Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Mooi is die lewe – en die dood is mooi

Niefiksie

Wreed én mooi is die dood

Tobie Wiese (samest.)

JONATHAN BALL, R270

Wreed én mooi is die dood kan ’n besondere bydrae lewer om ons stilswye oor die dood te deurbreek en ons help om ons omgang daarmee te normaliseer, skryf André Bartlett.

Dis nogal besonders as ’n mens dit kan regkry om van die bekendste Afrikaanse skrywers en storievertellers in Afrikaans in een bundel byeen te bring. As dit gedoen word deur ’n gesoute joernalis én daar boonop gefokus word op die tema van dood, verlies en die verlange na genesing, dan voorspel dit by voorbaat vir seker ’n boeiende leeservaring.

Dit is inderdaad die geval met die essaybundel Wreed én mooi is die dood, saamgestel deur Tobie Wiese. Wiese het op indrukwekkende wyse die bydraes van ’n klomp uiteenlopende mense (skrywers, joernaliste, teoloë, regsgeleerdes, medici) saamgesnoer tot ’n samehangende eenheid. Dit geskied sonder dwang en binne die raamwerk van ’n losweg gekonstrueerde struktuur wat verskillende aspekte van die tema belig.

Wiese verduidelik in die inleidende hoofstuk die oogmerk met die boek soos volg: “Om die groot stilte oor die dood – die ontkenning daarvan deur swye – te help verbreek.”

Hy praat in dié verband van die dood as die “Groot Kortknipper” wat as “tweede prys” verslae of woedend van die hand gewys kan word, of dankbaar aanvaar kan word om dan daarvolgens te lewe.

In die verskillende afdelings van die boek word daar agtereenvolgens stilgestaan by: die paradoksale aard van die dood (wreed én mooi); die dood as iets waarmee ’n mens gewoonlik reeds vroeg in jou lewe kennis maak; sterwensbegeleiding (ook van mense wat weens aftakeling en erge lyding ’n einde aan hul lewe wil maak); die werklikheid van die dood as iets wat in die oë gekyk moet word; die verlies en verlange wat met die dood gepaardgaan; die proses van rou en heling; humor rondom die dood; godsdienstig-filosofiese beskouings rondom die dood en wat ná die dood gebeur; nabydood- of buiteliggaamlike ervarings, en ten slotte die fisiologie van die dood.

Om die groot stilte oor die dood – die ontkenning daarvan deur swye – te help verbreek.

Dit is uit die aard van die saak feitlik onmoontlik om in die bestek van ’n bespreking soos dié reg te laat geskied aan die vele diepsinnige en ontroerende momente in die boek. Elke bydrae raak ’n mens op sy eie manier en verdien om een vir een aandagtig gelees en herlees te word.

Sommer met die intrapslag word die leser meegesleur deur Karin Brynard se beskrywing van die pynlike stryd vóór, tydens en ná die dood van haar man. Treffend is byvoorbeeld wanneer sy sê: “Hoe stylloos is die dood. Hy pik. Fataal. En seil geruisloos weg na godweetwievolgende. En in sy sleepsel lê daar chaos.”

Of ’n entjie verder oor die ervaring om alleen agter te bly: “Jy is dood, maar ek spook in die huis.”

Soortgelyk is die bydrae van Kerneels Breytenbach waarin hy die rouproses ná die dood van sy vrou beskryf. Hy vertel van sy eerste gewaarwording, ’n uur of wat ná haar dood, “dat alles in ons huis betekenis verloor het . . . die skilderye, die musiek, die kos – was skielik net dit: dinge.” Maar dan, ’n paar dae later, besef hy dat hy “paradoksaal besig is om alles te probeer bewaar soos dit was toe sy laas daarmee te doene had.”

Oor die rouproses sê Kerneels Breytenbach: “Dit is nooit afgehandel nie. ’n Mens leer op die moeilike manier om met dié wete saam te leef…

Oor die rouproses sê hy: “Dit is nooit afgehandel nie. ’n Mens leer op die moeilike manier om met dié wete saam te leef… Ek is nog besig om Carien [sy oorlede vrou] van ons huis te verlos. En ek is ook, danksy die rouproses, verlos van dinge in myself, in my eie karakter, waarvoor ek blind was en wat ek deur die rouproses kon identifiseer.”

Met fyn waarneming, soos altyd, beskryf Dana Snyman in sy bydrae die indruk wat dit op hom as agt- of negejarige seun gemaak het om een van die draers by die begrafnis van ’n baba van skaars drie maande te wees. Hy beskryf die vreemde, beklemmende gevoel wat hom beetgepak het, en al die vrae wat dié kennismaking met die dood by hom wakker gemaak het. Van die dae kort ná dié dood sê hy onthou hy min, maar voeg betekenisvol by: “Dit is klaar te veel.” Niks pla hom nie, het hy destyds op ’n vraag van sy pa geantwoord “al het iets in my geweet ek sou vir die res van my lewe dra aan wat vandag gebeur het”.

Die kwessie van selfdood en genadedood kom ook meermale ter sprake, nie net in die tegelyk boeiende én onthutsende relaas oor die berekende selfdood van die skrywer Karel Schoeman nie, maar ook in die bydrae van Wilhelm Jordaan waar hy pleit vir ’n “breë, openbare en deernisvolle diskoers” gekenmerk deur “groot verantwoordelikheid, deernis, mededoë en sensitiwiteit.”

Myns insiens kan hierdie boek, soos dié van Anton van Niekerk ’n jaar of wat gelede, ’n besondere bydrae lewer om ons stilswye oor die dood te deurbreek en ons help om ons problematiese omgang met die onontkombare werklikheid te normaliseer.

Miskien kan ons dan soos in die slot van Ingrid Winterbach se bydrae aan die einde van die boek huis toe gaan en sê: “Nou weet ek . . . hoe dit voel”.

André Bartlett is hoof van die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Tobie Wiese  |  Boeke  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.