Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Vier novelles, vier onopgeloste raaisels

Misdaadfiksie

Prefecture D

Hideo Yokoyama

QUERCUS, R325

Vier novelles. Vier onopgeloste raaisels. Vier hoofkarakters.

Prefecture D is ’n versameling verhale wat in 1998 afspeel in dieselfde wêreld as Hideo Yokoyama se vorige twee boeke in die reeks, Six Four en Seventeen.

Hoewel die roman geklassifiseer kan word as misdaadfiksie, word die misdaad nêrens blatant uitgebeeld nie. Daar is nie gedetailleerde beskrywings van die misdade nie, geen grusame uitbeeldings en geen spanningsvolle oomblikke kenmerkend van tradisionele misdaadfiksie nie.

Yokoyama skuif die fokus na die prosedure, die interpersoonlike verhoudings, kantoorpolitiek en interdepartementele konflikte in die polisieprefektuur. Hy gee ’n skermskoot van die Japannese polisiestelsel – die erns van bevorderingsprosedures, range en administrasie.

Ten spyte van die potensieel sieldodende onderwerp, bly jy verbind tot die teks en slaag die skrywer daarin om, selfs sonder ’n aksiebelaaide, bloedige storielyn, jou aandag te hou.

In die eerste novelle, Season of Shadows, word Shinji Futawatari se lewe bemoeilik deur ’n kollega wat nie afstand wil doen van sy winsgewende, hoë pos nie. Sy teësinnigheid veroorsaak eindelose administratiewe komplikasies vir Futawatari, wat opgesaal sit met die probleem, maar daar skuil meer agter sy aksies as blote hardkoppigheid.

Hoewel die roman geklassifiseer kan word as misdaadfiksie, word die misdaad nêrens blatant uitgebeeld nie.

Hoewel Futawatari in die ander drie novelles op die agtergrond geskuif word, is sy toewyding aan sy beroep en die rompslomp in die polisiediens ’n deurlopende tema.

Druk om te presteer en mee te ding en die strewe na perfeksie in die samelewing en ’n kultuur waar werkers hulle letterlik doodwerk, is so algemeen dat daar ’n spesiale woord daarvoor is – “karoshi”. In Cry of the Earth kom die negatiewe impak van hierdie werksetiek ter sprake wanneer Takayoshi Shindo se ambisie om tot kaptein bevorder te word, gekortwiek word deur ’n maagseer.

Yokoyama meet sy sinne ekonomies en versigtig af en dis in hierdie minimalistiese eenvoud waarin hy die spanning opsluit. Ten spyte van die soms melancholiese ondertoon weens die uitbeelding van uitdagings in die Japannese kultuur, word jy nie vervreem van die teks nie. Elke novelle se raaisel word noukeurig beplan en elke onthulling ewe netjies uitgepak.

Hideo Yokoyama is een van Japan se gewildste misdaadskrywers met 17 romans op sy publikasielys. Met die toenemende beskikbaarheid van Engelse vertalings van Japannese fiksie kan verwag word dat ons meer van sy werk op die rakke sal sien.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.