Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Monster uit middestad se bloederige wraak

Misdaadfiksie

Zola

Johan Jack Smith

PENGUIN, R265

Schopenhauer skryf in On the Suffering of the World: “The life of an individual is a constant struggle […] He discovers adversaries everywhere, lives in continual conflict and dies with sword in hand.”

Pessimisme, filosofies gesproke, is die uitgangspunt dat die wêreld so boos moontlik is; dat die bose uiteindelik triomfeer oor die goeie. Wanhopigheid word al hoe moeiliker afgeskud in die aangesig van onsekerheid, ongelykheid en onverdraagsaamheid. Maar, dan die ander kant van die muntstuk: “The night is darkest just before the dawn.” Misdaadfiksie, spesifiek speurverhale, diagnoseer, dans met duiwels, stoei met sondes. Ten slotte is daar altyd hoop. Pessimisme word besweer. Die hemelruim is pikgitswart; kyk hoe flonker die sterre.

Johan Jack Smith se krimi-debuut arriveer ná belowende skrywes in Nuwe Stemme 6 en Op die spoor van (albei 2017). Daar is inderdaad hoë verwagtinge van hierdie debuutroman. Uit die staanspoor: ’n bliksem van ’n boek, hierdie.

Binne die labirint sluimer die volgende gegewe: ’n reeksmoordenaar teiken jong meisies. Moord is onvoldoende – hul liggame word grusaam geskend, kodes in lywe ingekerf. Die “monster” neem wraak, sy slagoffers is middele tot ’n groter doel: om ’n vreesaanjaende boodskap te stuur. Sonder om die tekstuele bloedstrepe weg te vee of die spreekwoordelike bewysstukke te kontamineer, het ons hier ’n verhaal waar noodwendigheid seëvier. Apartheid se donkerste dae word gewreek. Die hel is behoorlik los, en dit spook sake uit in ’n bloedrooi taxi.

Soos met die rolprent Seven – myns insiens ’n groot invloed – is die speurfigure uitgelewer aan kragte veel groter as hulself. Die doolhof is duister en oorweldigend, die monster tartend.

Misdaadfiksie, spesifiek speurverhale, diagnoseer, dans met duiwels, stoei met sondes.

As leser word jy nie toegelaat om van die nagmerrie wakker te word, of om van die rit af te klim, voordat die volle, gruwelike implikasies uitstulp nie. Vroeg reeds word die aas oor die moordenaar se identiteit gegooi. Systrate, afdraaipaaie, doodloopstrate volop.

Zola – gepeper met fyn gekalibreerde formulerings, wrang, bitter humor, heerlik idiomatiese dialoog en oortuigende interaksies, beeldspraak vol melancholiese meegevoel, en geweld wat jou maag behoorlik laat draai – maak vier riskante narratiewe skuiwe.

Eerstens die insluiting van twee duidelike speurfiguur-hoofkarakters. Om die beurt word op elk se eie gedagtewêreld, lewensbeskouing en agtergrondverhaal gefokus.

Kaptein David Majola is die meer opsigtelik gefolterde senior: swart, met ’n ma en suster wat krepeer in die township, ’n alkohol- en dwelm-probleem, en die tergende gevoel dat Kappie, sy gewese senior, iets met die moorde te doen het.

Adjudant Jason Basson, wit, getroud, pa, bek blitsvinnig en vuiste vurig, sukkel om onder die skaduwee van sy rassistiese polisieman-pa uit te loop.

Albei karakters skitter, en word oortuigend lewe gegee deur Smith. Gebreke ten spyt is hulle steeds simpatiek. Daar word egter, keer op keer op keer, stilgestaan om weer agtergrond (en dikwels dieselfde gegewens) op te soek. Interessant, ja, maar dit breek die vloei, en is soms steurend. Anders gestel: Smith gee soveel lyf aan die lewensverhale van sy twee speurders as wat die meeste ander skrywers in dié genre in ’n hele reeks doen. Ek het baie respek daarvoor; prakties is dit nogal problematies.

Hoewel die ontstellende rit nie noodwendig ontspoor nie, is ’n gestroopte, minder-is-meer benadering dalk eerder die goue middeweg.

Tweedens word ’n reusegetal sub-intriges in die verhaal ingewerk: die meeste treffend, ’n paar oordadig. Deon Meyer se Orion is dalk die gepaste geesgenoot. Daar is te veel drade om hier te noem, vir seker, maar tog iets om vir die volgende roman in gedagte te hou. So is daar byvoorbeeld ’n baie teer, uiteindelik tragiese verhaallyn wat Basson betrek, maar latere wendings met Majola stapel so op dat dit eenvoudig een te veel word. Vermoeiend. Uitputtend. Een spesifieke toneel, met ’n dubbel-moord op twee minder aangename karakters, is doelbewus oordrewe, maar voel goedkoop en uit plek uit in so ’n andersins stemmingsvolle roman.

Derdens word die Goudstad as tipe karakter ’n poëtiese, breek-jou-hart-in-duisend-stukkies-agtergrond vir ’n verhaal wat ’n diepe vertwyfeling oor die mens en sy stryd teen die bose openbaar. ’n Gebroke stad, met gebroke mense. Wees bedag op die glinster tussen al die rommel; vlietende hoop verswelg deur haat en woede.

Vergelykings kan wel verhelderend wees: dink aan Andrew Brown se Coldsleep Lullaby en Solace, NR Brodie se Knucklebone, en Richard Kunzmann se Bloody Harvests. Smith se aanslag herinner my baie aan die Skandinawiese swaargewigte Henning Mankell en veral Arnaldur Indridason. Boeiend, broeiend. Die mense broos. Die landskap ongenaakbaar.

So ’n omvattende mistroostigheid kulmineer in Zola met een van die mees verwoestende, onderspeelde slottonele in die ganse plaaslike krimi-katalogus. In ’n pakkende roman vol constant struggle en continual conflict, waar hoof- en newe karakters as ’t ware swaard in die hand veg om oorlewing, word lesers doelbewus nie ’n gelukkige einde gegun nie. ’n Skrywer wat enduit met sy somber visie volhard.

Hoewel die ontstellende rit nie noodwendig ontspoor nie, is ’n gestroopte, minder-is-meer benadering – vir sowel inkleding van gegewens as die oorweging van sub-intriges – dalk eerder die goue middeweg vir hierdie begaafde skrywer. Martin Steyn het gewis kompetisie.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Johan Jack Smith  |  Zola
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.