Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Moet ons die ABO nou liefs vir die romansiers los?

Al is Chris Schoeman se deeglik nagevorste ‘Rebel’  oor kmdt. Hans Lötter ’n welkome publikasie, wonder Bill Nasson of ons nie nou die Anglo-Boereoorlog aan die romanskrywers moet oorlaat nie.

Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901 deur Chris Schoeman. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R230.

Die kort, kragtige titel op die rug van Chris Schoeman se jongste boek behoort dadelik die oog te vang van lesers wat die niefiksierakke fynkam vir interessante leesstof. Rebel is ’n uitnodiging aan die verbeelding wat weetgieriges moeilik sal kan weerstaan. Dink maar aan al die klassieke filosofiese ondersoeke, geskiedenisboeke en historiese romans met ewe kort titels wat beloof om jou aan ’n wêreld van passievolle konfrontasie bloot te stel: Albert Camus se L’Homme révolté (Die rebel) (1951), Bandits (1969) deur Eric Hobsbawm, Angus Donald se Outlaw (2009) en vele ander.

Kmdt. Hans Lötter lyk dalk nie soos een van daardie beroemde uitdagende figure wat ’n mens op die verhoog sal verwag by ’n konfronterende toneelstuk oor onreg en rebellie nie, maar die portretfoto op die voorblad van Rebel suggereer tog iets argetipies omtrent hom. Daardie stywe nek en skrefiesoog-parmantigheid behoort dalk aan ’n Kaapse rebel uit 1901 en, soos die voorblad verklaar, ’n Boeremartelaar. Tog kan dit ewe maklik ’n portret wees van ’n Amerikaanse Konfederale rebel uit 1865, of ’n radikale voorvatter van die Ierse Republikeinse Broederskap in 1906, of dalk ’n Frans-Korsikaanse struikrower uit 1912. Hans Lötter se byna mitologiese gesig is ’n strydkreet uit ’n vervloë romantiese era van die daadkragtige individu.

‘Dit kon eindelik lewe of dood beteken...’

Chris Schoeman is ’n produktiewe en eindeloos weetgierige geskiedkundige wat bekend is vir sy gedetailleerde, goed nagevorste en besonder leesbare boeke. Sy jongste publikasie is geen uitsondering nie – meer as 40 van die 220 bladsye word afgestaan aan eindnotas, bronne en ’n register. Die volle verhaal van kmdt. Hans Lötter wat hier vir die eerste keer volledig vertel word, sluit in ’n lys met die name van meer as 160 lede van Lötter se kommando. Dit is waarskynlik meer as wat die gemiddelde leser hoef te weet, tensy hulle ’n Anglo-Boereoorlog-fanatikus is of dalk ’n genealoog wat in die van Vorster spesialiseer. (Nie minder nie as 15 van Hans Lötter se manskappe spog met die van Vorster.)

Rebel bied ’n wydlopende blik op die lewe van Johannes Cornelis Jacobus Lötter – van sy familiewortels in Beiere, Duitsland, sy voorvaders se migrasie na die Kaapkolonie in die 18de eeu toe dit nog onder beheer van die VOC was, tot sy geboorte in die vroeë 1870’s op Somerset-Oos. Schoeman beeld Lötter uit as ’n deurmekaar en wisselvallige karakter, ’n rustelose swerwer wat sy hand aan verskeie los werke – van kroegman tot plaasvoorman – gewaag het. Hy was wortelloos en on­geërg, selfs teenoor sy eie broer, maar dié ongedurigheid het hom “baie goed gepas” vir die rol “wat hy gedurende die Anglo-Boereoorlog sou speel”.

Vir ’n jong man wat in wese ’n opportunis was, het die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 vele geleenthede geskep. Soos vir soveel ander rustelose jong mans het die oorlog wat voorgelê het, ’n avontuur beloof wat ’n mens met albei hande moes aangryp. Maar, soos met alle oorloë, het dit weldra geblyk dit was net ’n illusie. Die oorlog waarin Lötter beland het, was helaas nie die oorlog wat hy hom in sy agterkop verbeel het nie.

