Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Monde loop oor van die Camino

Met ’n lied in die hart of met wroegende gedagtes, talle is op dié pelgrimstog, skryf Herman Jansen.

Elders: My 1 025 km te voet langs die Camino (Queillerie, R270) deur Erns Grundling, en Ons Camino: ’n Spaanse avontuur deur Pienkes du Plessis (privaat uitgegee, R295, beskikbaar in boekwinkels en by www.onscamino.co.za).

Drie Afrikaanse skrywers het die afgelope paar maande hul stapervarings op die Camino (Spaans vir “weg”), die eeue oue Katolieke pelgrimsroetes in Noordwes-Spanje, verewig.

Twee het dit in boekvorm gedoen en een in ’n blog.

En dit het ’n gefladder in die Afrikaanse skrywerswêreld veroorsaak. Amper ’n bokskryt-light van: “Helpers uit die kryt! Roooonde nommmmer eeeen!”

Een “skeidsregter”, NB-Uitgewers, word in party kringe daarvan beskuldig dat daar vooraf besluit is wie die wenner sou wees.

Die stapper wie se hand in dié bloedlose “boekkryt” gelig is, is die Weg!-joernalis Erns Grundling, destyds 35 jaar oud.

Sy boek, Elders, is uitgegee deur Queillerie, ’n druknaam van NB-Uitgewers.

NB-uitgewers het nee dankie gesê vir die Camino-verhaal van Pienkes du Plessis, wat 80 was toe hy dit gestap het.

Én ook nee vir die gesoute joernalis Jeanne Els se vertellinge.

Asof die Camino-kryt nie vol genoeg is nie, is Willem Malherbe se Die Camino: churros en chirurgie, wat in 2013 die eerste keer uitgegee is (privaat), ook weer beskikbaar.

Gevra oor dié besluit het Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, gesê: “Dis nie so dat daar presies op dieselfde tyd ’n verskeidenheid boeke aan ons voorgelê is en ons tussen projekte moes kies nie.”

Stoffer sê die aard en gehalte van die skryfwerk en of dit tot genoeg lesers sal spreek om die “projek haalbaar te maak”, speel ’n rol. “Ons vra Erns Grundling al jare lank vir ’n boek omdat hy so ’n wonderlike skrywer is . . .”

En die man kán.

Só beskryf hy sy gewaarwordinge op die Camino-martelpad ná drie weke se stap: “(Ek) begin die stilte koester . . . om te luister na my asemhaling, die voëlgeluide en die ritme van my stapstokke . . . die lente om my te ruik en die soutsmaak van ’n sweetdruppel te proe.”

Maar Du Plessis, ’n bekende skrywer van veral jagstories, ken ook sý vak. Hy en sy vrou, Lizzie (toe 79), het van 13 tot 30 April 2015 330 km van León in Spanje tot by Santiago de Compostela gestap.

Hy het Ons Camino, ’n Spaanse avontuur einde verlede jaar uiteindelik self uitgegee. Die digter Daniel Hugo noem dit “ ’n heerlike leeservaring” in ’n kennersmening wat Du Plessis aangevra het. Hugo beveel dit “met groot vrymoedigheid” aan vir publikasie.

Ondanks ’n pasaangeër en ’n probleemknie vat dié lewensgenieter die pad met ’n lied in die hart en ’n vlymskerp vertellerpen. Só beskryf hy die drywer van die “€14-rugsaktrokkie” wat hul rugsakke tussen Camino-herberge aangery het: “ ’n Ronde man. Let wel, nie ’n gewone ronde kêrel nie. Hierdie een met ’n propperste ronne lyf met ’n ronne kop bo-op sy ronne lyf. Maar die ene vriendelikheid. Jy sien net tanne.”

En sy skets van die Cruz de Ferro (Ysterkruis) waarheen pelgrims al eeue lank klippe van allerhande grotes aandra om dáár neer te lê: “ ’n Klip uit Amerika se rotswoestyne, of uit Rusland se steppe, Skotland se hooglande of Oostenryk se Alpe. Al die klipoffers kry hier ’n rusplek.”

Du Plessis, ’n “diep oortuigde ongelowige”, geniet elke oomblik langs die Katolieke pelgrimsweg. Hy beskryf dit as “een van die grootste geestelike en fisieke belewenisse van ons hele lewe”.

Grundling – “ ’n volslae twyfelaar” – se tog op die pelgrimspad was veel verder. Hy het die hele “Franse Roete” van Saint-Jean-Pied-de-Port af in die Pireneë gestap.

Dit is die gewildste van die talle roetes na Santiago waar die apostel Jakobus glo begrawe is (sien voetnota).

Van Saint-Jean-Pied-de-Port na Santiago is ongeveer 790 km, maar Grundling het aangestap na Cabo Finisterra aan die Atlantiese Oseaan wat in die Romeinse tyd as die einde van die aarde beskou is.

