy pen tussendeur in die satiriese inkpot.

Donkerdrifdeur Deon Meyer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R320.

In ’n wêreld waar visuele storievertelling die norm geword het en waar ons soms bloeddringende behoefte aan die helende krag van ’n verhaal deur televisie-op-aanvraag bevredig word, is die prestasie van Deon Meyer – én die linie Afrikaanse misdaad- en spanningskrywers wat vinnig in sy vaarwater aangegalop kom – iets om die asem weg te neem.

Nes Dalene Matthee in die 1980’s Afrikaanses behoorlik aan die lees gesit het, het Meyer in die jare ná die koms van die demokratiese bedeling, en veral ná 2000, dít opnuut vermag. Maar hý kry dit reg wanneer die outydse boek, wat met die oopgaanslag die hinkepink rinkeling van opwenmusiek vrylaat, soveel meer blinkgeoliede mededingers as toe het.

As dit na ademlose oordrywing klink wat slegs ’n boekklubvoorsitster betaam, sal ek maar my formele pampiere – my resensiegeloofsbriewe – moet teruggee en my blommetjiesrok en kitten heels aantrek. Kortom, Meyer is ’n meesterstoriespinner en Donkerdrif, sy nuutste Griessel-grieselboek, plant ’n barshou.

Meyer se boksombende is almal ou bekendes: die Valke-speurder kapt. Bennie Griessel en sy verloofde, Alexa, soos hý ’n oud-alkoholis wat op die Smalle Weg ’n wankeltog voer; en sy mede-Valk, die breedsprakige en windmakerige kapt. Vaughn Cupido en sý Stellenbosse nonnatjie, Desiree; en moenie vergeet van kol. Mbali “Die Blom” Kaleni nie – dié het in ’n vorige episode met ’n onwelriekende blomkooldieet gewig verloor en is gou mirakelagtig weer terug. Die rolverdeling bekendes is ’n arm lank.

Deur die blik van ’n derdepersoonsverteller wie se oë by tye alsiende is, het Meyer ’n klompie vinnige hale verf nodig om, soos Geppetto, vars lewe in sy mense te blaas.

Die sterkste stuwing lewegewende asem is die intrige (of plot) wat Meyer weer in Donkerdrif met sy kenmerkende behendigheid karteer. Tog, om waarheidsgetrou te bly, laat hy dit soos ’n kaartlose stormsee van onvoorspelbaarhede lyk waarin hy vir Griessel en kie dompel – en waar hulle dan self verbete om oorlewing moet spartel.

Meyer is ’n meesterstoriespinner en Donkerdrif, sy nuutste Griessel-grieselboek, plant ’n barshou

En watter stormsee, vra ek u met trane in my blousel-bloues, is woester of dodeliker as Volvoville, soos Cupido die hedendaagse Stellenbosch noem? Watter subgroep op daardie Midas-dorp van Prada-praal en wroemvertoon in Kerkstraat, van inkommers en van graadoordaad, het met meer brute ongenaakbaarheid te kampe as die glimlaggende eiendomstannies en -juffers wat weekliks in die Eikestadnuus pryk? Gewis geen ander nie, sal Sandra Steenberg, aanvallige 33-jarige agent vir Benson International Realtors in Dorpstraat, jou ferm laat weet.

Die ekonomie is boonop ’n stellasie wat wil-wil kantel. In die Eikehemel het die ontsagwekkende swendelkuns van Jasper Boonstra, voorheen die uitvoerende hoof van Schneider-König, wat onlangs aan die kaak gestel is, sy eie kaartehuis en dié van soveel ander ten gronde gebring. (Vir diegene wat hond se gedagte kry: Op bl. 464 sê Meyer die boek se karakters “bestaan net in die skrywer se verbeelding”.) Weens dié treurmare koop niemand meer huise nie. Jy sou sweer die bakstene is uit goud gegiet.

Sandra se man, Josef, is ’n Engels-dosent wat op sabbatsverlof is om ’n roman te voltooi. Sý sien na die gesin se finansies om; sy hou die beroerde stand van sake dig geheim.

As sy egter op die stoep van hul tweeling se kleuterskool uit die bloute ’n oproep van die berugte mnr. Boonstra kry, is daar skielik weer murg in haar pype. Hy wil tog sekerlik vir haar vra om een van sy baie eiendomme van die hand te sit. Dít sal hul reddingsboei wees, mymer sy, terwyl die verteller – in ’n alsiende gleuf – lesers wysmaak: “Dit is die oomblik waarop Sandra Steenberg se lewe onherroeplik verander” (bl. 30).

Ook doop Meyer sy pen tussendeur in die satiriese inkpot.

