Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Misdaadriller Van Zyl se beste tot nog toe

Irna van Zyl se derde misdaadriller, ‘Bloedsteen’, blits van Londen tot Antwerpen, Hermanus tot Port Nolloth, en systap die hebbelikhede wat Jonathan Amid in haar eerste twee boeke gepla het.

Irna van Zyl Foto: Joanne Olivier

Bloedsteen deur Irna van Zyl. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Met ’n klomp klapper-intriges en spanningslyne wat teen ’n sneltrein-pas voortdonder, beter karakterontwikkeling, uitstaande navorsing en ’n eksieperfeksie uitvoering van tydlyne en tydspronge sorg Irna van Zyl dat haar derde Storm van der Merwe-riller deurgaans lees as haar beste tot nog toe.

’n Mens wil hierdie afgeronde, dinamiese misdaadroman wat die skrywer hopelik talle nuwe aanhangers sal besorg, eintlik nie met die werk van ander plaaslike misdaadskrywers óf haar eerste twee romans vergelyk nie, maar wees gewaarsku: Bloedsteen gaan sorg dat monde behoorlik oophang en naels die kopvel met reëlmaat oopkloof.

Die derde roman gee ’n veel meer oortuigende wending en tekstuur aan die krapperige verhouding en halfgebakte romanse tussen Van Zyl se vars vroulike protagonis, speuradjudant Storm van der Merwe, en dié se taamlik patetiese alko­holiskollega Andreas Moerdyk. Die skrywer het duidelik hier ’n sweet spot vir haar speurfiguur raakgeskryf, want die Storm wat ’n mens in Bloedsteen aantref, is die mees genuanseerde, geloofwaardige, menslike en onthoubare weergawe tot nog toe, waarskynlik omdat Van Zyl die karakter tot in haar diepste wese as mens ruk. Vir my is Moerdyk, nou ’n privaat speurder, ook veel sjarmanter en mensliker as in die eerste twee boeke, en die ontluikende verhouding tussen die twee word met volwassenheid en funksionele intelligensie aangepak.

‘Bloedsteen’ gaan sorg dat monde oophang.

In die uitstekende openingshoofstuk beleef ons hoe Storm se flambojante ma, Rowena, op Paddington-stasie in Londen voor ’n trein ingestamp word. Die skuldige is nog ’n onthoukarakter, Vasco Galant, oftewel die Whitey van Worcester of die Worcester Aspoester. Hoekom Rowena die teiken was van Galant se besonderse soort persoonlike aandag, en hoe Storm naderhand ook ’n teiken word, is een van die vele maniere waarop Van Zyl haar Storm-karakter help om in statuur te groei.

Bloedsteen ondersoek wat dit beteken om binne en buite verskillende institusionele wêrelde en stelsels te funksioneer. Wat beteken dit om ’n uitskieter uit ’n klein of arm gemeenskap te wees? Hoe word roem en rykdom versoen met die omstredenheid oor menseregte, vervaardiging, omgewingsbewustheid of die debatte rakende kuns en kultuur? Wat gebeur met familie wanneer albei ouers se oordeel onder verdenking geplaas word, en wanneer korrupsie van binne die SAPD-stelsel en die tentakels van sakewêreld-korrupsie so ver strek dat skynbaar niemand daarvan kan ontsnap nie?

Hoe word arm gemeenskappe – mank aan hoop en platgeslaan deur werkloosheid en swak dienslewering – uitgebuit deur die priesters van vooruitgang en die kaal keisers van ryke wat nooit sal bestaan nie? Wat beteken dit om te sê jy is werklik in diens van ’n beter Suid-Afrika en hoekom is dit so moeilik om ’n wesenlike verskil te maak?

Tussen die vinnige pas van die lewe in Londen, die glans en gemors van die diamantbeurs in Antwerpen, die dramas wat afspeel op Storm se tuisdorp, Hermanus, waar die lyk van die befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper Beebee Bukelwa Babu ontdek word, en die kuslyn van Port Nolloth kom die leser ’n magdom weldeurdagte raaisels teë waarvan sommige op verrassende wyse met ander sub-intriges skakel. Hier beweeg Van Zyl ’n aks nader aan die soort hibriede misdaadverhaal wat Rudie van Rensburg skryf.

En tussendeur die afgryse, humor, verkwikking, vermaak en vele verrassings is daar natuurlik altyd die leser wat moet inkoop op die storie. Anders as in Van Zyl se debuutroman, Moordvis (2016), en sy opvolger, Gifbeker (2018), lees Bloedsteen baie vlot én dit maak korte mette van die hebbelikhede van sy voorgangers.

Ek het destyds taamlik langtand aan Moordvis (2016) gelees. Die kombinasie van witdoodhaaie, haaihokduik, perlemoenstropery, korrupsie, ras en klas op die denkbeeldige dorpie Grootbaai was vreemdweg onbevredigend – die prosa dun en dimensieloos, die intrige so-so, die slot flou en vaal, die uitvoerige navorsing en die potensiaal onontgin.

In Gifbeker het die genotvolle “resies teen tyd”-verhaallyn, Van Zyl se liefde vir en skryf oor kos oor baie jare, en haar interessante navorsing oor sampioene beïndruk, maar die roman het steeds verskeie haakplekke gehad in die vorm van geykte stelwyses, ’n tanende spanningslyn en intrige, en die amperse doodskoot – om soveel navorsing op een bladsy in te druk dat dit naderhand soos “info dumps” of slimskryf lyk.

Al het Bloedsteen self enkele klein jakkalsies – ’n raps te veel newe-intriges, herhalende tonele, ’n magdom laat wendings wat net te vinnig te veel opeenstapel – word dit nooit ’n frustrerende rondomtalierit wat ’n demper plaas op die glans van hierdie skitterende derde “steen” nie. Vroeg-vroeg in die jaar kry Irna van Zyl se Bloedsteen dit sowaar reg om my vir ’n ses te slaan.

Bloedsteen is ook as luisterboek beskikbaar by www.audioshelf.co.za met Chris van Niekerk as leser. Annelize Visser se Engelse vertaling verskyn terselfdertyd met die titel Blood Stone.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Irna Van Zyl  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.