’n Paar weke nadat die vyandigheid oorgekook het, het Lötter hom aangesluit by die manskappe by Colesberg aan die suidelike front van die Boererepublikeinse veldtog in die Kaapkolonie. Vroeg in die daaropvolgende jaar het hy hom in republikeinse gebied bevind en hom toegespits op vyandige invallers in die omgewing van Bloemfontein en Kroonstad. Teen die einde van 1900 was hy terug in die Kaap, nou deel van kmdt. Pieter Kritzinger se magte wat moeilikheid gemaak het vir die Britte op plekke soos Graaff-Reinet en Cradock. Lötter het in die vroeë maande van 1901 teruggekeer na die suidelike Oranje-Vrystaat. Nadat hy tot die rang van kommandant bevorder is, het hy en sy kommando ooswaarts beweeg om hulle weer by Kritzinger en sy manne in die Kaap aan te sluit.

Ná verskeie skermutselings met die vyand was ’n Britse leërafdeling in September 1901 tussen Cradock en Graaff-Reinet warm op die spoor van Lötter en sy mederebelle. Hulle het hard en moedig geveg, maar moes uiteindelik die knie buig voor die blitssnelle, uiters bekwame kol. Harry Scobell, wat Lötter as ’n “uiters gevaarlike man” beskryf het. Lötter was aansienlik minder vleiend oor sy opponent, wat hy brommend “daardie bogger Scobell” genoem het.

Schoeman skilder ’n insiggewende prentjie van al die gebeure en werp lig op die persoonlike en openbare aspekte van Lötter se lewe en dade. Hy fokus nie uitsluitlik op die strategiese konteks van die streeksfase van die oorlog nie, maar wys ook watter ingrypende invloed alledaagse faktore soos geografie en die weer op dié oorlogdrama gehad het.

Die hooftema van die boek – die tragiese verhaal van ’n Kaapse rebel – kom in die laaste derde van die boek aan bod. Lötter het in Graaff-Reinet tereggestaan op aanklagte van hoogverraad, roof en moord. Onder sy slagoffers was Britse soldate asook twee swart Britse koloniale onderdane. Soos Schoeman verduidelik, het Lötter se skuldigbevinding of nie van een kardinale oorweging afgehang: Was hy ’n Britse onderdaan van die Kaapkolonie of ’n Vrystaatse burger? Die antwoord op dié vraag sou bepaal of Lötter sou oorleef of nie, want “dit kon eindelik lewe of dood beteken”, soos dit in Rebel gestel word.

Om sy bas te red, het Lötter daarop aangedring om as Vrystaatse burger erken te word, al het sy naam op die Colesberg-kieserslys verskyn. Sy vrotsige verweer dat dit ’n geval van persoonsvergissing is aangesien sy volle naam nie op die kieserslys verskyn nie, was glad nie oortuigend nie. Hy is skuldig bevind aan hoogverraad en in Oktober 1901 by Middelburg tereggestel. Só het hy hom in die dood aangesluit by daardie ander prominente Boererebel en -martelaar kmdt. Gideon Scheepers, wat ook deur ’n Britse vuurpeloton tereggestel is.

Wat is Lötter se nalatenskap, behalwe die voor die hand liggende as mindere Afrikaner-oorlogsmartelaar? Aan die een kant het hy die Engelse pro-Boer-skrywer Olive Schreiner tot poësie gedryf, aan die ander kant het die Britse pers hom vervloek . . . Uiteindelik het Lötter ’n seremoniële oorblyfsel of aandenking geword wat albei kante vir hulleself opgeëis het. Rebel is ’n welkome, besonder leesbare toevoeging tot wat voel na ’n eindelose stroom van Anglo-Boereoorlog-geskiedenis. Hopelik bereik ons in ’n stadium die punt waar ons dié oorlog oorlaat aan die romanskrywers.

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.