Wanneer dié verhaal op Stellenbosch ontknoop, bied kaptt. Griessel en Cupido hul eie krisis in die Moederstad die hoof. Hulle is voor stok vir hul hardkoppige weiering, voor die gordyn op Donkerdrif opgegaan het, om te aanvaar dat Menzi Dikela aan sy eie hand dood is. Op bl. 36 is daar ’n voetnoot wat sê dat daardie gebeure in die “misdaadroman” Prooi (2018) beskryf is. Op bl. 226 is daar ’n soortgelyke voetnoot wat terugverwys na Meyer se “misdaadroman” Ikarus (2015). Die spel met die leser sou egter met vrug ook in die voetnote volgehou kon word.

Gou word die Stellenbosse en Kaapse verhaallyne soos halsstarrige toutjies wol ineengekoek. Om dan ook met ’n derde tou verstrengel te raak wat uit ’n boverdieping van die Eendrag-manskoshuis in die hartjie van die Matie-kampus afrol. Én met nog ander hardkoppige kortetjies ineengeknoop.

Hoewel Donkerdrif open met ’n spanningsvolle skiet-skop-en-donder-toneel wat in Julie afspeel en oor hoofstukke 1 tot 3 strek, is daardie misdaad wat ter aanvang gepleeg word, anders as in baie ander Griessel-boeke, nie die sneller wat die verhaal se ontknoping ontketen nie.

In hoofstuk 4 verskuif die verteller se aandag vooruit Septembermaand toe, na wat lyk soos ’n skoon verhaallei. Trouens, dis eers ’n goeie ent verby bl. 150 dat die poppe werklik begin dans. (Hoe die openingstoneel inpas word die leser eers later wys.)

Waar so ’n betreklik stadige opskalering van die intrige in ’n ander misdaadskrywer se hande doodsake sou wees, is dit in Meyer s’n warempel ’n deug. Dat hy so iets sal aandurf is sekerlik ’n aanduiding van sy steeds groeiende selfvertroue en vernuf as skrywer.

In daardie eerste opsetlik rustiger deel vind die leser fyn karaktertekening (veral van Sandra onder die nuwelingkarakters) en ’n tafereel waarop die persoonlike verhoudinge tussen onder meer Griessel en sy huismense en Cupido en syne uitspeel. En natuurlik in die Steenberg-huishouding. Daarin, en ook onder meer in Griessel en Cupido se stryd teen die beuelblasers in die Valke, is daar egter reeds heelwat spanning ingebou, al is misdaad nog meesal op die agtergrond.

Ook doop Meyer sy pen tussendeur in die satiriese inkpot. Sy fyn draakstekery met die geld- en statusbeheptheid van ’n sekere tipe Stellenbosser bied groot vermaak – selfs vir sommige lesers ’n bietjie schadenfreude? Maar die ingeoefende leser wéét dat die verhaal se groot olifante op ’n goeie dag met flappende ore uit die bosse gaan dawer.

En so ís dit ook.

Donkerdrif bevat seker een van Meyer se slimste storielyne. Die intrige waaier oor Matieland én verder uit. Al sal daar diegene wees wat sê dat die jaar 2020 die grense van wat ’n leser sal glo beduidend uitgesit het, bly die storie enduit inherent geloofwaardig, die noodwendige toeval hier en daar ten spyt.

Daar is wel enkele redaksionele slordighede. Veral waar Meyer pertinent na vorige boeke terugverwys en sodoende ’n Griessel-heelal-in-die-kleine aan’t skep is, sal daar puntenerige lesers wees wat opmerk dat karakters se ouderdomme nie konsekwent aanskuif nie. Dok Barkhuizen, byvoorbeeld, is darem al bitter lank 71 jaar oud – sien bl. 62 in die misdaadroman Kobra (2013).

Ook is dit liggies steurend dat die verhaal oor opeenvolgende datums afspeel maar dat die leser nie boaan gesê word watter weeksdag dit is nie; soms word die dag van die week wel in die vertelling onthul. Dat dit ’n Maandag eerder as ’n Sondag is, maak tog storiematig saak. En, op bl. 253, is daar ’n kontinuïteitsglips: Hoe weet Boonstra van die bedrag driemiljoen wat op Sandra se brein is? (Tot baie na aan die einde van die storie het ek gemeen ek sal tot dié lys moet toevoeg: ’n Verhaal van hierdie aard en, watwo, geen enkele toneel in die Decameron-restaurant nie?)

Maar dit sal baie meer as sulke klein besware verg om die loutere plesier te verminder wat die opneem van hierdie bielie van ’n boek bied. In die beste sin van die woord, raak die leser, heel outyds, in die storie verlore. Om van die boek se einde – vingerpunte wat net-net sigbaar teen die rand van Skuldbult vasklou – nie eens te praat nie.

’n Opvolgboek is onafwendbaar. Laat ek ’n titel aan die hand doen: Lasarus.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Deon Meyer  |  Donkerdrif  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.