Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Misdaadroman ruk jou tot in jou fondamente

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE

Wanneer ’n boek van ’n nuwe, jong stem Marita van der Vyver laat regop sit, kan ’n mens gerus jou ore spits. Met Griet skryf ’n sprokie (1992) het Van der Vyver self behoorlik die tonge los gehad. Mia Arderne se Mermaid Fillet het einde verlede jaar by Kwela verskyn.

Wees gewaarsku, Mermaid Fillet is ’n p**sklap van ’n boek.

En enigiemand wat dié sin aanstootlik vind, moet liewer nie Mia Arderne se indrukwekkende debuutroman lees nie.

Ons het hier te doen met ’n vreeslose jong skrywer wat nie glo aan doekies omdraai nie.

Inteendeel, sy waai die hele bloederige doekie onder die leser se neus rond. Not waving, soos Stevie Smith gedig het, but drowning.

Sommige karakters verdrink inderdaad in die storie – maar nie in onskuldige waters nie.

Mia Arderne

Hulle verstik in menstruele reënstorms wat ’n feministiese Godin op die aarde loslaat wanneer vroulike lywe misbruik word. Die omvang van die bloedreën hang af van die graad van geweld. “Ligte” geweld, indien só iets bestaan, sal net so ’n rooierige misreëntjie veroorsaak. Ernstige geweld verdien ’n volskaalse bloedstorting uit die hemel.

Arderne vat plaaslike letterkunde na ’n plek waar dit nog nie voorheen was nie – en daarvoor verdien sy reeds ’n prys, vir oorspronklikheid, vir dapperheid, vir die vermenging van genres.

Dis terselfdertyd ’n realistiese misdaadroman met ’n stewige spanningslyn en onvergeetlike karakters met byname soos Malnaai en Banggat en Tief, asook ’n storie met verbeeldingryke magiese elemente soos meerminvleis wat ’n meer gesogte smokkelgereg as selfs perlemoen word.

G’n wonder die Godin is die hel in nie.

Maar Mermaid Fillet voer die leser ook mee na regte plekke, geografiese gebiede wat makliker op Google Maps gevind kan word as in die meeste plaaslike romans.

“Every Bellville has a Bellville South”, herinner die Godin ons, “every Rondebosch has an Athlone.”

Arderne se karakters oorleef in die literêr afgeskeepte dele van die sogenaamde Moederstad: Kuilsrivier, Belhar, Ravensmead, Monte Vista, Atlantis.

Buiten Michaela, wat ontsnap het van haar komvandaan en so woke is jy kan met haar toor. Sy lewe hoofsaaklik op Instagram, doen navorsing vir haar meestersgraad in antropologie en beskryf haarself as ’n “polyamorous pescatarian”.

“So a fishy slut?” is haar meer kommin antie se gevolgtrekking.

Die satire is so skerp soos ’n tatoeëernaald, die one-liners so aanloklik soos dun lyntjies wit poeier op glas. (“Letitia was a Gemini – sometimes a gem, mostly a naai.”) Dis geskryf in die Engels van die Kaapse Vlakte, gepeper met Afrikaans en gesout met vloekwoorde en dit lewer ’n onweerstaanbare heksebrousel op.

Daar word nie weggeskram van beskrywings van geweld wat “sensitiewe lesers” (mea culpa) soms sal dwing om die boek toe te maak en eers bietjie joga-asemhaling toe te pas nie. Maar jy kan nogtans nie ophou lees nie, want tussen die geweld deur gooi die taal ook die allerlieflikste liriese draaie, met humor en fantasie as vlugvoetige dansmaats.

Meer oor Mia
Mia Arderne is ’n skrywer van Kaapstad wie se naam al boaan stories in Cosmopolitan, die Mail & GuardianMarie ClaireGQ JapanCity Press en meer verskyn het. Haar skryfwerk ondersoek die politiek van gender, ras, identiteit, seksualiteit en geestesgesondheid. Haar ongepubliseerde debuutmanuskrip was op die kortlys vir die Dinaane-debuutfiksieprys. Mermaid Fillet is haar eerste roman.

Banggat is byvoorbeeld ’n karakter wat gebore word met ’n paar Nike Air Jordan-skoentjies aan die voete en wat ’n lewenslange obsessie met dié handelsmerk se skoene ontwikkel. Banggat is ook ’n karakter wie se gender nooit ontbloot word nie en vir wie die voornaam “hulle” eerder as hy of sy deurgaans gebruik word. (“They wanted to ask people to cal them “they”, but they felt silly doing it. Maybe if they were three years younger and at UCT, it would be easier.”)

Ander karakters is biseksueel, heteroseksueel, panseksueel of aseksueel, en elkeen het ’n bepaalde “ondeug” wat wissel van Malnaai se alkoholisme en Michaela se sosiale angstigheid tot Genuine Ou wat die sonde van vaping pleeg en heeltyd aan e-sigarette suig.

En Grootman se depressie wat selfs tawwe lesers se hart kan laat kraak: “There is nothing a depressive distrusts more than happines. He knew its transience . . . And yet he hoped, with a full chest of futility, that it would last.”

Dalk is die indrukwekkendste van alles wat Arderne in dié boek vermag, die manier waarop sy haar in ’n wye verskeidenheid van karakters se lyf en kop kan indink. Wat die onlangse Booker-pryswenner Bernardine Evaristo vermag het met haar uitbeelding van 12 uiteenlopende karakters in Girl, Woman, Other, kry Arderne reeds in haar eerste roman reg.

Dit laat jou uitsien na wat sy ook al verder gaan skryf.

Om op te som: As jy glo dat goeie letterkunde jou soms pens en pote uit jou gemaksone moet pluk, is dié leesstof noodsaaklik. As jy onskadelike liefdesverhaaltjies verkies, hou verby.

“Dala what you must,” soos die Godin dit stel.

Miskien word die doekom van menstruele storms eendag gelig.

Aan die ander kant, as jy nie weet wat “dala” of “doekom” beteken nie, is dit dalk juis ’n teken dat jy dié eg Suid-Afrikaanse roman behoort te lees.

* Mermaid Fillet kos R260.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.