Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Monument vir ’n merkwaardige man

‘Jan Smuts: Son of the Veld, Pilgrim of the World’, wat pas in Engels verskyn het, is waarskynlik die laaste vakkundige monument van dié omvang wat vir dié omstrede soldaat-staatsman-genie gebou is – en dit het in die inperkingstyd aan Bill Nasson veel plesier verskaf.

Die Britse premier, Winston Churchill, en veldmaarskalk Jan Smuts by Victor Lampson, seun van sir Miles Lampson, Brittanje se ambassadeur in Egipte en Soedan, in die Britse ambassade se tuin in Kaïro in Augustus 1942. Foto: Getty Images

Jan Smuts: Son of the Veld, Pilgrim of the World onder redaksie van Kobus du Pisani (hoofredakteur), Dan Kriek en Chris de Jager. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R450.

Biografieë oor groot staatsmanne word nie meer as wêreldgeskiedenis beskou nie. Eens op ’n tyd is vername lande se politieke supersterre op kwistige wyse gevier – dink maar aan die lewe van Winston Churchill of John F. Kennedy.

In die onseker tye waarin ons leef, is ons minder besorg oor watter impak magtige mans op hul omstandighede het, en meer gemoeid met die impak van die omstandighede op die leiers. Die geskiedenis kan daardie reuse wat eens aan die voorfront geveg het, aansienlik kleiner laat lyk.

Nietemin, al wentel die geskiedenis van die wêreld dalk nie meer om die lewe van die grotes nie, verdien die kokkedore sekerlik dat hul lewensgeskiedenis opgeteken word. Wanneer ’n mens die 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis in sy geheel beskou, staan Jan Smuts soos ’n paal bo water in die voorste linie van die plaaslike politiek en nasionale mag, maar ook in die skitterveld van internasionale staatsmanskap.

Sommige SABC3-kykers sal dalk onthou Smuts het in 2004 net agter Nelson Mandela in die toptien geëindig nadat ’n TV-stemming gehou is om die “100 merkwaardigste Suid-Afrikaners” aan te wys. Hoewel daar nie in die onlangse dekades veel oor hom geskryf is nie, het hy skynbaar as prominente figuur voortgeleef in die nasionale geheue. Maar om Smuts in die héde behoorlik te verstaan het jy perspektief en proporsie nodig.

Wat kontemporêre lesers soek, is ’n vars blik op sy lewe wat hulle in staat sal stel om sy ongekende historiese belang in oënskou te neem, een wat ’n basiese vraag stel: Kan ons die ontstaan en opbou van ’n moderne Suid-Afrika sónder hom verstaan?

Hy is die verpersoonliking van die fier, regop, sober man in teenstelling met sy vurige aanhanger Winston Churchill, wat lief was vir alkohol en dobbel en roekeloos met ander se geld omgegaan het.

’n Meer onlangse, redelik bondige en leesbare antwoord is Richard Steyn se Jan Smuts: Unafraid of Greatness (2015). As ambisieuse man wat die meeste gemaak het van sy talente en indrukwekkende prestasies, sou die subtitel sekerlik sy goedkeuring weggedra het.

Hy sou stellig ook te vinde wees vir die subtitel van die boek onder bespreking, Jan Smuts: Son of the Veld, Pilgrim of the World. Met ’n hoofredakteur, twee adjunkredakteurs en 15 individuele medewerkers kan hierdie omvattende vakkundige werk van digby 600 bladsye (met 45 bladsye eindnotas, ’n uitgebreide bibliografie en ’n paar fassinerende illustrasies) beskryf word as ’n enorme monument vir Smuts en sy nalatenskap.

Die publikasie getuig van buitengewone ywer en toewyding en sluit in ’n gedetailleerde chronologie van sy lewe (1870-1950), asook ’n lys van sy merkwaardige klomp Britse en ander internasionale eerbewyse – veel meer as wat hom in Suid-Afrika te beurt geval het. Party is voorspelbaar, soos sy Afrika-diensmedalje 1939-1945, en ander ongewoon, soos dat hy in 1947 ’n genoot van die Royal College of Obstetricians geword het.

Dit lyk of absoluut niks vir Smuts te veel was nie. Kon dié soldaat-staatsman-genie sowaar nog tyd in sy besige skedule inruim om in die geheim Britse vroue in kraam by te staan?

Op ’n meer ernstige noot voel die boek se gesaghebbende uitbeelding van Smuts se openbare en professionele lewe soms soos ’n baie lang inskrywing in die een of ander nasionale ensiklopedie. En in die gebruiklike styl van sulke ontledings is dié nuwe portretstudie diskreet en sonder enige onthullings oor Smuts se private lewe en persoonlike passies. Hy is die verpersoonliking van die fier, regop, sober man in teenstelling met sy vurige aanhanger Winston Churchill, wat lief was vir alkohol en dobbel en roekeloos met ander se geld omgegaan het.

Dié versameling bied so ’n eerlike, meestal bekende weergawe van die Smuts-verhaal dat nog ’n Smuts-werk van hierdie omvang oorbodig sal wees. Die boek fokus op Smuts se indrukwekkende bydraes tot sy wêreld en is tematies in vier verdeel. Die eerste tema is Smuts se eersteklas- akademiese brein en die verbysterende veelsydigheid van sy intellektuele prestasies. Ockert Geyser se oorsig herinner ons aan Albert Einstein se opmerking dat Smuts een van net 11 mense ter wêreld is wat sy relatiwiteitsteorie behoorlik verstaan. Dit sê in ’n neutedop als wat nodig is.

