Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Minlike Beukes laat jou weer saam verbeel in ’n distopie

Fiksie

Afterland

Lauren Beukes

UMUZI, R290

Wie sou kon raai dat die minlike Lauren Beukes ná Broken Monsters (2014) vir nagenoeg ses jaar sou verdwyn, net om terug te keer met ’n profetiese Bybel van ’n boek?

Beukes bevestig haar nogmaals trefseker en met ’n gatskophouding as literêre waarsêer, argeoloog van anargie en argivaris van die toekoms-as-nou.

Met ’n meta-maalkolk van bloedstollende aksie, tong-in-die-kies-humor en hiperintelligente waarnemings oor die mens as die brutaalste dierasie van almal is Afterland niks minder as ’n kolossale kreatiewe uitoefening van die kritiese verbeelding nie. Beukes het duidelik nagevors, nagevors en nogmaals nagevors.

Beukes se kritiese verbeelding word ingespan om ’n nabye toekoms – 2023 – stuk vir stuk, hou vir hou, oomblik vir tergende oomblik voor die leser se oë te laat leef.

Dit noop die leser om woorde soos vlymskerp, vindingryk en aangrypend met ’n onmiddellikheid op te soek, maar skep ook ’n fiktiewe ruimte waar die leser se eie verbeelding self van meet af by ’n verhaal van uiterstes – oorlewing as enigste werkbare opsie en die skrywer se eie fel aanslag op die leser se sinne – betrek word.

Stephen King het onlangs Beukes se lof besing. Dit is inderdaad onmoontlik om nie Afterland te lees as ’n soort gespreksgenoot vir sy The Stand (1978) nie.

Stephen King het onlangs Beukes se lof besing. Dit is inderdaad onmoontlik om nie Afterland te lees as ’n soort gespreksgenoot vir sy The Stand (1978) nie.

Juliana Coetzer het in haar resensie verwys na die roman as die “ekstroverte suster” van Cormac McCarthy se The Road. Inderdaad is daar verskeie raakpunte met McCarthy se roman, maar Afterland staan sekuur op eie meriete.

Zoo City (2010), The Shining Girls (2013), Broken Monsters (2014) het elk uit eie reg die broodkrummels gegooi wat uiteindelik na die “House of horrors” in Afterland lei.

Die romans het met toenemende intensiteit en volgehoue belangstelling in die bose ingezoem op individue wat as uitsonderlik beskou kon word – hetsy oor hul potensiaal om verwoesting te saai of die status quo ernstig te bedreig – en die soort verwronge samelewings wat uiteindelik meer as net ’n bietjie verantwoordelik is vir die “grootmaak” van uitsonderlike persone wat deur sommige as “monsters” bestempel sou word.

In Afterland is die wêreld van 2023 een waar ’n virus wêreldwyd toegeslaan en mans aangeval en feitlik uitgewis het.

Twee jaar ná wat ’n Johannesburgse gesin se blitsbesoek aan Amerika moes wees, is Cole, ma van Miles, aangewese om as beskermengel op te tree op ’n trek deur die weste van Amerika.

Hierdie woeste langpadreis – nadat Miles se pa, Devon, die virus kry en sterf – word al hoe meer hartverskeurend omdat die “monster” in hierdie verhaal Cole se eie suster, Billie, is.

Billie is vasbeslote om Miles, een van minder as 1% van die bevolking wat immuun is teen die virus, vas te trek en aan die hoogste bieër te verkoop.

Voeg jy ’n verskriklike kultus van neon-nonne by en die bedreiging van die Department of Men, wat Miles onder kwarantyn wil hou, dalk net vir altyd, en die tafel is gedek vir ’n uitsonderlike avontuur: dodelik vermaaklik, ryk in profetiese dimensie en werklik nooit minder as prikkelend en slim nie.

Miles word Mila; Cole word “Sister Patience”. Beukes vergeet nie van die humor in absurditeit nie; die tragiese en komiese loop hier hand aan hand.

Hierdie roman het veel te sê oor die wêreld waarin ons vandag lewe.

Klein jakkalsies soos die dele met die nonne wat veels te lank uitgerek word, tonele tussen ma en seun wat dreig om effe herhalend te raak en ’n slot wat meer wasig afspeel as wat nodig was, is egter druppels swart ink op ’n enorme tablo wat bars van kleur en lewe.

Hierdie roman het veel te sê oor die wêreld waarin ons vandag lewe – hetsy oor die voortdurende stryd om geslagsgelykheid, die “oorlog” tussen verskillende ideologieë, die stryd tussen links en regs, die “verlore” middel en geweld teen vroue en kinders.

Maar dit gaan in Afterland op die oppervlak en veel dieper oor ’n ontstemmende “politics of looking”: die wyses waarop dié in magsposisies voortgaan om dié sonder sosiale mobiliteit en mag uit te buit; hoe die man op straat (ook deur sy eie toedoen, soms onwetend) sy vryheid en “onsigbaarheid” moes prysgee onder regimes waar “surveillance capitalism” soos benoem deur Shoshana Zuboff die botoon voer; hoe mans en vroue (in welke gewaad) na mekaar kyk sonder om mekaar noodwendig te sien.

Afterland is uiteindelik ’n fiksieteks wat die harde waarhede van niefiksie en die dokumentêre kan kommunikeer, terwyl dit op epiese skaal ’n besonder intieme verhaal vertel. Hoe lyk ’n blik op ’n wêreld sonder mans, ruimte deur afwesigheid ingekleur. Verorber Afterland om uit te vind.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Lauren Beukes  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.