Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Miché: Nou biologiese ouers se tyd om uit te reik
Miché Solomon (22, links) praat Sondag met Joanne Jowell, skrywer van die boek oor haar lewe op die Open Book Festival by die Fugard-teater in Kaapstad. Foto: Roshé Taka

Miché Solomon (22), wat alombekend is as Zephany Nurse, sê noudat die boek oor haar lewensverhaal gepubliseer is, weet haar biologiese familie presies hoe sy voel en is sy steeds bereid om hul verhouding ’n kans te gee.

Solomon het Sondag op die Open Book Festival in die Fugard-teater in Kaapstad gepraat oor haar lewe en die boek Twee ma’s. Een dogter. ’n Ongelooflike ware verhaal.

Daarin vertel Solomon haar lewensverhaal aan Joanne Jowell, wat die boek geskryf het.

Solomon is as baba uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gesteel. Haar grootmaakma, Lavona Solomon, is in 2016 tot tien jaar tronkstraf gevonnis weens die misdaad.

Miché het in haar matriekjaar in 2015 uitgevind dat Morné Nurse en sy gewese vrou Celeste haar biologiese ouers is.

Solomon sê daar is steeds baie druk op haar verhouding met haar biologiese ouers en sy voel sterk dat dit nou hul beurt is om na haar uit te reik.

“Ek is ’n oop boek. Hulle kan kom, hulle kan (met my) kom praat. Ons kan versoen. Noudat hulle weet (hoe ek voel). Noudat die kaarte alles oop op die tafel is.”

Solomon, wat intussen self ’n ma geword het, sê toe sy haar biologiese ouers uiteindelik ontmoet het, het sy nie dieselfde biologiese konneksie gevoel soos toe sy haar jonger suster, Cassidy, ontmoet het nie.

Ek is ’n oop boek. Hulle kan kom, hulle kan (met my) kom praat. Ons kan versoen. Noudat hulle weet (hoe ek voel). Noudat die kaarte alles oop op die tafel is.

Cassidy was by dieselfde skool as Solomon en die twee het dadelik vriende geword. Mense het opgemerk hoe baie die twee na mekaar lyk.

“Ek het hierdie vreemde gevoel ervaar. ’n Konneksie. Ek het geredeneer dis omdat die meisie net soos ek lyk. Ons het kort daarna begin vriende word,” sê Solomon.

Oor Lavona sê sy: “Sy was so normaal soos enige ander ma in ’n gelukkige huis. Van wat ek onthou, was daar goeie tye en daar was rusies. Dit het nooit voor ons gebeur nie.”

Solomon sê sy het in ’n gelukkige huis grootgeword. Hoewel sy nie Lavona se dade goedkeur nie, het sy haar vergewe en sal daar altyd ’n band tussen hulle wees.

“Sy het die vertroue verbreek, maar die band is nog daar. Sy sal baie hard moet werk om my vertroue weer terug te wen,” sê Solomon.

Solomon besoek Lavona steeds in die Worcester-gevangenis, waar sy haar tronkstraf uitdien.

Sy sê sy glo nie vir een oomblik Lavona se weergawe dat ene Sylvia die baba vir haar gegee het nie.

Solomon het destyds besluit om eerder by haar grootmaak-pa, Michael, te bly. Die besluit was gegrond op die feit dat haar biologiese ouers reeds geskei was, sê Solomon.

Albert Fritz, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het Sondag ook die geleentheid bygewoon. Solomon het hom in ’n stadium uitgesonder en bedank vir alles wat hy vir haar gedoen het. Sy het met net matriek as intern in Fritz se kantoor gewerk.

Solomon erken sy baie kritiek ontvang het sedert die publikasie van haar boek, maar sê sy wou die negatiewe in haar lewe in iets positiefs verander.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.