Camino-fynproewers sê dís eintlik die eindpunt van die pelgrimstog.

Uiteindelik het Grundling ’n hele 1 025 km ver gestap, fikser as ooit en omtrent 10 kg ligter.

Dít was ’n persoonlike triomf ná ’n krisistyd in sy lewe, veral oor ’n verpletterende, pas verbreekte verhouding.

Hy was só gatvol vir reisartikels skryf by Weg! dat hy nie oor sy tog van 40 dae – tot 14 Junie 2015 – wou skryf nie.

Hy was ook op ’n “digitale detoks” deurdat hy sy selfoon en skootrekenaar in Parys gelos het.

Gevolglik is Elders se foto’s vaal swart-en-wit afdrukke sonder onderskrifte. Ons Camino, aan die ander kant, is vol puik kleurfoto’s met volledige onderskrifte.

Du Plessis se oog is heeltyd doer voor op die uitmergelende, dikwels steil en modderige stappad gefokus. Grundling se boek stap weer so ver terug op sy (betreklike jong) lewenspad as vorentoe.

Van sy skryfwerk is vreksnaaks.

Hy is alewig laat, sê hy. Dié nuk (volgens sy ma ’n familiekwaal) bruis deur sy are.

Hy skryf een van sy ooms was so lui dat die familie besluit het om hom lewend te begrawe. Maar toe sy geliefdes hulself op pad graf toe bedink, protesteer die oubaas uit die kis: “Aan met die lyk!” skree hy.

Dít word ’n kostelike mantra wat Grundling op sy tog uitskree om die doodsmoegheid en pyne te probeer besweer: “Aan-met-die-lyk”!

Maar Elders het ook ontboesemings wat onvanpas is, en jou half ongemaklik laat.

Wil jy regtig in ’n boek oor die Camino hoor dat Grundling bang was dat hy dalk op 24 die oudste maagd in die Wes-Kaap was? Of van die dagga-eksperimente van sy jonger dae?

Hy skryf oor die swart hond van depressie in die familie. En van ’n skelm oom wat met die berugte Vito Palazzolo deurmekaar was.

Selfs sy eerste haikoe-poging op skool!

Aan die einde is hy nes Henry David Thoreau (maar één van tientalle groot geeste van Boeddha tot Leonard Cohen wat hy aanhaal) self “heeltemal verslaaf aan stap”.

“Die Camino is die grootste geskenk wat ek aan myself en die mense vir wie ek lief is, kon gee,” som hy sy gevoelens op.

“Ek moes vir ’n lang ruk weggaan en elders wees voor ek weer kon tuiskom by myself.”

Du Plessis was net so diep getref. Hy sê op pad terug huis toe met die trein van Santiago af het hy en sy vrou lank nie gepraat nie.

“Want die Camino praat met óns. Dit vertel van die steilste bulte, die natste dae. Van stukkende lywe en brandvoete en lywe wat pyn.”

Die twee Camino-boeke is so verskillend soos die plat Meseta-streek en die mistige berge waar die Cruz de Ferro 1 504 m bo seespieël uittroon op die Camino se hoogste punt.

Dis Du Plessis, die vrolike huppelkind – met talle diep, roerende oomblikke, teenoor die dink-wroeg-ontleed-verwerk-gestoei van Grundling.

Maar uiteindelik sal boekverkope sekerlik die “wenner” bepaal.

“Gee vir daai man ’n Bells!” sal die een hoor.

En die ander (dié stap-boerpot!): “ ’n Johnnie Walker (Black) vir daai man!”

  • Die Camino se opbloei

Die beendere van die apostel Jakobus is volgens Katolieke oorlewering in 831 gevind in die omgewing van die huidige Santiago de Compostela waar dit nou ’n finale rusplek in die katedraal het.

Honderdduisende pelgrims het daarna die roete daarheen aangepak, maar in die die 20ste eeu het die stroom opgedroog.

Pienkes du Plessis skryf dit toe aan oorloë en “die sterk toenemende invloed van rasionalisme en sekularisme”. Hy sê in 1991 het net 640 peregrinos (pelgrims) die Camino voltooi.

Maar toe was daar weer ’n ommekeer en tans onderneem meer as 200 000 mense per jaar die tog.

Syfers wat Du Plessis by die Confraternity of St. James (CSJofSA) gekry het, dui daarop dat tussen 600 en 700 Suid-Afrikaners jaarliks die Camino stap.

Die Spaanse konsulaat in Kaapstad raai minstens die helfte is Afrikaans, sê Du Plessis.

  • Herman Jansen is ’n voormalige adjunkredakteur van Rapport en het verlede jaar self 330 km van die Camino van León af gestap.
Meer oor:  Erns Grundling  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.