Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
My 3 bestes

‘Weekliks’ het ’n paar skrywers gevra watter drie boeke het die grootste indruk op hulle gelaat.

Eben Venter

Eben Venter se roman Groen soos die hemel daarbo is pas bekend gestel.

Dis moeilik om drie boeke uit te sonder, boeke kom en gaan.

Tans dra ek nog swaar en lekker aan Sebastian Barry se Days without End, die ryk, meesleurende vertellerstem wat die storie van hom en sy broer uitspin, albei jong Iere wat weens die hongersnood op ’n boot na Amerika moes padgee. Hulle maak die reis net-net en meld dan aan as soldate, eers in die oorlog met die Indiane, dan die brutale Burgeroorlog.

Barry se boek is op die Man Booker-langlys vir 2017.

Maar as ek dan drie boeke moet kies, is dit die volgende:

  • W.G. Sebald se Austerlitz. Die vyf jaar oue Jacques Austerlitz word as weeskind in Engeland groot net om baie jare later op ’n ontdekkingsreis na sy verlede in Oos-Europa te gaan. Die noukeurig gekonstrueerde sinne en vervlegting van visuele en historiese momente in Austerlitz se reis sonder Sebald uit as die meesterskrywer van die 21ste eeu.
  • Bruno Schulz se The Street of Crocodiles, een van slegs twee boeke deur die Joods-Poolse skrywer wat in 1942 deur ’n SS-agent doodgeskiet is.

Sy geboortedorp Drohobycz, sy eksentrieke vader die tekstielhandelaar, sy moeder, die huis binne en die strate buite, wat na die kaneelwinkels lei, dit alles word op die mees ontroerende én humoristiese, op die mees fantastiese – in die ware sin van die woord – en simpatieke manier herskep tot ’n weldadige tapisserie wat jy weer en weer wil besoek.

  • J.M. Coetzee se Life and Times of Michael K: Die eenvoud en skoonheid van die karakter Michael, sy lewe en sy gedagtes, teenoor die aanstormende mag van ’n tirannieke staat sal my bybly tot in lengte van dae.

Die storie van ’n uitreis word vertel sonder ’n oorbodige woord, ooit, slegs met die rustigheid én betekenis-geladenheid van Coetzee se uitsonderlike taalbeheersing.

Fanie de Villiers

Fanie de Villiers, of Kleinboer, se derde roman, Hierdie huis, het onlangs verskyn.

Ek is ’n skrywer van fragmente. Dié boek het ontstaan uit die skryf van briewe en joernale.

Daarom word ek geïnspireer deur skrywers wat episodes kan saamvleg om ’n groter geheel te vorm.

Sterk voorbeelde hiervan is Ryk Hattingh se Witskrif, Jeanne Goosen se Louoond en Kurt Vonnegut se Cat’s Cradle.

  • In Hattingh se Witskrifcrash ’n rekenaar op bl. 1 en verloor die hoofkarakter jare se skryfwerk. Hy moet van voor af begin. Hy beloon homself met ’n rytjie kokaïen telkens wanneer hy ’n bladsy voltooi. Hy gaan huur ’n sweismasjien, hy worstel op sy erf, hy mediteer oor sy bome en gaan loop op die heuwel met sy honde. Die verhaal speel af in Bezuidenhoutsvallei, net oor die bult van waar ek in Yeoville woon.
  • Goosen se Louoond is ’n intense storie van ’n vrou met dobermann-honde en hoenders op die erf. Sy luister na Chopin en Maria Callas, dis die klankbaan. Soms sien sy bloed aan ’n dobermann se bek, nog ’n hoender het hartverskeurend gesneuwel. Haar mal buurvrou kom soms kuier.
  • Vonnegut het my gewys hoe mens ’n verhaal met humor kan vertel, dat jy tragedie met komedie kan verlig, dat die lewe bittersoet is. In Cat’s Cradle is die hoofkarakter ’n navolger van Bokononism, ’n absurde religie wat op ’n tropiese eiland ontstaan het.

“Busy, busy, busy, is what we Bokononists whisper whenever we think of how complicated and unpredictable the machinery of life really is.”

Meer oor:  Eben Venter  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.