Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Moderne volbloed verhaal

Jong Volwasse Fiksie (17+)

Oopmond

Jan Vermeulen

LAPA, R200

Dis hoogs onwaarskynlik dat iemand die skrywer van ’n gebrek aan ambisie sou beskuldig.

Inteendeel. Vermeulen – benewens dat hy teen die spoed van wit lig publiseer en deesdae sowel jeugfiksie as misdaadrillers neerpen – vind toenemend ’n indrukwekkende balans tussen wilde verbeeldingsvlugte en karakters wat jou bybly.

Oopmond is nie verniet die wenner van Lapa se jeugromankompetisie nie: As geheel het dit my van meet af aan geboei. My belangstelling in die verhaal van die jong Madeleine Taaibosch, 17, belowende atleet en free spirit, het toegeneem soos die verhaal ontwikkel het.

Oopmond steun sterk op die opheffing van twyfel. Madeleine het sewe maande gelede ’n hartoorplanting gehad. Hoewel atleties begaafd en met ’n sterk oorlewingsdrang is sy alte bewus daarvan dat haar broer op ’n bitter jong ouderdom gesterf het aan dieselfde hartkwaal waarmee sy rondloop, een wat nooit by hom gediagnoseer is nie. Die atmosfeerryke opening op die atletiekbaan lei Madeleine, en die leser, na ’n tipe poort waar daar oor grense en generasies heen ’n aantal hartverskeurende, deernisvolle verhale ineenstrengel.

Ek brand om meer te sê, maar die leser van hierdie resensie sou my dan ’n baie taai klap eerder as oopmondsoen wou gee.

Daar is intense intriges sowel as spanning wat baie behendig beheer word. Soos dit die moderne volbloed jeugverhaal betaam, is daar letterlik verskeie sake van lewe en dood.

Oopmond sal geeneen onaangeraak laat nie. Maar sal dit jou mond laat oophang? The Best of Me deur Nicholas Sparks, Thanks for the Memories deur Cecelia Ahern, en Jodi Picoult se Change of Heart het reeds met soortgelyke gegewens van orgaan- of hartoorplantings en “veelvuldige” lewens lesers diep geraak. Daar is natuurlik ook John Green se The Fault in Our Stars, waarvan Vermeulen se werk gelukkig genoegsaam verskil.

Vermeulen se styl is onopgesmuk, sonder tierlantyntjies, wat dit moontlik maak om avontuurlustig te wees met die plot en die verskillende verhaallyne. ’n Uiters netjiese balanseertoertjie, hoewel mens nie anders as om met Madeleine se bed as “tydmasjien” te dink aan ’n sekere Marty McFly nie. Dis te betwyfel of jong lesers egter die vaagste benul sal hê wie Michael J. Fox is.

Een te veel intrige dalk? Daar is ’n lukrake newe-intrige te make met bendes en dwelmhandel, en Madeleine se verhouding met haar ouer kêrel, Stian, oortuig nie altyd nie. Dié karakter voel met tye geforseerd en vals.

Die uitbeelding van haar ouers se wroeging en bekommernis, en diepe omgee, word egter uitstekend vasgevang.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.