Pieter du Toit, Dalene Heyns, Hennie Pieterse en Bronwyn Strydom ondersoek die wetenskaplike en filosofiese sy van ’n man wat sy man kon staan in die veld van botanie, argeologie, evolusie, godsdiens, literatuur en ook hoër onderwys deur die persoonlike rol wat hy in die stigting van die Universiteit van Pretoria gespeel het. Dié besprekings verwys vanselfsprekend ook na Smuts se eksentrieke, filosofiese obsessie met die Weltanschauung (wêreldbeskouing) van “holisme” as ’n konsep “om die misterie van die heelal te verduidelik”. Du Toit laat reg geskied aan Smuts se najaging van dié mistieke hokus-pokus, maar is min beïndruk met die pretensie.

In afdeling B, “The Military Smuts: Commander in Three Wars”, ondersoek Fransjohan Pretorius en Andre Wessels sy ervarings en hoe hy die leer geklim het in die Anglo-Boereoorlog en twee Wêreldoorloë. Hul bydraes weerspieël Smuts se voortdurende gekonkel en kundigheid in hierdie globale struwelinge, asook sy lewenslange voorliefde vir militêre sake.

Daar word verder gesuggereer dis eintlik g’n verrassing nie dat Smuts homself getransformeer het van Boererepublikein en vyand van die Britse Ryk tot Anglo-Boereoorlog-versoener en iemand wat later duidelik verbind was tot die Britse imperiale saak.

In die sewe hoofstukke van die derde afdeling bekyk Gert van den Bergh, Kobus du Pisani, Pieter Labuschagne, Dan Kriek, Geyser, At van Wyk en H.D.G. Viljoen Smuts se vordering op die glibberige leer van partypolitiek en regering. Van sy vroeë betrokkenheid in die staatsdiens van die Zuid-Afrikaansche Republiek tot sy laaste besige en moeilike jare as eerste minister het Smuts die middelpunt van die aandag gebly, immer gevul met die brandende begeerte om aan te voer en te regeer.

Hierdie weergawe werp lig op hoe hy amper altyd die oorwinnaar was in die magspeletjies wat hy gespeel het en deel besonderhede oor sy praktiese begrip van die gereedskap van staatsbou. Die boek probeer verder ’n gebalanseerde maar nie heeltemal oortuigende verduideliking nie gee van die berugte platskiet-politiek-kant van sy karakter.

Al daardie betogers en rebelle wat in die 1920’s in die vuurlinie was, soos die wit mynwerkers en die landelike swart Christene, het teen ’n gevaarlik beslissende opponent te staan gekom. Smuts het besluit om so genadeloos maar doeltreffend moontlik met die moeilikheidmakers af te reken en dan terug te keer na die gewone sake van die dag, ofte wel die wêreld van hoë politiek met sy eindelose politieke kinkels en draaie.

Die boek ruim ook genoeg ruimte in vir sy groot verskeidenheid dansmaats – van “Botha en Smuts” tot “Smuts en Hertzog” en “Smuts en Hofmeyr”.

In die laaste deel, oor Smuts die staatsman, bespreek Dan Kriek, James Barber, Deon Geldenhuys, Christof Heyns en Willem Gravett sy betrokkenheid by wêreldsake en sy visioenêre honger na ’n nuwe, beter wêreldstelsel gegrond op “ ’n nuwe gees van mededeelsaamheid en menslikheid”.

Hierdie essays beskou Smuts in terme van die dinge wat vir hom amper geloofsartikels geword het: kwessies van oorlog en vrede; ’n regverdiger internasionale orde met bemiddeling deur die Britse Statebond, die Volkebond en later die Verenigde Nasies; en ’n beginselvaste stelsel van internasionale reg en menseregte. Dit was natuurlik nie sonder ironie nie, want, soos die skrywers tereg opmerk, het Smuts se dade wat gelyke regte en vryhede tuis betref, nie mooi gestrook met die woorde wat hy oorsee verkondig het nie.

Hy was tot die bitter einde ’n paternalistiese “voorstander van wit oorheersing en rasseskeiding”, maak nie saak wat die Nasionale Party in die 1948-verkiesing oor sy liberale neigings beweer het nie. Om te vra of hy “moontlik ’n rassis” is, soos dié boek op die omslag doen, is soos om te wonder of die pous Katoliek is.

In ’n skerpsinnige inleiding en slotwoord wat hard probeer om nie te vleiend oor Smuts te wees nie, wys Du Pisani en sy mederedakteurs daarop dat die tyd eintlik lankal ryp was vir ’n herbetragting van dié groot en omstrede figuur. Per slot van rekening het “die NP- én ANC-regering dekades lank sy rol as een van Suid-Afrika se uitsonderlikste leiers onderspeel omdat sy sienings nie inpas by hulle Afrikaner- en swart nasionalistiese weergawes van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie”.

Of dit nou as Oubaas Smuts of as Slim Jannie is, sy plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis bly omstrede. Hy is vereer en gehaat, vertrou en gewantrou, bewonder en verafsku, ’n hoë denker en ’n lae opportunis, ’n man wat graag berge uitgestap het, maar ewe graag die kalklig met koning George V gedeel het. Wat was hy uiteindelik?

Jan Smuts bied nie ’n eenvoudige antwoord op hierdie vraag nie. In stede daarvan probeer dit verduidelik waarom Smuts steeds so ’n omstrede figuur is.

Die Afrikaanse weergawe, Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog, het in 2017 by Protea Boekhuis verskyn.

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Jan Smuts  |  Dan Kriek  |  Resensie  |  Biografie  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.